Só lyk Tshwane se watersituasie

Uitsig oor Pretoria vanaf TUT se kampus in Pretoria-Wes. (Argieffoto)

Die vraag na water oortref steeds die aanbod in Tshwane.

Die Stad Tshwane het Sondag gesê hy is effe bekommerd oor die Garsfontein-reservoir. Die reservoir se watervlakke het tot 23% gedaal nadat dit oornag geen watertoevoer van Rand Water ontvang het nie.

Soshanguve se reservoirs sukkel steeds (20%), Laudium se reservoir staan op 13% en Atteridgeville HL sʼn is weer leeg.

Die Grootfontein-reservoir se watervlakke staan maar op 2,8%.

Selby Bokaba, woordvoerder van die munisipaliteit, sê dit is egter vertroostend dat die Elardus Park-reservoir se watervlak op 53% staan. Die Mooikloof-reservoir se watervlakke het ook oornag effens verbeter – van 16% tot 21%.

Die Bronberg-reservoir wat Lombardye, Shere AH, Silver Lakes en dele van Mamelodi-Oos van water voorsien, se watervlak het ook oornag verbeter en staan nou op 40%. “Inwoners het bevestig dat hulle vanoggend water ontvang,” sê Bokaba.

Daar heers ook nie in dié stadium kommer oor die Parkmore HL- en LL-reservoir wat Menlyn, Lynnwood Manor, Garsfontein en Faerie Glen van water voorsien nie. Die reservoirs se watervlakke het teen vanoggend op onderskeidelik 65% en 94% gestaan.

The Heights-reservoir in die weste van die stad is 96% vol.

Die Tshwane-metro het Woensdag fase 2-waterbeperkings ingestel in ʼn poging om die kwynende voorraad te beskerm voordat dit heeltemal uitgeput is.

Die metro het inwoners vroeër vandeesweek al gewaarsku dat waterbeperkings wink nadat waterverbruik beduidend toegeneem het – moontlik as gevolg van die skroeiende hitte wat die afgelope tyd in Gauteng ondervind word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit is agv beurtkrag, sou die ANC die volgende verkiesing wen sal hierdie land onherstelbaar verwoes wees en sal besighede en bevoegde mense die land in groot hoeveelhede verlaat ,en dan hoop ek daardie ANC stemmers kry die swaarkry wat hulle verdien.

Annalize ·

As almal net meer volhoubare alternatiewe oplossings dink… Mens kan steeds water hê om ten minste jou toilette te spoel, of as dit moet – jou tuin nat te maak in tye soos die. Daar is tegnologie daarbuite wat op perseel behandeling en herverbruik moontlik maak. Dit sal ook bietjie die druk afhaal van die varswater navraag vir juis toilette spoel en tuine natmaak. Op die ou einde haal dit die druk van die munisipale infrastruktuur af. Dit is maar ‘n mindset verandering wat moet plaasvind. Ons het mos nou al gesien ons gaan moet ophou staatmaak op die ouens wat veronderstel is om die water in die krane te kry. Ons kan nou net op onsself staatmaak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.