Só neem sterftes toe in Covid-era

(Argieffoto: pixabay)

Die minister van binnelandse sake, dr. Aaron Motsoaledi, het die sluier gelig oor die kommerwekkende wyse waarop sterftes landwyd toeneem in die era van die koronavirus in Suid-Afrika.

Motsoaledi se insette kom te midde van kommer dat nie alle Covid-19-sterftes as sodanig aangeteken word nie. Hy het nie aangevoer die dramatiese styging is Covid-19-verwant nie, maar dit wel geïmpliseer.

In Desember 2018 is altesaam 36 620 Suid-Afrikaners aan alle oorsake dood. In Desember 2019 was dit 36 800, In Desember 2020 was dit 55 676 en in die eerste twee dae van 2021 was dit 10 582.

Motsoaledi en die minister van samewerkende regering, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, het Dinsdagmiddag ʼn mediakonferensie oor die jongste inperkingsmaatreëls toegespreek.

Dlamini-Zuma het benadruk dat die regering nie ten doel het of dit geniet om mense in hegtenis te neem of in die tronk te gooi nie. Hulle wil bloot die verspreiding van die virus keer.

Sy het bevestig dat Noord-Kaapse strande die enigstes in die land is wat oop is vir lede van die publiek.

Volgens haar vind die regering se optrede heeltemal binne die raamwerk van die wet plaas en is dus nie outoritêr nie. Sy meen ook die regering het nie die bevolking in die steek gelaat wat entstof betref nie.

Motsoaledi het gesê ʼn volledige lys van die 20 Suid-Afrikaanse grensposte wat gesluit is, is op sy departement se tuisblad dha.gov.za beskikbaar.

Hy het aangedui dat die situasie wat die hantering van mense binne sy departement se kantore wel onder beheer is, maar dat mense weier om sosiale afstand buite die kantore te handhaaf.

Die afgelope 12 dae moes 266 van die 412 kantore van die departement van binnelandse sake om Covid-19-verwante redes sluit. Sewe lede van die departement se personeel is reeds vanjaar dood en 116 is reeds vanjaar met die koronavirus gediagnoseer.

ʼn Probleem vir die departement is die administratiewe las van die toename in doodsertifikate. Daarom is mense gevra om sterftes en geboortes eerder in hospitale met kantore van die departement van binnelandse sake aan te meld as by die departement se kantore elders. Nie alle hospitale het sulke kantore nie, maar ʼn lys van sulke hospitale verskyn op dha.gov.za.

Nietemin sal departementele kantore tot 15 Februarie tot 19:00 saans oopbly vir die registrasie van geboortes en sterftes.

Slegs matrikulante kan tans tot 15 Februarie aansoek doen om identiteitsdokumente. Huweliksertifikate word nie uitgereik nie, en paspoorte slegs toegeken aan diegene wat kragtens die huidige regulasies landsgrense wel mag oorsteek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jaco ·

Ramaphosa en die ANC beweer mos dat daar nie plaasmoorde in SA is nie. So nou wonder ek maar net: doodsertifikate van plaasmoorde gee seker ook corona aan as oorsaak van dood.

Jan ·

Indien daar tydens die “covid-era” ‘n pandemie was sou die land se algehele sterftesyfer moes gestyg het. Dit het nie.

Johannes ·

Jan dis presies wat die artikel sê – ‘n algehele styging in die ooreenstemmende maandsyfers.

Kobus ·

Miskien moet jy weer die artikel lees, of iemand vra om dit aan jou te verduidelik. Verstaan jy nie die styging in die sterftesyfer soos in die artikel verduidelik nie. Volgens jou is daar geen pandemie nie, maar slegs n media histerie oor niks. Ai…

Dirk Mostert ·

Net 36,000 sterftes in ‘n normale maand? Met ‘n bevolking van 60 miljoen en gemiddelde lewensverwagting van 60-65 jaar kan byna 1 miljoen sterftes per jaar verwag word of 80,000 per maand. Ek dink ‘n groot deel van die covid-sterftes hoort nie daaronder geklassifiseer te word nie.

Tiny ·

Dit sal interessant wees om te weet hoe de heng hulle die totale hoeveelheid nuwe gevalle bepaal daagliks. Ek laat my nie vertel dat daar ‘n regerings geleide instansie is wat die vermoë het om meer as 20 000 Covid toetse af te neem, te toets en uitslae van te kry op een dag nie. My opinie is dat hierdie syfers uit iemand se duim gesuig word.

Wil jy regtig vir my vertel dat die useless regering se patetiese mediese diens in staat is om 18 duisend plus mense op een dag in kennis te stel dat hulle hierdie Sjina kiem onder lede het? Hulle weet nie eers om iets anders as Panado vir elke denkbare kwaal voor te skryf nie, wat nog van ‘n mediese krisis met die impak van die huidige een. PLEASE!!

Bolander ·

Interessant dat ons regering nie feite korrek wil deur gee nie. Amptelik soos deur ons regering verklaar, het 6934 mense hul lewens verloor wat gesertifiseer is a.g.v. COVID-19. Dit is slegs 12.4% van alle Desember 2020 sterf gevalle. Verwyder COVID-19 gevalle, dan is daar hierdie afgelope Desember 32% meer mense dood as Desember 2019 (52% met COVID-19 ingereken). Hoekom word die oorsaak daarvan nie verklaar nie? Is dit moord, motorongelukke, nutuurlike oorsake?
Is dit nie ‘n aanduiding dat ons regering nie in beheer is en COVID-19 as ‘n verskoning gebruik nie?

Dirk Mostert ·

Die minister impliseer dat daar in Desember 20,000 covid-sterftes was, terwyl die progressiewe totaal nou 33,000 is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.