Só moet boetebessies lyk

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Spesifieke, gedetailleerde kleredragkode vir verkeersbeamptes is in die Wetsontwerp vir Nasionale Padverkeerswetstoepassing gepubliseer.

Die dokument sluit verskeie reëls in oor die kleur en lengte van klere, en die tipe skoene en haarstyle wat nie toegelaat word nie.

Die lengte van rompe moet onder andere een handbreedte onder die knie wees, en indien ʼn romp gedra word, moet die beampte sykouse in ʼn velkleur dra. Langbroeke moet ook nie te wyd of te noupassend wees nie, en moet lank genoeg wees sodat skoenvetergaatjies bedek word. Geen hang-oorbelle of uitspattige juwele word toegelaat nie. ʼn Vroulike beampte mag nie ʼn handsak dra wanneer sy aan diens is nie. Baarde en poniesterte word nie by mans toegelaat nie. Snorre mag nie die ore bedek of aan die ore raak of verby die onderlip steek nie.

Die 449 bladsy lange dokument sluit ook reëls in oor standaardtoerusting wat tydens patrollie op nasionale paaie in ʼn beampte se voertuig karwei moet word. Dit sluit handskoene, ʼn besem, graaf, koevoet, megafoon, opslaanbare padverkeerstekens, noodhulptassie, bordkryt of spuitverf, ʼn brandblusser, verkeerskeëls en ʼn spreilig in.

Thato Mosena, woordvoerder vir die padverkeerbestuurskorporasie (RTMC), kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Gilberto Martins, adjunkdirekteur-generaal van die RTMC, het aan die Star gesê hulle wil ʼn 21ste eeuse verkeersbeampte skep. “Om dit te doen, moet ons ernstige norme en standaarde daar stel,” het Martins gesê.

Die Star het berig die dokument is verlede week in minstens sewe van die nege provinsies in die staatskoerant gepubliseer, met ʼn 30 dae periode vir kommentaar. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gerhard ·

“Langbroeke moet ook nie te wyd of te noupassend wees nie” haha…het hulle gesien hoe dik is party van hulle…te min materiaal in die land om squeezas se broeke te maak

Ria Maritz ·

Dieselfde geld nou vir Stad Tshwane. Dit is net nie reg om met jeans, t-hemp en tekkies die publiek te bedien nie. Nou gaan die werknemers natuurlik aandring op ‘n kleretoelaag.

Ek is van mening dat dit ‘n goeie ding is – vir verskeie redes. Ek wonder net oor die baarde, wat van ‘n manspersoon wat ‘n aknee-vel het en as gevolg daarvan meer selfvertroue het ?

Sowat paar jaar gelede het ek by Waltloo ‘n draai moes maak, die manspersoon wat die PUBLIEK moet help, het daar gestaan met ‘n gesig VOL ringe, en ek moet erken, die TONGRING was die toppunt – EK WAS NAAR ! Dis darem wraggies nie ‘n mooi gesig nie.

Andre ·

Wonder net hoeveel van die “toerusting” na 30 dae nog sal bestaan….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.