Só lyk skoolvakansies vir die res van 2021

Alle laerskoolleerders moet weer op 2 Augustus op die skoolbanke wees. (Argieffoto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het nuwe regulasies in die Staatskoerant aangekondig oor leerders en onderwyspersoneel se terugkeer skool toe. Dít nadat ʼn verlengde wintervakansie weens die derde vlaag van die Covid-19-pandemie ingestel is.

Hiervolgens kan alle skole op 26 Julie reeds begin om leerders te ontvang. Teen 2 Augustus moet álle laerskoolleerders en leerders aan skole met spesiale behoeftes, weer terug by die skool wees.

Ingevolge die regulasies keer skoolhoofde, bestuurspanne en nie-onderwyspersoneel op 22 Julie terug skool toe om voorbereidings te tref vir die terugkeer van leerders.

Onderwysers meld hulle nog nie dan al aan vir diens nie.

SAOU sê ingevolge die regulasies moet 100% van laerskoolleerders (gr. R tot gr. 7), asook alle leerders by skole vir leerders met spesiale behoeftes op 2 Augustus weer op die skoolbanke wees.

“Dit is belangrik dat die geraakte skole steeds aan die nou reeds bekende veiligheidsvoorskrifte met betrekking tot die dra van maskers en sosiale afstand moet voldoen. Indien dit nie moontlik is nie, moet die skoolbeheerliggaam kennis aan die provinsiale departement gee dat dit nie moontlik is om 100% van die leerders in die skool te onderrig nie,” lui ʼn verklaring van SAOU.

Indien dit die geval is, moet die skool aansoek doen om vrystelling.

Hoërskoolleerders sal steeds klasse volgens die rotasiebeginsel bywoon.

Die SAOU sê in hierdie stadium is virtuele bywoning net so doeltreffend as fisieke vergaderings vir personeel wat hulle op 22 Julie moet aanmeld.

“Die huidige gevaartoestande in die land hou vele risiko’s vir personeel in, veral as hulle deur gevaargebiede moet reis,” lui die SAOU se verklaring.

“As alle beplanning by die skool ingestel is vir die terugkeer van leerders kan virtuele bywoning en vergaderings oorweeg word.”

Daar is tans geen verandering aangekondig oor die vakansie tussen die derde en vierde kwartaal nie. Skole sluit dan van 4 tot 8 Oktober.

Skole sluit op 15 Desember weer ná die vierde kwartaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.