Só lyk Zondo-kommissie se vrae aan Zuma

Adjunkhoofregter Raymond Zondo en oudpres. Jacob Zuma.

Die Zondo-kommissie wil onder meer weet oor oudpres. Jacob Zuma se inmenging met aanstellings by staatsinstellings, sy beweerde betrokkenheid by die korrupte kernkragooreenkoms en sy rol in die land van die Gupta-familie by die Waterklooflugmagbasis.

Aangesien Zuma Maandagoggend inderdaad nie opgedaag het by die Zondo-kommissie na staatskaping nie, sal dié vrae egter vir eers onbeantwoord bly. Die kommissie sê nou ʼn lasbrief se beweerde ongeldigheid kan nie net beweer word – en dan weier jy om uitvoering daaraan te gee nie.

Die DA het intussen gesê dit is tyd dat Zuma se kierankies nou begin braai en dat sy monumentale minagting van die wet daar is vir almal om te sien.

Zuma is in hierdie stadium na wat berig word by sy huis in Nkandla.

Dit het kort ná tienuur duidelik geword al die pogings om Zuma voor die kommissie te laat verskyn het misluk. Adv. Paul Pretorius, SC, getuienisleier, het daarna saam met adjunkhoofregter Raymond Zondo ʼn diskoers begin in reaksie op Zuma se regspan se besware teen die oudpresident se verskyning.

Die besware is tweeledig, naamlik dat Zuma se appèl teen die hooggeregshof se verwerping van sy aansoek om Zondo te dwing om hom as voorsitter van die kommissie te onttrek, deur die voortsetting van die kommissie benadeel kan word, en tweedens dat die lasbrief vir Zuma om voor die kommissie te verskyn, foute bevat het.

Die kommissie voer aan die Konstitusionele Hof se bevinding dat Zuma verplig word om voor die kommissie te verskyn, het die appèl waarna verwys word in ag geneem en die eerste beswaar verval dus.

Wat die tweede beswaar betref het die kommissie uitgewys dat ʼn lasbrief se beweerde ongeldigheid nie net beweer kan word en dan bly jy weg nie: Dit moet persoonlik voor die kommissie verduidelik word.

Voorts het die kommissie gesê mense het die reg om te weet wat van hul belastinggeld onder Zuma se bewind geword het en omdat dit uiteindelik sy verantwoordelikheid was, moet hy dit verduidelik.

Pretorius het ook verwys na Zuma se onlangse mediaverklaring dat hy nie meen die regstelsel sluit hom in nie en dat hy nie die regstelsel onderskryf nie.

Die kommissie het voorts aangevoer dat hy sy mandaat moet uitvoer ten spyte van die druk van politici en ander belangegroepe.

Daar is uitgewys dat meer as veertig getuies voor die kommissie Zuma regstreeks met korrupsie verbind het en dat hierdie sy geleentheid is om daardie inligting te verduidelik en, indien nodig, reg te stel.

Pretorius het ook die strekking van die vrae wat Zuma sou moes beantwoord, uitgestippel [sien vrae onder]. Op hierdie manier het die kommissie nou wel die vrae aan Zuma gestel sodat hy dit dalk op ʼn ander manier kan beantwoord omdat dit dan in die openbare domein is.

Die punt, só het Pretorius uitgewys, is vir Zuma om te verduidelik of alles net toevallighede onder sy bewind was en of daar ʼn plan was. Indien daar wel ʼn plan was, het Zuma daarvan kennis gedra, of het hy dit geïgnoreer? Indien hy dit nie geïgnoreer het nie, wat het hy daaromtrent gedoen?

Pretorius voer ook aan iemand kan net sy swygreg gebruik as hy hom by onwettige gedrag gaan impliseer. Dit is dus ʼn skulderkenning.

Adv. Glynnis Breytenbach, die DA se woordvoerder oor justisie en korrektiewe dienste, sê Zuma “seil deur die lewe sonder enige gevolge vir veragtelike gedrag”.

“Zuma het hom en sy meelopers nog altyd as bo die reg verhewe beskou en dit word duidelik terwyl die verwoestingswerk van sy presidensie blootgelê word.”

Breytenbach sê klagte van minagting van die kommissie moet dadelik teen Zuma aanhangig gemaak word weens sy versuim om te verskyn.

“Daar moet gewys word, en vinnig ook, dat alle Suid-Afrikaners gelyk voor die wet is en dat Zuma en sy vennote geen uitsondering is nie. Soos elke ander burger moet hy gestraf word vir sy minagtende houding.”

Breytenbach sê as oudpresident behoort Zuma ʼn voorbeeld te stel, hoe moeilik dit ook al persoonlik mag wees.

