Só lyk sensusuitslae oor kommersiële boerdery in SA

(Foto: StatsSA)

Die statistikus-generaal van Suid-Afrika, Risenga Maluleke, het Dinsdag die uitslag van Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) se sensus oor kommersiële boerdery vrygestel.

Dit skets ʼn interessante prentjie van ʼn bedryf wat dikwels onder skoot kom. Nou, terwyl paniekaankope te midde van die Covid-19-pandemie die hoogte inskiet, word toenemend na die landboubedryf gekyk om te verseker Suid-Afrikaners het genoeg om te eet.

Die sensus is in 2017 gedoen om behoorlike beplanning en beleidsformulering te fasiliteer en voedselsekerheid te verseker.

(Argieffoto)

Volgens die opname het Suid-Afrika altesame 40 122 kommersiële plase. Altesame 7 951 van dié plase is in die Vrystaat, die provinsie wat naas die Wes-Kaap die grootste inkomste uit kommersiële landbou genereer. Die minste plase is in Gauteng (altesame 2 291 of 5,7%).

Altesaam 46,4 miljoen hektaar grond in Suid-Afrika word vir kommersiële landbou aangewend. Dié syfer verteenwoordig 38% van die land se totale oppervlakte. Die Noord-Kaap het die grootste gedeelte van die land se kommersiële boerderygrond (17,2 miljoen hektaar).

(Foto: Yolandi Kruger)

Net sowat 202 000 mense woon in die yl bevolkte Pixley ka Seme-distrik; maar hulle is nie alleen nie: die provinsie is ook die tuiste van 1,3 miljoen skape – die hoogste konsentrasie landwyd. Van die agt miljoen skape op plase landwyd, word 16% in die Pixley ka Seme-distrik aangetref.

Hoewel skape uiters gewild in dié streek is, is dit nie Suid-Afrika se gewildste diere vir boerdery nie. Hoenders is.

(Argieffoto)

Suid-Afrikaanse boere het in 2017 meer as ʼn miljard hoenders verkoop (in vergelyking daarmee is 3,1 miljoen skape in dieselfde tydperk verkoop) en bykans ʼn derde van alle hoender was afkomstig uit Gauteng (Tshwane) en Mpumalanga (Gert Sibande). Anders gestel: een uit elke vyf hoenders word deur boere in die Tshwane-metrogebied verkoop.

In 2017 was daar 157 miljoen hoenders op kommersiële plase landwyd en volgens StatsSA was hoenders ook die mees verkoopte lewende hawe in Suid-Afrika. Dit word gevolg deur beeste (3,6 miljoen), skape, en varke (2,2 miljoen).

Top-10-diereverkope (hoenders uitgesluit)
1.       Beeste
2.       Skape
3.       Varke
4.       Bokke
5.       Volstruise
6.       Rooibokke
7.       Springbokke
8.       Wildebesste
9.       Koedoes
10.   Perde

Terwyl skaapverkope sedert 2007 gedaal het, het die verkope van beeste en varke sedertdien toegeneem.

Kommersiële landbou in Suid-Afrika genereer ʼn inkomste van R332,8 miljard en 36% hiervan is te danke aan veeboerdery. Dit is ʼn styging van 288% van die R85,9 miljard wat in 2007 aangeteken is.

Nomzamo Khumalo werskaf in ‘n druiwe-verwerkingsaanleg naby Marble Hall in Limpopo. (Foto: Hennie de Beer)

Volgens die sensus speel landbou ʼn belangrike rol in die plaaslike ekonomie en dit is verantwoordelik vir 3% van Suid-Afrika se totale nasionale ekonomiese aktiwiteit. In 77% van gevalle besit boere die grond waarop hulle boer.

Suid-Afrika se grootste tuinbouprodukte is aartappels, lemoene, druiwe en appels.

Die meeste wortels word aan Gauteng se Wes-Rand geproduseer (226 017 metrieke ton), terwyl die meeste beet uit Noordwes afkomstig is.

Die Overberg-streek in die Wes-Kaap produseer 40% van Suid-Afrika se appels, nagenoeg 60% van die land se druiwe kom uit die Kaapse Wynlande, terwyl die pynappel-oes grootliks van die Sarah Baartman-distrik in die Oos-Kaap afkomstig is. Die streek is ook verantwoordelik vir 35% van die land se suurlemoenproduksie.

Veldgewasse is veral belangrik vir voedselsekerheid en dit beslaan ook die grootste gedeelte van bewerkte grond in Suid-Afrika. Die vyf voorste veldgewasse is mielies, suikerriet, lusern, koring en sojabone. Die meeste daarvan word op droëland geplant en ʼn suksesvolle oes is dus afhanklik van genoeg reën.

SA se Top-10-gewasse
1.       Mielies
2.       Suikerriet
3.       Aartappels
4.       Lemoene
5.       Lusern
6.       Druiwe
7.       Koring
8.       Appels
9.       Sojabone
10.   Mielies vir kuilvoer

In 2018 het die kommersiële landboubedryf 757 628 mense in diens gehad, ʼn daling van die 769 594 (-1,6%) wat tien jaar tevore in die sektor gewerk het. Tussen 2007 en 2018 het die meeste werksgeleenthede in die bedryf in Wes-Kaap (-17 516) verlore gegaan, gevolg deur Mpumalanga (-13 572) en die Vrystaat (-10 329).

Die werksverliese is tot ʼn mate teengewerk deur werkskepping in Limpopo (+22 600), Gauteng (+12 003) en die Oos-Kaap (+6 314).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kerneels

Sal interessant wees om te sien hoeveel van al daardie der miljoene hoenders verkoop in SA is ingevoer. So ook vir suiker.

IQMaps

Sal graag wil weet hoeveel grond daar eintlik beskikbaar is vir landbou, dan daarby gesê kan uitvoere vermeerder en die werkloosheid syfer aangespreek word. Ons moet weer ‘n produksie land raak insluitende industrieel eerder as om geld te administreer wat ons nie het nie.

Scalla

Kan dit waar wees dat sonneblom nie onder die eerste 10 gewasse is nie?

Miskruier

Sonder boere is ons honger, naak en nugter!