Só lyk skoolhoofde se dag

dr-danie-brink-en-marlien-van-der-westhuizen

Dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van die SOS, en Marlien van der Westhuizen, navorser by die SOS gee terugvoer oor skoolhoofde se tydsbesteding. Foto: Reint Dykema.

Skoolhoofde aan Afrikaanse skole bestee die meeste van hul tyd aan administrasie, buitemuurse aktiwiteite en dissiplinering van leerlinge. Dit wil egter voorkom of hoofde met meer as 15 jaar ervaring hul tyd meer effektief bestee as hul minder ervare kollegas.

Dít is etlike van die bevindings wat gemaak is na aanleiding van navorsing wat die Skoleondersteuningsentrum (SOS) vanjaar onder skoolhoofde gedoen het. Dié navorsing is tydens die SOS se leierskapseminaar in Centurion bekendgestel, wat deur sowat 153 skoolhoofde en beheerliggaamslede landwyd bygewoon is.

Inligting is ingesamel deur ’n vraelys aan skole te stuur. Altesaam 65 skoolhoofde aan Afrikaanse en parallelmediumskole oor die hele land het die vraelyste voltooi. Hul sekretaresses moes dieselfde vrae onafhanklik beantwoord.

“Uit die inligting blyk dit dat skoolhoofde in Afrikaanse skole lang ure werk en baie verantwoordelikhede het. Daar word egter gereeld van skoolhoofde verwag om betrokke te wees by take wat nie tot voordeel van die skool is nie,” sê dr. Danie Brink, besturende direkteur van die SOS.

Hoofde werk gemiddeld byna 10 uur per dag. Die grootste groep skoolhoofde (42%) werk tussen 9 en 10 uur per dag en meer as ’n derde van hoofde (37%) werk meer as 10 uur elke weeksdag. Slegs 4% van skoolhoofde werk 7 tot 8 uur per dag.

Brink sê die hoeveelheid tyd wat skoolhoofde aan roetinekommunikasie en -administrasie afstaan, is kommerwekkend. Net minder as die helfte (48%) van skoolhoofde het aangedui dat administratiewe take en e-posse die meeste van hul tyd in beslag neem. Volgens hoofde se sekretaresses bestee tussen 80% en 90% van hoofde daagliks tyd aan e-posse en ander administratiewe take. Slegs 2% bestee byna nooit tyd hieraan nie. Ervare hoofde bestee wel tot 20% minder tyd aan administratiewe take, as onervare skoolhoofde.

Die skoolhoof speel ook ’n kardinale rol in die handhawing van dissipline by die skool. In 53% van gevalle is die hoof daagliks betrokke by die dissiplinering van leerders. ’n Verdere 23% is weekliks betrokke, terwyl 2% elke twee weke betrokke is. Minder as ’n kwart (22%) van skoolhoofde is baie selde betrokke by dissipline.

Ervare hoofde bestee egter minder tyd aan dissipline. Een uit elke vyf ervare hoofde (20%) hanteer net ’n paar keer per jaar dissiplinêre sake, terwyl minder as 5% van onervare hoofde dit regkry om slegs ’n paar keer per jaar by die dissiplinering van leerders betrokke te wees.

Die sigbaarheid van die skoolhoof in sy amptelike hoedanigheid, sowel as aanbieder van buitemuurse aktiwiteite, is ’n taak wat ook baie tyd in beslag neem.

“Die skoolhoof se betrokkenheid by buitemuurse aktiwiteite maak geweldig inbreuk op hul beplanning en moet, waar moontlik, afgeskaal word,” sê Brink. ’n Drie-kwart (75%) van skoolhoofde ondersteun skoolaktiwiteite ten minste een maal per week, terwyl 83% van skoolhoofde self betrokke is by die aanbied van buitemuurse aktiwiteite.

“Hoewel daar toenemend druk op skoolhoofde is om betrokke te wees by buitemuurse aktiwiteite, is dit nie noodwendig ten bate van die skool as die hoof alle aktiwiteite ondersteun nie,” sê Brink. “Hierdie tyd moet eerder aangewend word aan ander, meer doeltreffende aktiwiteite.”

Skoolhoofde bestee ook minder tyd aan professionele ontwikkeling as wat hulle self sou wou. Amper ’n derde van hoofde (32%) bestee ’n gemiddelde hoeveelheid tyd aan professionele ontwikkeling. Slegs 6% bestee baie tyd daaraan.

“Professionele ontwikkeling van ’n skoolhoof is van kardinale belang vir die groei van enige skool en skoolhoofde moet met gemak meer tyd hieraan kan bestee,” sê Brink.