“Pleks daarvan, gedra hy hom soos ʼn swak gemanierde, moedswillige snuiter en diegene wat aanvoer dat hulle sy inhegtenisneming gaan verhoed, is niks minder as onverstandige, begogelde en groot skoolterreinboelies nie.”

Breytenbach sê veel kan ook gesê word oor die ANC wat hierdie soort gedrag in die verlede aangemoedig het en nou ook aanmoedig en niks doen om sy lede in die bek te ruk, of hom te distansieer van hulle swak gedrag nie.

Pretorius het talle vrae gelys, maar sluit die volgende belangrike bewerings in:

  • Zuma se inmenging by aanstellings by Transnet, Eskom en ʼn string ander staatsbeheerde instellings. Daarna het korrupsie deur daardie einste persone gevolg;
  • Zuma se betrokkenheid by die verwydering van staatsbates en die oordrag daarvan in ander hande;
  • Ngoako Ramatlhodi se getuienis van hoe Zuma hom probeer dwing het om onwettig op te tree, en afgedank het toe hy weier;
  • Zuma se aandrang op die onwettige Russiese kernkragooreenkoms, wat eindelik nie onderteken is nie;
  • Zuma se rol in die onwettige Waterkloof-landing deur die Gupta-familie;
  • Waarom Zuma vir Bruce Koloane as ambassadeur in Nederland aangestel het nadat hy gesê het hy het gelieg oor Zuma se betrokkenheid by die Waterkloof-gebeure;
  • Zuma se verhouding met Gavin Watson van die maatskappy Bosasa, en die regstreekse kontantoorbetalings van Watson en ander aan Zuma.

Die kommissie se werk gaan voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Suzette ·

My vraag aan die kommissie is – Wat gaan julle doen omtrent die persoon se minagting van die wet?

Chris ·

Ek dink dit is duidelik wat die kommissie wil doen. Of die Regering die kommissie gaan toelaat wat gedoen moet word is n ander vraag. Ek sien van die hoe koppe in die ANC gooi wal met stootskrapers

Rentia ·

Reg, ons almal weet nou JZ is minagtend. Ons almal weet CR probeer die -hof “overrule”. Nou wat gaan gedoen word? Wie gaan die opdrag gee om Zuma te arresteer, en WANNEER word dit gedoen? JZ kan soveel geraamtes hê soos hy wil, hy is en bly ‘n mens onderworpe aan die reëls van die land.
Kom regter, ons wag nou in spanning om te sien hoe jy optree vorentoe.

Francois Le Cochon ·

Ek dink nie Zuma gaan goed lyk in oranje nie. Sou eerder se^ ‘n wit “overall” met swart strepe, en bypassende” beanie”.

PH ·

Nog nie gearresteer nie? Dit begin sleg lyk vir ons regstelsel.

JohanR ·

My vraag is hoeveel kanse kry die ou voordat die Valke hom gaan haal? Ons weet almal wat die ou probeer doen, en dit is om ‘n grondwetlike krisis in SA af te dwing.

Jerry ·

Zondo kan vrae vrae tot hy blou in die gesig is wie gaan antwoord… Duideluk nie zuma nie

Johanncb ·

Net sy boots weiering om voor Regter Zondo te verskyn, beklemtoon sy skuld op die aanklagtes/bewerings teen hom. Intussen is JZ besig om ‘n totale bespotting van Suid-Afrika se Regstelsel te maak! Ace is besig om sy voorbeeld te volg! Tree op teen hierdie rebelse menere asseblief!

Casper ·

Die kommisie gaan net wag tot zumpie lekker slaap by Nkandla dan gaan hulle hom laat arresteer so tussen sy veteraan wagte,maar getuig sal hy getuig en as hy dan swyg is dit ‘n skulderkenning van wat die ander getuies reeds getuig het.Dan volg strafregtelike klagtes en oranje pakkie.Hy gaan meer soos ‘n “mechanic”lyk as prisonier.Die moontlikheid laat hy kan vlug is nie uitgesluit nie.

Lourens CFG ·

Dít is nou duidelik “wishfull thinking”, mens kan mos maar droom.

pompies ·

Ek wonder of jz enigsins iewers assiel sal kry as hy probeer vlug, ek dink die ander lande sal bang wees die hy en die guptas neem daar ook oor. Wanneer gaan daar iets gedoen word om die guptas terug in die land tekry of is dit nou maar koebaai meraai vir hulle?? So sal jz ook nie aangetree word nie regter zondo het vandag al klaar sluk-sluk na jz verwys.

LANA is ELANè ·

As die perde horings kry! As jy lid vd ANC is, ongeag van watter faksie, is jy onaantasbaar. Die spul het al die kuns vervolmaak om die gereg op elke manier te saboteer en boonop weg te kom met dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.