Soorte resepte:

Só paar jy wyn met musiek

Die breingolwe van wynmakers is geplot om ‘n musiekstuk wat wynproe verbeter, te maak. (Foto: Youtube)

Nedbank het met kunstenaars, wetenskaplikes en wynmakers, oftewel protégés, uit die geledere van die Kaapse Wynmakersgilde saamgespan om wynproe op ʼn hoër vlak te plaas toe hulle ʼn projek van stapel gestuur het om musiek te maak spesiaal om wyn aan te vul.

Vir die eerste keer in die geskiedenis is ʼn musiekgenre dus geskep wat spesiaal by wynproe pas – en dít in Suid-Afrika.

Die projek is bekendgestel tydens ʼn unieke wynproe-webinaar waarvoor bottels wyn landwyd na gaste versend is om die aand mee te maak. Maroela Media was ook een van die gelukkige ontvangers.

Daar is aanlyn ingeskakel en ʼn glasie cabernet sauvignon uit die kelders van die Kaapse Wynmakersgilde geskink terwyl Tasting Notes: A Story of Sound and Wine, op hul skerms gespeel het. Gaste kon beleef hoe die wetenskap en musieknote ingespan is om met hul brein te kommunikeer om die smaak van die wyn verder te verbeter.

“Musiek is ʼn universele taal en die regte wyn kan enige proe-ervaring aangenamer maak. Ons ken almal wynparing met kos, maar kan ons ons gemeenskaplike liefde vir musiek ontgin en ʼn letterlike wyn-en-musiek-paring skep om ons doelwit te bereik om wyn vir nuwe gehore toeganklik te maak?” vra Khensani Nobanda, Nedbank se groephoof vir bemarking en korporatiewe sake.

Natuurlik het die Covid-19-inperkings ʼn rol gespeel om die geleentheid te besiel. ʼn Verdere dryfkrag was die besef dat ʼn plan gemaak moes word om die wynbedryf te help wat die afgelope tyd ʼn erge knou weens die inperkings toegedien is.

“Die Suid-Afrikaanse wynbedryf moes die afgelope jaar weens Covid-19 beduidende uitdagings die hoof bied,” sê Nobanda. “Dus het Nedbank, as langtermyn-ondersteuner van wyn, saam met die Kaapse Wynmakersgilde die manier verander waarop mense wyn deur musiek sien.”

Die wetenskaplike proses het behels dat cabernet sauvignon se proekaart in ʼn instrumentasiekaart vertaal word. Cabernet sauvignon was die aangewese keuse omdat dit een van die gewildste en mees erkende druiwevariëteite wêreldwyd is.

Neurowetenskaplikes het die emosionele reaksie en die sensoriese ervaring wat die wynmakers beleef het terwyl hulle die wyn gedrink het, met elektroënkefalogram- (EEG-)oorfoon-tegnologie uitgestippel. Komponiste het bygestaan om die data met klank-na-smaak-kartering te kombineer om die proe-ervaring, met behulp van ʼn kreatiewe oor en ʼn uitnemende verbeelding, in ʼn stuk musiek te omskep.

Nic van Reenen en Simon Kohler, twee komponiste, vertel dat hulle verskeie klanke, soos die oopmaak van ʼn wynbottel, die geklingel van wynglase en die klop teen ʼn houtwynvat, opgeneem het en ook in dié musiekstuk ingewerk het.

Die musiekstuk is daarna op vrywilligers getoets en die resultate het beïndruk. “Die musiek het die geure beslis bevorder” en “die musiek vloei uitstekend saam met die wyn”, het van die kandidate laat hoor.

“Tasting Notes verteenwoordig die inklusiwiteit en innovering van Nedbank, die Kaapse Wynmakersgilde en die protégé-program,’ sê Andrea Mullineux, ʼn lid van die Nedbank Kaapse Wynmakersgilde en wynmaker by Mullineux & Leeu-familiewyne.

“Saam het ons ʼn nuwe manier bedink om mense deur musiek, op wetenskaplike en wynkundige vlakke, met wyn te verbind met diegene wat die passievolle kuns van wynmaak waardeer.”

Om ook hierdie meesterstuk te ervaar kan jy enige bottel cabernet sauvignon gaan koop en Tasting Notes: A Story of Sound and Wine besoek.

Hier kan jy na die storie agter die storie gaan kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JohanR ·

Queen se Bohemian Rhapsody sal mooi speel saam met wyn maak. Die musiek beweeg sag tot hard, en op en af.

OW ·

Mick Jagger en die res van die Stones sal goed saam gaan met brandewyn met ‘n titsel van Deaf Leopard om die baskitaar klanke reg te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.