Só sal sake by grensposte werk

Dr. Aaron Motsoaledi (Foto: GCIS)

Slegs reisigers met ʼn geldige PCR-toets sal toegelaat word om die land se grense binne te kom.

Alternatiewelik sal diegene wat nie bewys van ʼn PCR-toets het nie, op hul eie onkoste ʼn antigeen-toets moet ondergaan, het Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, Woensdag gesê.

“Slegs vragmotorbestuurders is van hierdie toetsvereistes vrygestel soos dit die geval aan die begin van die inperking was.”

Die departement van binnelandse sake sal ʼn bykomende 160 amptenare na die land se ses besigste grensposte ontplooi. Dit is die Beitbrug-, Lebombo-, Oshoek-, Maseru-, Ficksburg- en Kopfontein-grenspos. Die Kosibaai-grenspos, wat al sedert einde Maart gesluit is, sal op 1 Januarie 2021 heropen.

ʼn Bykomende 60 immigrasiewetstoepassingsbeamptes sal ontplooi word om die weermag te ondersteun in geïdentifiseerde hoërisikogebiede langs die grens waar mense onwettig die grens na Suid-Afrika oorsteek.

Foto: SAPD/Facebook

“Die immigrasiebeamptes en soldate is nie daar om mense te keer om na Suid-Afrika te kom nie. Hulle is daar om aan te dring dat enigiemand wat Suid-Afrika wil besoek, die amptelike toegangspunte moet gebruik en al die nodige dokumente moet lewer, anders sal hulle nie toegelaat word nie.”

Meer as 259 grensbeamptes sal na alle grensposte ontplooi word terwyl 278 lede van gemeenskapsdienspersoneel ook ontplooi sal word. Die nasionale gesondheidsorg se laboratoriumdienste (NHLS) sal private laboratoriums versoek om bykomende ondersteuning vir toetsing te bied en die Suid-Afrikaanse Militêre Gesondheidsdienste is versoek om 73 bykomende militêre gesondheidspersoneel te voorsien om te help met die toetsing.

Die provinsiale gesamentlike operasionele en intelligensiestrukture is geaktiveer vir polisiëring en sal padblokkades en voertuigbeheerpunte binne die grenswetstoepassingsgebiede uitvoer.

Die provinsiale owerhede sal ook padblokkades in hoofsaaklik Limpopo, die Vrystaat, Mpumalanga en KwaZulu-Natal hou.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.