Só moet Numbi-hek beveilig word – VF Plus

Verskeie besoekers aan die Krugerwildtuin het onlangs slagoffers van gewapende roof geword – veral nadat hulle die park via die Numbi-hek verlaat het. (Foto: TripAdviser.com)

Die Vryheidsfront Plus het ʼn plan by die provinsiale wetgewer ingedien om die veiligheid in die omgewing van die Krugerwildtuin se Numbi-hek in Mpumalanga op te skerp.

Die plan sluit onder meer sigbare polisiëring, toeristemoniteringsprogramme en die vestiging van ’n 24-uur‑blitslyn vir toeristeveiligheid in.

Verskeie besoekers aan die Krugerwildtuin het onlangs slagoffers van gewapende roof geword – veral nadat hulle die park via die Numbi-hek verlaat het.

In een van die jongste voorvalle het vier mans ʼn Johannesburgse gesin etlike kilometer buite dié hek oorval. Een van die verdagtes, wat die gesin met ʼn vuurwapen gedreig het, was besig om in hul motor te klim toe polisiebeamptes daar opgedaag het.  Die verdagtes het met hul aankoms gevlug en net ʼn selfoon gesteel.

In nóg voorvalle is daar op ʼn ma en haar kinders in hul voertuig geskiet terwyl twee Duitse toeriste helder oordag beroof is.

Die voorgestelde veiligheidsplan, wat ook die identifikasie en ontleding van sleutelbrandpunte en stigting van ’n databasis van misdaad teen toeriste insluit, het onder meer ten doel om aan toeriste ʼn beter ervaring te bied.

Volgens Werner Weber, die VF Plus se provinsiale leier in Mpumalanga, wil hulle ook persepsies verander dat Mpumalanga ʼn onveilige bestemming is.

“Die doel van die veiligheidsplan is ook om ’n vennootskap tussen die openbare en private sektore te bevorder om kwessies van toeristeveiligheid op ’n meer gekoördineerde wyse te takel.”

Maroela Media het vroeër berig dat R370 miljoen toegeken is vir die opknapping van die Kruger Nasionale Park oor die volgende drie jaar.

“Al hierdie geld wat bestee word, sal egter niks beteken as die toeristeroetes na die park, spesifiek die Numbi-hekroete, ’n brandpunt vir misdaad bly nie.

“Die beskerming van alle toeriste, voorkoming van georganiseerde misdaad en die bevordering van volhoubare toerisme-ontwikkeling is uiters belangrik vir Mpumalanga,” het Weber gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Sarel ·

Ek sou wou sien dat daar ‘n Operasie geloods word en die omgewing rondom Numbi Hek gefynkan word. Glo
nog die Rowers se Hoofkwartier is in die omgewing.
Hulle skuil tussen die Plaaslike bevolking

Nie Verbaas ·

Hou dop, binnekort is R370 miljoen weg en niks is opgeknap nie. Dieselfde ou kader storie sal weer afspeel.

Marius ·

Daar moes in die eerste plek nooit toegelaat word dat informele nedersettings op die hoofroetes na die wildtuin gebou word nie. Daar is oral mense, honde, beeste en bokke wat onbeheersd rondloop en dan word jy nog gedwing deur spoedhobbels sodat jy makliker aangeval kan word. Miskien as niemand wildtuin toe gaan nie sal die skille van hul oë afval.

Nicky ·

Geen informele nedersettings langs enige pad nie, dis hoekom ons voor 1994 kon veilig reis

Kokerboom ·

Die regering laat ons GEEN ander opsie as om gewapend rond te beweeg!! Dis so absurd maar vir oorlewing al opsie. Verwys ook 3 persone doodgeskiet op N4 rondom Pta.

Pieter9 ·

3 SAP lede klim in ‘n VW Polo in, trek soos toeriste aan, ten volle gewapen en ry by die Numbi hek uit… En as die skelms hulle stop, skiet hulle dood. Probleem opgelos.

Toy ·

Hulle gaan mense nog so inwag dan word hulle dalk leeukos, Daar is baie kere wat mens hoor ‘n leeu of luiperd het iewers uitgekom.

Grassie ·

Hierdie planne gaan nie help nie. Die pad loop deur ‘n gops woonbuurt en die aanvallers woon in die omgewing. Die enigste oplossing is om die hek permanent te sluit. Hazyview is daar naby en die pad is daar baie veiliger

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.