Só maak jy met jou ongebruikte Comair-vliegkaartjie

Argieffoto: cyberairlines.net

Die plaaslike lugredery Comair het verskeie opsies bekend gemaak vir diegene wat oor ’n ongebruikte Comair-vliegkaartjie beskik. Dié stap kom nadat die lugvaartmaatskappy vroeër vandeesmaand in sakeredding geplaas is.

Comair bedryf British Airways en Kulula in Suid-Afrika.

Volgens die redery moet diegene met ’n kaartjie vir ʼn vlug wat tussen 14 Maart en 31 Oktober sou vertrek en met ʼn kaartjienommer wat met 161 begin, voor 17 Junie ’n vorm (Customer Election Form) invul en hier indien.

Persone wat ʼn vliegkaartjie met ʼn onbekende vlugdatum direk deur die Comair-kanale gekoop en bespreek het, het verskeie opsies. Een daarvan is om die waarde van die bespreking te behou aangesien dit tot 31 Oktober 2021 geldig sal wees. Dit kan dan gebruik word om ʼn toekomstige bespreking by Comair te maak.

Persone kan ook kies om ʼn krediteur van die lugredery te word sodat ʼn eis vir die waarde van die ongebruikte vlug ingevolge die sakereddingsplan hanteer kan word, indien dit goedgekeur word.

Persone wat ʼn Kulula- of British Airways-kaartjie vir ʼn vertrek tussen 14 Maart en 31 Oktober by ʼn derde party gekoop het (dit wil sê ʼn kaartjie wat nie met 161 begin nie), moet hul navrae aan die reisagent, British Airways of die lugvaartvennoot by wie die kaartjie aanvanklik bespreek is, rig.

Waar ʼn internasionale vliegkaartjie of hotelbespreking van Emirates, Qantas of British Airways met Vitality gekoop is, sal hierdie besprekings gekanselleer word en kliënte kan versoek dat die geld aan hulle terugbetaal word.

Maroela Media het vroeër berig Comair het vroeër vandeesmaand aangekondig dat hy in sakeredding gaan nadat die implementering van verskeie omkeerstrategieë in die wiele gery is deur die algehele afsondering wat verspreiding van Covid-19 in Suid-Afrika moet beperk.

Comair het aan die einde van die jongste boekjaar ʼn verlies van of R564 miljoen aangeteken.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.