Só lyk Zuma se strategie teen Zondo-kommissie

Adjunkhoofregter Raymond Zondo en oudpres. Jacob Zuma.

Oudpres. Jacob Zuma se taktiek teen die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping is ontsluier deur sy beëdigde verklaring van 102 bladsye oor hoekom die regter hom moet onttrek as hoof van die kommissie – ʼn verdere aanduiding van maksimum tydverspilling om die kommissie se grondwetlikheid tot in die hoogste hof te beveg.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo sal na verwagting Woensdag uitspraak lewer oor of hy hom gaan onttrek. Alle aanduidings is dat hy dit nie gaan doen nie, ten spyte van bewerings deur Zuma se regsverteenwoordiger, adv. Muzi Sikhakhane, dat die kommissie ʼn slagpale is waarheen sy kliënt (Zuma) soos ʼn lam ter slagting gelei word.

Maandag en Dinsdag is in beslag geneem deur argumente van Sikhakhane aan die een kant en adv. Paul Pretorius van die kommissie aan die ander kant, oor of Zondo, soos die Zuma-regspan aanvoer, ongemanierd teenoor Zuma opgetree het en bevooroordeeld teenoor hom staan.

Waar Sikhakhane gesê het getuies soos oudministers Ngoako Ramatlhodi en Trevor Manuel is met die hand uitgesoek en genooi om voor die kommissie te getuig, het Pretorius die klem geplaas op Zondo se hoflikheid.

Waar Sikhakhane aangevoer het dat Zondo hom moet onttrek omdat daar ʼn te hegte verwantskap met Zuma is, het Zondo reguit gesê hy en Zuma is nie persoonlik bevriend nie, en, as klaarblyklike troefkaart, uitgewys dat hy al verskeie hofsake insake sowel Zuma as die oudpresident se seun Duduzane Zuma aangehoor en besleg het, en dat nie een van die menere Zuma al ooit beweer het hy moet hom onttrek nie.

Zuma se regspan het aangevoer dat die oudpresident nie by die kommissie is as ʼn getuie nie, maar eerder as ʼn soort verdagte mens. Op hierdie wyse en in hierdie bewoording het ooreenkomste tussen Zuma se strategiese plan en die planne van sy uiters hegte vertroueling Dudu Myeni duidelik geblyk, want sy voer dieselfde slagoffer-sentiment aan.

Daarteenoor het die kommissie aangevoer die publiek moet weet wat Zuma se rol was tydens die staatskaping wat onder sy bewind plaasgevind het. Boonop het die regter uitgewys dat hy die enigste lid van die kommissie is, so as hy hom onttrek, stort die kommissie in duie. Die kanse dat hy dit gaan doen, lyk vir waarnemers êrens tussen nul en baie min.

Maar of Zondo nou Woensdag aankondig dat hy hom onttrek of nie, is dit duidelik dat Zuma weereens ʼn sogenaamde Stalingrad-benadering volg – die manier waarop die Russiese leër tydens die Tweede Wêreldoorlog die Duitse opmars by Stalingrad vertraag het deur elke straat en elke huis te verdedig sodat die Duitse leër nie die hoofstad, Moskou, kon inneem voor die vernietigende winter toegeslaan het nie.

In hierdie geval is dit duidelik dat Zuma elke appèl en vertraging gaan gebruik om te keer dat hy kruisondervra word. Dit is ook die strategie daaragter om die grondwetlikheid van die kommissie te bevraagteken – want dit beteken die saak kan op tydrowende wyse voor die Konstitusionele Hof draai.

Zuma se argument oor grondwetlikheid staan op losse skroewe: Hy voel hy moes die voorsitter van die kommissie self kon aanstel, nie regter Mogoeng Mogoeng nie.

Dat Zuma die kommissie wil kniehalter en sy eie verskyning voor die kommissie wil verhoed, kan geen verrassing wees nie – sy vorige verskynings was rampspoedig vir sy beeld.

Daarom kan sy argument oor grondwetlikheid die kommissie se werk met ʼn paar weke vertraag, soos sy strategiese plan duidelik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

domheks ·

Nee zuma, jy wou jou dag in die hof he! Nou sien jy jy is vas en al jou vuilwasgoed gaan in die openbaar uitgetal word. GEEN SKAAMTE!!!
Vat jou pak soos ‘n man – dws as jy een is!

Androclus ·

Vat jou pak soos ‘n man – dws as jy een is!=NEE hy is nie een nie,sy man wag hom in die tronk.

Cornelius ·

Elke poging en manier moontlik om vervolging en tronkstraf vry te spring.

Androclus ·

Ja Japie Zumpies so kom agteros ook in die kraal,dis nou jou beurt.Die man wat so kwaai dans op die verhoog.

Aai ·

Dink mooi daaraan hoekom het Zuma in die begin stil gebly het hy nou skielik diep in die ondersoek dit agtergekom hy is getroud met die vrou wat ‘n kind by regter Zondo gehad het hy het net gewag vir die regte oomblik.En hoekom het regter Zondo dit nie verklaar in die begin??

tweeling ·

Hoekom moes Zondo dit verklaar? Behalwe die kind het hy geen verbinding met Zuma nie of die vrou nie. Zuma soek enige rede om vir Zondo te diskrediteer. Klink soos die Amerikaanse presidents verkiesings veldtog, geraamtes moet iewers uitgekrap word. Die ander ding is Zuma het van die begin af geweet hy is met ‘n vrou getroud by wie Zondo ‘n kind het. So hoekom het hy nie toe al die versoek ingestuur nie? Zuma het vuil gespeel toe hy in beheer was, nou is die skoen aan die ander voet en hy voel hoe dit is maar iemand moet die skuld kry. sy kierang sal braai, gelukkig staan die tyd nie stil nie.

Neelsie ·

Soos ek dit verstaan het Zondo ‘n verhouding gehad met die suster van een van Zuma se vrouens, maar dit was lank voor Zuma met haar getroud is. Ek kan nie sien dat daar enigsins ‘n geldige argument vir ‘n familieverband aangevoer kan word. Gryp na strooihalms.

Chris ·

Die oorspronklike datums was 16 to 20 Nov 2020, nou is daar nog net twee slapies oor en dan is alles oor en verby? Wanneer soos in Ace se geval, word daar ‘n lasbrief uitgereik en uitgevoer?

tweeling ·

Hy gaan nog in die hof verskyn, hy het nou ‘n kans om bewyse te weerlê. In die hof gaan hy swaar kry.

Dries ·

Die rooi gevaarligte moet hard en helder flits met die dat Zuma so probeer om hierdie situasie te ontduik. En ons almal weet hoekom.

Kokerboom ·

Verwyder asb die nare person (Zuma) uit ons samelewing!!!!!!Hoe gouer hoe beter.

Genis ·

Dis tyd dat regfter Zondo sy voet neersit en Zuma vasvat… Zuma speel vir tyd… So ook die ANC vaksie… Vat nou vas, en dink aan die land…

Pietertjie ·

Ai, maar die prez sukkel darem om sy dag in die hof te kry soos hy destyds belowe het…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.