Só lyk wedloop vir Wes-Kaapse polisiehoof

Genl. Khombinkosi Jula. Foto: Phando/Jikelo/African News Agency(ANA)

Met die Wes-Kaapse polisiehoof, genl. Khombinkosi Jula, se skielike verplasing terug na KwaZulu-Natal is die sweer van verdeeldheid in die mag nou wyd oop, en wag Wes-Kapenaars om te sien wie aan die hoof gaan staan van die manne en vroue in blou.

Daar is basies twee opsies: om die pos weer te vul van buite of om dit te probeer vul van binne. En dan is daar ʼn politieke en rasdimensie wat maar nie wil weggaan nie. Intussen is die moordsyfer so hoog dat die weermag ontplooi is – om wat presies te doen is tans nogal onduidelik.

Daar is trouens ongelukkig drie punte wat sal uitstaan in Jula se termyn. Eerstens, dat die polisie waarskynlik onder sy leiding in so ʼn mate in hul taak misluk het dat hulle nie meer hul taak sonder weermaghulp kon uitvoer nie.

Tweedens, die mislukte klopjag in die Kaapse woonbuurt Samora Machel waarin ses polisielede gewond is. Derdens, die mislukte poging tot dissiplinêre optrede teen majoors-generaal Andre Lincoln en Jeremy Vearey, wat die absurde situasie laat ontstaan het dat die persoon in beheer van die polisie se eenheid teen bendegeweld tans die polisie dagvaar vir R15 miljoen.

Klink dit na ʼn piesangrepubliek? Lees aan, daar’s soveel meer. As jy dalk wonder wat dink Jula se voorganger, Arno Lamoer, van al die dinge, sal jy eers ʼn afspraak moet maak en iets lekkers saamvat om te eet – nie vir jou nie, maar vir hom, want hy is in die tronk, skuldig aan korrupsie, dienende aan ʼn vonnis van agt jaar. En hy was die provinsiale polisiehoof!

Terug na die huidige opvolgstryd: dit kan lelik raak, want daar het ʼn etniese kleur bygekom. Sedert Jula se aanstelling is meer as 30 van sy tuisprovinsie, KwaZulu-Natal, in topposte in die Wes-Kaapse polisie aangestel. Dit het daartoe gelei dat Jula met tipies bytend sarkastiese Kaapse humor onder veral bruin polisiebeamptes bekend geraak het as die “tuisland-polisiehoof”.

Want hoewel die etniese faktor in hierdie hele nare geveg, soos die meeste etniese faktore maar vaag omlyn is, is dit waar dat baie (maar nie almal nie) van Jula se mees uitgesproke ondersteuners en binnekring swart mense is, en dat baie (maar nie almal nie) van die Vearey-groep se mees uitgesproke ondersteuners bruin is. Wit Wes-Kaapse polisielede (maar nie almal nie) maak oor die algemeen soos inwoners van die Kaapse Vlakte doen as bendes op mekaar skiet – jy hou jou kop laag, doen jou werk en hoop vir die beste vir jou en jou kinders.

Polisieminister Bheki Cele (Foto: Tracey Adams/African News Agency(ANA)

Daar is ook tans twee onverwante politieke dimensies aan die saak. Die eerste beïnvloed die minister van polisie, genl. Bheki Cele, want watter prestasie-ooreenkoms hy ook al met pres. Cyril Ramaphosa sluit, sal moeilik bereikbaar wees solank die geweld op die Kaapse Vlakte voortduur.

Die tweede politieke dimensie handel oor een van die name wat genoem word as Jula se opvolger, naamlik Jeremy Vearey. Soos verskeie van die name wat as moontlike opvolger rondgegooi word (onder wie Lincoln) is Vearey ʼn oudlid van Umkhonto we Sizwe (MK), die ANC se voormalige militêre vleuel. Hy was in aanhouding op Robbeneiland.

Vearey is ʼn bekende persoonlikheid in die Kaap. Hy het reeds een hoog aangeskrewe boek geskryf en is besig met die tweede. Boonop is hy ʼn belese intellektueel.

Hy was ʼn gereelde DA-teiken tydens die premierskap van Helen Zille. Sedert Alan Winde oorgeneem het, is daar minder persoonsgesentreerde openbare drama, so miskien sal die provinsiale regerende party se gedrag teenoor Vearey ook nou meer deurdag en minder opvlieënd raak.

In hierdie verband sal dit Vearey nogal help as die Wes-Kaapse ANC ophou om hom as ʼn ANC-bondgenoot te beskou, en hom met ʼn bietjie professionele afstandelikheid hanteer. Die DA én die ANC se politieke praatjies maak sy lewe moeilik, want hy kan uiteraard nie as polisieman op enige van die twee politieke partye se stellings oor hom reageer nie.

Die Wes-Kaapse DA én die provinsiale ANC het intussen aangedring dat die polisie se nasionale bestuur dringend ʼn nuwe permanente polisiehoof aanstel. Wes-Kapenaars sal hierdie fassinerende ontplooiing met aandag volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Skynbaar word “Wed-loop” verkeerd in die hogere rangordes verstaan. Dalk word weddenskappe aangegaan oor wie bly en wie loop??

Willie ·

Ag asseblief… pateties is nie eers die word nie… Dis a skande, nationale skande…

Ai tog! ·

Hulle lyk maar almal dieselfde met geen vooruitsigte of visie nie. Net daar vir die geld en huise!

Willie ·

Ek dink ons het n baie grootter probleem as wat ons eindelik besef.

Danie Theron ·

Word bevoegde Blanke polisiemanne nerens meer in topposte aangestel?Hoekom moet ons die krummels verdra?Is die kaders ooit bevoeg? Vra net want dit kom nie so voor!Die moraal van die SAPS ly erg skade

Andre ·

As dit so by bestuur gaan hoe gaan dit dan by die laer range. Wat se vertroue moet die publiek dan in hulle he.

Swannie ·

En Beki Cele was afgedank weens korrupsie en toe word hy die Minister van polisie !..dit spreek boekdele oor ons uiters doeltreffende Suid Afrikaanse Moniterings Eenheid.

Eerste keer dat ek hoor van die rang van Majoor Generaal – Daai rang ken ek nie, maar wel van Generaal Majoor. ( Tensy dit direk vertaal is van die engelse Major General ?? )

jaco ·

ek kan verstaan dat geen wit persoon die pos sal kry nie. dis mos maar ons lot om gestraf te word vir apartheid.
wat my wel verbaas is hierdie vreemde regstellende aksie wat ook teen kleurlinge diskrimineer. hulle was dan ook slagoffers van apartheid

Schalk ·

Sou verkies as aanstelling op bevoegdheid was en niks met politiek of kleur te doen gehad het nie.Los maar pos vakant eerder geen hoof as nog n korrupte een .Selebi toe Die een van die valke toe wie se mour so spaar maar die geld.Gatvol vir skelm polisie amptenary en politiek.Die mense in die land betaal tot vir die wedlope.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.