Só lyk tesourie se voorstelle vir belastingverligting

Foto: Pixabay

Die tesourie het Donderdag meer besonderhede bekendgemaak oor die beplande belastingmaatreëls wat die regering wil instel om die ekonomie te midde van die Covid-19-pandemie te stimuleer. Dié maatreëls moet nog deur die parlement goedgekeur word en is dus nog nie in wette vervat nie.

In ʼn verklaring Donderdag sê die tesourie die regering besef dat die regulasies met betrekking tot die algehele afsondering ʼn negatiewe uitwerking op die ekonomie gehad het. “Ons het ʼn stel belastingmaatreëls voorgestel, bykomend tot dié wat op 29 Maart afgekondig is, wat sakelui sal help om te oorleef en hul werknemers te betaal.”

Dié voorgestelde maatreëls sluit in:

  • Van 1 Mei hoef sakeondernemings vir vier maande lank nie ʼn vaardigheidsheffing aan die regering te betaal nie. Dié heffing beloop 1% van werknemers se salaris en die tesourie glo die betalingsvakansie sal sakeondernemings help met hul kontakvloei.
  • Werkgewers kry ’n loonsubsidie van R750 per maand vir enige werknemer wat minder as R6 500 verdien. Dié bedrag is ʼn 50% verhoging van die R500 wat die regering in Maart aangebied het. Dié bedrag kan afgetrek word van inkomstebelasting wat aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) oorbetaal moet word.
  • Mense wat geld aan die regering se Solidarity Fund skenk, mag tot 20% van die skenking van hul belasbare inkomste aftrek. Dit is dubbel soveel as die gewone aftrekking van 10% waarop belastingbetalers geregtig is wanneer hulle geld aan welsynsorganisasies skenk.
  • Ondernemings in die alkoholiese en tabak-bedryf kry ʼn 90-dae uitstel op aksyns wat in Mei en Junie betaal moes word. Dit is weens die verbod op die vervoer van alkoholiese en tabakprodukte wat tydens algehele afsondering geld.
  • Groter sakeondernemings met ʼn bruto-inkomste van meer as R100 miljoen, wat kan bewys dat hulle nie in staat is om belasting te betaal weens die Covid-19-pandemie nie, mag direk by die SAID aansoek doen om die betaling van belasting uit te stel, sonder om hiervoor gepenaliseer te word.
  • Maatskappye mag nou tot 35% van belasting op werkers se salarisse, wat maandeliks aan die SAID oorbetaal moet word, terughou. Dit is ʼn verhoging van 15 persentasiepunte op die 20% wat aanvanklik in April aangekondig is. Dié geld moet egter van September oor ʼn tydperk van ses maande terugbetaal word.

Minister Tito Mboweni tydens sy toespraak by die begrotingsrede (Foto: South African Government, Twitter)

Dié maatreëls sal na verwagting bystand ter waarde van R70 miljard bied in die vorm van ʼn vermindering van belasting of die uitstel van belasting wat betaalbaar is. Die tesourie sê deur ondernemings nou by te staan kan verseker word dat die ekonomie in ʼn beter posisie is om te herstel wanneer die gesondheidskrisis afgeweer is.

Suid-Afrikaners sal egter eers later hoor hoe presies Suid-Afrika die R500 miljard vir die verligting van die gevolge van Covid-19 gaan befonds.

Die vonke het Donderdag behoorlik gespat op ʼn virtuele vergadering van die parlement se staande komitee oor finansies toe die nasionale tesourie se hoof van belasting- en finansiële beleid, Ismail Momoniat, deur parlementslede daarvan beskuldig is dat hy nie oop kaarte met die parlement speel nie.

In ʼn voorlegging het Momoniat telkens op vrae van parlementslede aangedui dat die minister van finansies, Tito Mboweni, die tersaaklike kwessies Vrydag op ʼn nuuskonferensie sal verduidelik.

Dit het ingesluit watter staatsdepartemente se begrotings gesny gaan word om die R500 miljard wat pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het vir koronavirus-verligting mee te finansier, en op watter voorwaardes lenings van die Internasionale Monetêre Fonds en die Wêreldbank deur Suid-Afrika verkry sal word.

Mboweni sal Dinsdag tydens ʼn virtuele sittings voor die parlement verskyn.

Geordin Hill-Lewis (DA) en Floyd Shivambu (EFF) het op Momoniat se weiering om vrae hieroor te beantwoord gesê dat hy beslis die antwoord op die vrae ken en dat hy grondwetlik verplig word om dit aan die parlement te openbaar.

Shivambu het selfs verder gegaan deur te sê die EFF dra R8 miljoen per maand by tot die Solidarity Fund en het dus die reg om te weet wat die fonds se reëls oor verkryging van dienste is.

“Daar is reeds sprake dat Bidvest en Imperial bevoordeel word,” het Shivambu gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eerlik ·

Maw…of jy nou of later betaal, betaal sal jy betaal ou maat!!

Wilhelm ·

Kon hulle dit enigsins meer kompleks maak vir ons? Wat van hulle gee net basiese afslag op VAT of inkomste belasting vir die jaar en klaar ?

Kobus ·

Hier is my voorstel.Ons is ongeveer 57miljoen inwoners in SA.Indien die regering aan elke volwassene R1miljoen skenk,dan praat ons van ongevver R50m want kinder is uitgesluit.Die opbrengs op hierdie bedrag sal 15% wees(BTW).Die mene sal koop en die ekonomie so instand hou.Ja,daar sal wees wat dit mors,maar wat daarvan? BTW word op alles gehef.Sou ‘n persoon bv ‘n motor daarmee koop,is die opbrengs op die bedrag nog beter.Bv motor kos R250,000.00 BTW daarop is R37,500.00.Die motor moet gelisensieer word,versekering moet uitgeneem word,brandstof en onderhoud.Maak maar self die som en bepaal die inkomste wat een motor genereer. Sou iemand eerder verkies om ‘n huis te koop,is die som nog beter.Hoeveel oordragkoste,prokureurkoste ens word gehef.Sou ‘n persoon ‘n besigheid wil begin,bereken maar al die gelde wat vir verskillende rade ens betaal moet word.
Maar dis mos makliker om te leen,hoor juis vanoggend ons CR vra nou hulp vir Afrika.Bedel weer.

Steady Eddie ·

Dit is seker 50 miljoen x R1miljoen !!!
‘n Yslike bedrag, maar dan MOET almal verplig word om ‘n nuwe voertuig te koop !!!
Dit gaan verder meer sin maak as elke huishouding net R1miljoen kry !!!
Oorbewoning probleme dan opgelos, aangesien elke huishouding op sy eie wil woon, om voordeel te kan trek !!!
Die mense kan andersins hul geld spandeer soos hulle verkies, MAAR bakhand staan is iets van die verlede !!!
Ek sê maar net …

johanf ·

Man, dit klink goed “Ek sal kan doen met ń Miljoen”….
Om daardie som te maak, is ek soos Zuma met syfers…..!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.