Só lyk weer vir Erfenisdag en langnaweek

Argieffoto (Foto: Snufkin, Pixabay)

Suid-Afrikaners in die sentrale en noordelike dele van die land kan Donderdag ’n warm en sonnige Erfenisdag verwag. ’n Kouefront sal teen Vrydagmiddag die Wes-Kaap bereik wat met ligte reën gepaard sal gaan.

Ideale weersomstandighede vir braai word die naweek vir inwoners van Noordwes, Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en die Noord-Kaap verwag. Geen reën word vir die hele naweek vir dié provinsies verwag nie.

Kumsa Masizana, ’n weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), sê hoë tot baie hoë temperature word Donderdag in die noorde van die land verwag.

Volgens die weerdiens word ’n maksimumtemperatuur van 28 °C en ’n minimumtemperatuur van 13 °C vir Johannesburg en 30 °C maksimum en 13 °C minimum vir Pretoria vir Donderdag voorspel. In Nelspruit word ’n maksimum van 29 °C en ’n minimum van 15 °C verwag, terwyl Polokwane ’n maksimum van 30 °C en ’n minimum van 11 °C gaan bereik.

In Noordwes kan inwoners van Potchefstroom en Rustenburg ’n maksimum van 31 °C en ’n minimum van 12 °C verwag.

Masizana sê in dele in die Noord-Kaap word uiters warm temperature van tot meer as 36 °C verwag. Vir Upington word ’n maksimum van 37 °C en ’n minimum van 16 °C voorspel. Temperature in Kimberley sal ook tot ’n maksimum van 35 °C styg.

Volgens Masizana kan mense in dele van die Vrystaat, Noordwes en Mpumalanga Woensdagmiddag ligte reën verwag. Daar is ook ’n klein kans vir donderstorms Woensdagmiddag in Gauteng.

Masizana sê ’n kouefront sal teen Vrydag die suidwestelike kus van die Wes-Kaap bereik en koeler weer en ligte reën vir dele van die Wes-Kaap tot gevolg hê. Daar is Vrydag ’n 60% kans vir reën vir die Kaapse metropool.

Die kouefront gaan teen Saterdag na die suidoostelike kus in die rigting van die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal beweeg en ’n 30% kans vir reën word vir die kusgebiede van dié provinsies voorspel.

“Teen Sondag word daar reën vir die meeste kusgebiede langs die suidooskus voorspel.”

’n Maksimum temperatuur van 21 °C en minimumtemperatuur van 12 °C word Donderdag vir Kaapstad verwag. Dié temperature gaan teen Vrydag na 15 °C en 9 °C daal wanneer die kouefront in die provinsie inbeweeg. ’n Maksimum van 28 °C en 9 °C word vir die Paarl verwag.

Die maksimumtemperatuur vir George gaan van Donderdag tot Vrydag van 28 °C tot 21 °C daal. Vir Port Elizabeth word ’n maksimum van 20 °C en minimum van 12 °C vir Vrydag voorspel wat Saterdag onderskeidelik tot 17 °C en 10 °C gaan daal.

Suidelike gebiede van die Noord-Kaap, soos Sutherland, gaan ook deur die kouefront geraak word en kan teen Vrydag ’n maksimum van 17 °C en ’n minimum van 0 °C verwag. Vir Calvinia word ’n maksimum van 18 °C en ’n minimum van 1 °C vir Vrydag voorspel.

Die res van die land se temperature gaan teen Sondag bietjie daal weens die impak van die kouefront, maar gaan teen Maandag weer normaliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Adeline

Watter erfenis???? totale voos vrot cANCer dag vir die hele RZA… is dit ons erfenis wat gevier moet word. dankie maar NEE DANKIE.

VannieBaai

Wanneer is die lang naweek? Ek werk Vrydag?