Ervare hoofde bestee wel meer tyd aan professionele ontwikkeling. Die helfte van ervare hoofde wat deelgeneem het aan die studie (50%), woon maandeliks opleidingsgeleenthede by, teenoor 44% van onervare skoolhoofde.

Wat wel verblydend is, is die hoeveelheid tyd wat hoofde aan hul personeel wei.

Byna al die skoolhoofde (95%) glo dat hulle proaktief moet wees in die hantering van personeel, eerder as om te wag vir personeel om na hulle te kom. Sowat 79% van skoolhoofde is van mening dat hulle hul kennis met hul personeel moet deel. Die meerderheid van skoolhoofde (80%) voel ook dit is belangrik dat hulle opvolg oor personeelsake.

Volgens hoofde én hul sekretaresses hanteer 94% van skoolhoofde personeelsake daagliks en is dit ook die taak waaraan skoolhoofde besonder baie tyd bestee.

“Die feit dat skoolhoofde die meeste tyd aan personeelsake bestee, bevestig die onderwyskenner Todd Whitaker se siening dat suksesvolle skoolhoofde hul personeel eerste plaas,” sê Brink.

Hier is vyf wenke van ervare skoolhoofde aan hul kollegas:

  1. Die nuwe skoolhoof moet homself tyd gun om aanvaar te word en volhou met sy werk. ʼn Verandering in bestaande werkende stelsels is soms vir onderwysers moeilik om te aanvaar en skoolgemeenskappe en selfs die personeel kan aanvanklik baie krities wees teenoor ’n nuwe skoolhoof.
  2. Om ’n skoolhoof te wees, moet ’n roeping wees en nie net ’n beroep nie. Werksbevrediging van elke personeellid, sowel as die skoolhoof, verseker die sukses van die skool.
  3. Behou altyd perspektief en moenie in die strik trap om te kompeteer met jou buurskool nie.
  4. Fokus op kernwaardes en identiteit van die skool. Geen skool kan alles vir almal wees nie. Werk eerder aan ’n pakket wat inpas by jou skool se visie.
  5. Kies personeel met integriteit en passie en bestee baie tyd aan hulle. Dit is ’n hoof se taak om sy personeelkorps positief en gemotiveerd te hou. Die skoolhoof moet meer luister en minder praat sodat hy werklik sy personeel se hart kan verstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Veer ·

Ek is met ‘n hoof van ‘n topskool in Pretoria getroud en ons statistieke lyk BAIE anders.. en ja ek sê ons want ‘n skoolhoof kan nie los staan van sy gesin nie!

Jimmy ·

Sal graag wil weet hoe lyk die syfers by swart skole. Waarskynlik sal ‘n paar ander items by die lys gevoeg moet word.

Juffrou ·

Daardie warm stoel wil ek vir geen geld ter wêreld op sit nie. Verál Afrikaanse ouers dink mos hulle is almal kenners van skoolsake (dit is mos agv die 12 jaar wat hulle mos op skool was). Ek sou sê skoolhoofde spandeer 40% van hul tyd om na ouers onnodige klagtes van ouers te luister – dinge soos Jannie wat nie die eerste span gehaal het nie “omdat die Meneer nie van hom hou nie …” Skoolhoofde sou baie meer tyd aan belangriker sake kon bestee as ons ouers minder hul kinders in spookasem wou toedraai. Leer eerder die kinders hoe om emosioneel intelligent op te tree en probleme op te los.

Klipindiebos ·

Was daar by die geleentheid ook gepraat oor onderwys-werwing en opleiding? Hoe lyk die rolmodelle wat vandag as onderwysers opgelei word? Daar is baie mooi sake op die wenkelys genoem, maar dit help niks dat dit op skrif staan en dit word nie toegepas nie. Die vrees wat hoofde vandag vir die departement het is seker een van die grootste spanningsgelaaide ervarings. Dit sou my laaste wenk op die lysie aan skoolhoofde wees. Weerhou julle van ‘n oordrewe vrees vir bogenoemde en moenie julle deur hulle houding intemideer nie.

Susna ·

Baie, baie interesant. Ek moet met die een kommentaar hierbo saamstem wat se dat hulle nie op daardie stoel wil sit nie. Ek dink dat dit vandag n hele ander vorm aanneem as jare gelede. Wanneer ek vandag terug kyk op my ervaring van slegs twee hoofdes waarmee my pad gekruis het met my kinders se skool loopbane, Laerskool en Hoerskool dan kan ek net op my kniee gaan en my Hemelse Vader bedank met seker die twee bestes wat daar was. Hierdie mense verdien medaljes wanneer hulle een dag die tuig neerle. Baie dankie aan elke toegewyde Prinsepaal, julle los verseker n goed toegeruste kind en unieke onderwysers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.