Só sal Zille se tugverhoor verloop

helen-zille-da-op-flickr

Helen Zille, premier van die Wes-Kaap en voormalige leier van die DA. Foto: DA/Flickr.com

Die DA se federale regskommissie het gesê die kommissie en Helen Zille, voormalige leier van die DA en Wes-Kaapse premier, het vergader en ooreengekom hoe die dissiplinêre proses teen haar sal verloop.

Dit kom nadat Zille verlede week amptelik van alle partyverwante aktiwiteite geskors is hangende die dissiplinêre proses teen haar. Die dissiplinêre stappe hou verband met vroeëre twiets deur Zille waarin sy aspekte van kolonialisme verdedig.

Glynnis Breytenbach, hoof van die party se federale regskommissie, het gesê alle partye sal teen Dinsdag vertroulikheidsooreenkomste onderteken “om die integriteit van die verhoor te beskerm”. Daarna moet alle dokumente wat met die dissiplinêre verhoor verband hou teen 23 Junie by die kommissie ingedien wees.

ʼn Voorverhoor sal op 30 Junie gehou word om te bevestig dat almal betrokke gereed is vir die verhoor om te begin, asook om voorlopige aspekte te bespreek, het Breytenbach gesê. Daarna sal die verhoor begin.

Mmusi Maimane, leier van die DA, het op 3 Junie aangekondig dat Zille geskors is aangesien sy geweier het om verskoning te vra vir haar uitsprake oor kolonialisme. Maimane het gesê Zille se optrede het die party se naam in die oë van die publiek skade berokken.

Zille het ure daarna teruggekap deur te sê die DA se federale uitvoerende komitee se besluit om haar te skors, strook nie met die party se eie federale grondwet nie. Sy het beklemtoon die DA-grondwet vereis dat sy tyd gegee word om vertoë oor die kwessie te lewer. Sy het ook gesê dit is nie waar dat sy geweier het om om verskoning vir haar uitsprake te vra nie en dat sy bloot geweier het om skuld te erken op ʼn aanklag van wangedrag wat sy nooit gepleeg het nie.

Die DA het vinnig daarna weer ʼn verklaring uitgereik om te sê Zille sal die geleentheid gegun word om redes te verskaf hoekom sy nie geskors moet word nie.

Zille het in haar vertoë, wat sy later met die party se toestemming openbaar gemaak het, gesê die party se federale raad het haar “vooraf veroordeel” met die besluit om haar te skors en sy moes daarom die gevolgtrekking maak dat sy aangekla word deur die party omdat sy nie swart is nie. Zille meen sy kan die gevolgtrekking maak aangesien talle swart Suid-Afrikaners al presies dieselfde sienings gedeel het rakende die nalatenskap van kolonialisme, en die DA nooit kommer daaroor uitgespreek het nie. Volgens Zille is daar ook geen geskrewe beleid rakende die aangeleentheid nie.

Zille het aangevoer Maimane “straf” haar moontlik omdat sy nie van haar pos as Wes-Kaapse premier wou afstand doen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

MUSI BLOU BAADJIE ·

Musi is ook maar net n ANC maatjie met ‘n blou baadjie. Sy maniertjies is baie dieselfde as die van die ANC.

hein ·

Hierdie nuus is ou nuus. Lankal gesien kom.

Gee asb nuwe nuus?

Hoeveel water is daar al in die Theewaterskloofdam in die Kaap? Dit is op die oomblik belangriker.

Dries ·

Die Suid Afrikaanse Handleiding van Menseregte wat elke persoon se reg tot vryheid van keuse, spraak , geloof ens is BOLLIE wanneer dit kom by sekere kleur en ras in hierdie land. Sekere mense moet betaal ander kry verniet, sekere mense mag uitgeproke wees, ander word vervolg al is dit ook twak. Sekere mense mag moor, ander moet moet wag om vermoor te word. Sekete mense kry grond en plase terwyl toegekyk word hoe ander vermoor word vir hulle grond en plase .Menseregte in Suid Afrika regtig !!!!

Dawn ·

Wonder hoe het Christendom in Afrika beland?.Het die Afrikaner boer nie in Anglo -boere oorlog onder Engelse koloniale gelei? Behoort Amerika eintlik aan die Indiane? En Suid Afrika aan die Suid Amerikaanse inboorlinge?

Chris ·

Ek weet nie of nig Zille dit al agtergekom het nie nie maar daar is baie vir haar de Helen. Sy gaan in die tanne in geskop word.

al ·

Helen klou aan jou pos as premier. Jy het die Wes-Kaap gemaak wat dit is – ñ vooruitstrewende provinsie.

Dries ·

Hulle mag dalk Zille se tande uitskop maar daardie ystervrou gaan hulle wys waar Dawid die wortels begrawe het en dit kan die DA baie seer maak by die stembus as Zille besluit om haar hoenders in ‘n ander kampie te gooi . Mag dalk net skaakmat wees

Vryheid ·

Zille maak n twiet waaroor sy geskors word, nou spring Musi op die bandwagon begin vergryp so ver die oog kan sien. Laat my dink aan sy oom zuma- Mag’s honger, selfverykend en korrup.

Jacques Venter ·

Regstellling. Baie skop Maimane asof hy haar geskors het. Sy is deur die DA se federale raad onder voorsittetskap van James Selfe geskors

Jacques Venter ·

Diegene wat skreeu Zille gaan die DA seermaak, besef nie dat DA die behoud van die blanke Is nie.
Daar is in werklikheid geen alternatief vir blankes nie. VF+ is verby sy selby date

Peet ·

Bye… Bye DA. Was dit nie vir kolonialisme was SA nog een povere landjie in Afrika, sonder infrastuktuur en ekonomie. Miskien straf ek die DA en stem nie of ek stem vir die VF+.

pietie ·

Dit gaan in die politiek nie oor wat waar en reg is nie, maar net om die meerderheid se steun te kry. Dis waarom die DA van Helen Z ontslae wil raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.