Só ry die trein na die ATKV

Van die uitsigte op die trein.

Van die uitsigte op die trein.

Ouwêreldse bekoring ontmoet moderne gasvryheid. Só kan die ATKV se nuwe treintoere in ʼn neutedop beskryf word.

Die trein vertrek uit Johannesburg en reis via Krugersdorp, Potchefstroom, Klerksdorp, Kimberley, De Aar, Beaufort Wes en Laingsburg na Worcester. In Worcester haal jy ʼn bus na die ATKV-Goudini Spa-oord wat teen die majestueuse Bolandse berge naby Rawsonville geleë is met prentjiemooi uitsigte van die berge, wingerde en Kaaps-Hollandse huise.

Tussen stasies

Ons het die Sondagmiddag sak en pak by die Klerksdorp-treinstasie gewag. Die trein was effe laat maar dit het nie ons gees gedemp vir dié avontuur wat op ons gewag het nie.

Nadat ons ons rustig tuisgemaak het in ons kajuit is ons na die eetsaal vir ʼn koue lafenis. Vir ʼn oomblik was dit stil. Net die klik-klik, klak-klak van die trein op die spoor, met die een na die ander landskap wat verby ons flits.

Daar is nie elektrisiteit in die kajuite nie en dit verg moeite om jou selfoon vir eers eenkant te stoot en net alles om jou in te neem. Stasie na stasie raak jy al rustiger. Mense op die trein gesels vriendelik en die opgewondenheid is tasbaar.

Die Shosholoza Meyl is beslis nie Rovos Rail of die Bloutrein nie maar beskik oor die nodigste.

ʼn Hoogtepunt van die treinrit is beslis die vier Hexrivier-tonnels waardeur die trein ry voor jy kort daarna in Worcester aankom. Vir ʼn afstand van 30 km ry die trein amper vir 17 km onder die grond. Die langste treintonnel is amper 14 km lank.

ATKV Goudini Spa

ATKV Goudini Spa

ATKV-Goudini Spa

Op die Worcester-stasie aangekom gryp almal hul bagasie en ons klim op die bus. Die dorp, in die hart van die Breëriviervallei en waar wingerdboerdery die hartklop is, is natuurlik ook bekend vir die De La Bat Skool vir Dowes en die Pionier Skool vir Blindes. Kort voor die oord draai ons in by Du Toitskloof-wynkelder, wat op die Breedekloofwynroete is, in vir ʼn lekker wynproe met die Du Toitskloofberge soos ʼn  skildery voor jou.

By die ATKV-Goudini Spa kry ons ons kamersleutels en die vakansiegevoel begin behoorlik inskop. Die oord met sy helende mineraalbaddens bied ʼn ietsie vir almal. Buite- en binnenshuise swembaddens, ʼn waterwurm en wipmatte, mini-gholf, staproetes, tennis en vlugbal en ʼn speletjiesarkade. Daar is ook ʼn spa waar jy die laaste bietjie stadstres kan laat uitvryf.

Die toer sluit ook ʼn dagbesoek aan Franschhoek en Stellenbosch in. Franschhoek, omring deur berge en wingerde, staan ook bekend as die “kos-en-wynhoofstad” van Suid-Afrika en hy doen sy naam gestand.

Die asemrowende Du Toitskloofberge.

Die asemrowende Du Toitskloofberge.

Ander besienswaardighede sluit in die Hugenotemonument en die nabygeleë Hugenotegedenksentrum en wees nuuskierig as jy rondsnuffel, want die dorp is vol unieke winkels om te ontdek.

Die studentedorp Stellenbosch se omliggende omgewing spog met van die beste wynkelders in die land en ook topklas-restaurante. Daar is ook die aarbeiplaas, lekker kuierplekke, alles omring met berge wat stories vertel.

Op die laaste dag voor ons weer met die trein na Johannesburg vertrek, het ons by die Kleinplasie-opelugmuseum in Worcester besoek afgelê.

Kort voor jy weer by jou bestemming afklim besef jy met ʼn effense skok: Die lewe het toe nie gaan stilstaan in tyd soos jy gedink het nie. En met die afklimslag vat jy jou reistas, maar ʼn stukkie van jou hart bly op die treinspoor agter.

Oor die toere:

Die treintoere word deur die ATKV en JB Treintoere aangebied. Besoek ATVK se webtuiste hier vir meer inligting of JB Treintoere hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Attie en Susan ·

Dit is die lekkerste lekker ontspannende vakansie wat ‘n persoon kan neem – ons was baie tevrede met die manier van vakansie-hou
WELGEDAAN ATKV EN JB TOERE !! ??✔

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.