Só lyk wysigings aan Gelykheidswet

Die MRK het vantevore al aanbeveel dat die wetgewing gewysig word. (Foto: pixabay)

Voorgestelde wysigings aan die Wet op Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie kan verreikende gevolge hê – ook vir gewone burgers wat hulle aan oortredings skuldig maak.

Belanghebbendes het tot 12 Mei om skriftelik op die voorgestelde wysigings kommentaar te lewer.

Die wetsontwerp stel onder meer ʼn wysiging voor aan die definisie van “diskriminasie”. Ingevolge die nuwe definisie sal dit nie nodig vir iemand wees om doelbewus op te tree, voor hulle skuldig bevind kan word aan onbillike diskriminasie nie.

Nog ʼn wysiging is ʼn voorwaarde dat werkgewers voortaan gesamentlik vir onbillike diskriminasie deur hul werkers aanspreeklik gehou kan word. Daar is wel ʼn bepaling dat ʼn werkgewer nie verantwoordelik gehou kan word as hy alle redelike stappe gedoen het om te verseker dat sy werkers nie onbillik teenoor ander in die uitvoering van hul pligte optree nie.

Die wetsontwerp stel ook ʼn wysiging aan artikel 6 van die wet voor wat handel oor die voorkoming van onbillike diskriminasie. Die omvang daarvan word uitgebrei tot enigiemand wat veroorsaak dat daar teen iemand gediskrimineer word, dit aanmoedig of daarvoor vra. Regstappe kan in só ʼn geval ook teen iemand aanhangig gemaak word.

Nog een van die wysigings is sogenaamde spesiale maatreëls om gelykheid rakende ras, geslag en gestremdheid te bevorder. Die voorgestelde wysiging lui indien dit bevind word dat daar onbillik op grond van ras, geslag of gestremdheid gediskrimineer is, dit as verswarende omstandighede tydens vonnisoplegging in ag geneem moet word.

André Gaum, ʼn kommissaris van die Menseregtekommissie (MRK), sê dit sal waarskynlik raadsaam wees om te wag met die afhandeling van die wetsontwerp tot die Konstitusionele Hof uitspraak lewer in die sogenaamde Qwelane-saak.

Jon Qwelane, ʼn rubriekskrywer en voormalige ambassadeur na Uganda, het in 2008 ʼn meningstuk vir die destydse Sunday Sun geskryf waarin hy LGBTI+-huwelike vergelyk het met huwelike tussen mense en diere. Die saak duur al jare lank en het uiteindelik in die hoogste hof geëindig.

Die MRK het stappe teen Qwelane gedoen en aangevoer hy staan haat teenoor gay mense voor. Die saak teen Qwelane het berus op die wetgewing waaraan die wysigings nou voorgestel word.

Gaum het by navraag gesê indien die Konstitusionele Hof in die MRK se guns beslis, dit beteken die definisie van haatspraak veel wyer is as wat nou in die wetgewing omskryf word. Indien die hof teen die MRK beslis, kan dit voortaan baie moeiliker wees vir iemand om aan haatspraak skuldig bevind te word.

Hy sê die MRK het vantevore al aanbeveel dat die wet gewysig word. Dit is veral belangrik met betrekking tot die gedeelte wat ʼn plig op almal in die samelewing plaas om gelykheid te bevorder. Hy sê die huidige wetgewing plaas ʼn buitensporige las op sekere instellings – soos die MRK – maar dat die breër plig om gelykheid te bevorder dringend in werking gestel moet word.

Gaum sê die kommissie neem ook kennis van die uitbreiding van die definisie van diskriminasie.

Hy sê die MRK se interpretasie van die uitgebreide definisie is dat die wysiging beslis aandui dat sekere behandeling nie hoef te bestaan om ʼn saak van diskriminasie uit te maak nie.

“Die kommissie verwelkom hierdie wysiging,” sê Gaum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Joe Olivier ·

Miskien moet die mensdom net geestelik volwasse en sterk word. Die grootste vloek van ons tyd “human rights” . Vir een om regte te hê , moet ander hulle regte opoffer. M.a.w daar is altyd slagoffers.

Willem ·

Presies net so. Snaaks hoe liberales en lbgt??? regte opeis, maar ‘n regdenkende mens se regte moet hy/sy opoffer. Hulle het kamtig regte, maar as jy jou regte opeis, dan is jy “verkeerd” (of ver regs…, of jy diskrimineer)!

Persheks Adri ·

Gaan BEE afgeskaf word of tel die nou weer net vir ons?

M-woord ·

Wat n grap Gaum! Menseregte? Die enigste wat menseregte voorstaan is die wat in die mindere is. Wetsgehoorsame burgers en Christene moet gedurig die knie buig agv “menseregte” – hoe absurd en nog meer die stilswye van ons sogenaamde dominees en kerkleiers! Kan iemand ons asseblief inlig of Die Bybel se woorde n betekenis verander het?

Persheks Adri ·

Presies wat ek ook sê en dan gaan ons om elke hoek en draai moeilikheid hê. Die EFF’ers mag dit openlik doen

Christiaan Johannes ·

We live in times where smart people are silenced so that stupid people won’t be offended.

Tiptol ·

Gaan al anc en eff ondersteuners en die regering nou aangekla word van rassisme en diskriminasie?

Jan ·

Partykeer maak die waarheid seer. Is dit nou ook diskriminasie om die waarheid te praat. Is dit nou ‘n vorm van Kanselasie Kultuur.

Snowball ·

‘Gelykheid’ vir die huidige regering behels grondonteiening, SEB en ‘n aanslag op Afrikaans in skole – baie DOELBEWUSTE, onbillike diskriminasie. Nog wette en reëls waaraan net ‘n sekere deel van die bevolking moet voldoen. Gaan die leë blikke wat van politieke verhoë af skree hoe wittes gronddiewe, verkragters en apartheidsimpatiseerders is ook aan dié wette gehou word?

Agtogwatnog ·

Hierdie wet gaan baie verswarende gevolge op die Afrikaanse blanke bevolking hê. Dit word reeds duidelik gemaak dat alles wat Blanke Afrikaners gedoen het was rasisties en hulle het op alle vlakke gebaat by dit. m.a.w ons stap al reeds met die etiket vas genael teen ons rûe in enige saak in. Die wet is duidelik gerig om dit wettig te maak om ons verder en harder te straf. Lees tussen die lyne mense.

Jaco ·

Bepaal die nuwe wet ook dat diskriminasie teen wit mense nie diskriminasie is nie, maar bloot ‘n geregverdigde terugkry vir apartheid? Ek vra maar net, want dis hoe dit lank reeds in die praktyk in SA werk.

Danie ·

Wel kom ons begin by ‘n BBWE Act.
En sommer n mannedag ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.