Só sê ANC oor Nkandla-verslag

Nkandla homesteadDie ANC het Donderdag gesê die besluit om pres. Jacob Zuma te vervolg is ʼn besluit wat vooraf geneem is deur opposisiepartye.

“Die opposisie het besluit om te versoek dat Zuma vervolg moet word nog voordat die Nkandla-verslag deur die Openbare Beskermer vrygestel is,” het Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, aan verslaggewers in Johannesburg gesê. “Die besluit is met voorbedagte rade geneem.”

Volgens Mantashe is die grootste probleem met die koste van veiligheidsopgraderings by Zuma se huis in Nkandla dat dienste en goedere te duur aangebied is. “Hierdie projek is ʼn voorbeeld dat ons moet kyk of pryse nie in ander gebiede ook opgeblaas word nie.”

Alle betrokke beamptes moet aan die pen ry en alle fondse wat onbehoorlik bekom is, moet terugbetaal word, het Mantashe bygevoeg. Hy sê egter die ANC glo die ondersoek moet fokus op mense wat in die verslag uitgelig word. “Die staat moet almal vervolg wat bedrieglik staatsgeld gebruik het,” het hy gesê.

“Indien daar kwessies is wat die president moet beantwoord, sal die ANC hom versoek om hierdie vrae te beantwoord,” het hy gesê. “Ek weet nie wie gesê het dat die president nie verantwoordbaar gehou kan word of nie aanspreeklik gehou sal word nie. Dit is ʼn aanname.”

Mantashe sê die ANC se siening is dat die verslag as ʼn “riglyn” gebruik sal word en dat hy nie met ʼn heksejag gaan begin nie.

Hy sê die ANC sal nie die geldigheid van die verslag ondermyn nie. “Ons is ook nie van voornemens om die verslag te ignoreer of die geldigheid daarvan te ondermyn nie. Daar is geen so voorneme in die ANC nie,” het hy gesê.

Die ANC is “verlig” dat die verslag “uiteindelik aan die publiek vrygestel is”. Maar die tydsberekening vir die vrystelling van die verslag bly kommerwekkend oor die “ontwrigtende effek” wat dit op alle politieke partye kan hê terwyl hulle besig is met hul veldtogte voor die algemene verkiesing in Mei, het Mantashe bygevoeg.

Hy het ook gesê die ANC sal nie om verskoning vra oor die bevindings van die verslag nie. “As die behoefte bestaan kan dit deur die president of die betrokke ministers gedoen word,” het Mantashe gesê. “Die ANC het nie ʼn huis genaamd Nkandla nie. Die ANC het net die Chief Albert Luthuli-huis.” Hy sê die lede van die publiek sal boonop nie só verskoning aanvaar nie, aangesien hulle dit sal beskou as ʼn toesmeerdery.

Hy sê die ANC sal lede van die media uitnooi om Nkandla te besoek.

Mantashe het ook gesê die ANC se nasionale uitvoerende komitee vergader volgende week. “Uiteraard sal ons moontlik Nkandla bespreek,” het hy gesê.

Hy sê die ANC moet besluit of hy Zuma gaan aanmoedig om Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, se aanbeveling te volg om ʼn gedeelte van die geld terug te betaal. “Die Openbare Beskermer het gesê die president moet ʼn redelike persentasie terugbetaal, en die vraag is nou of ons hom sal aanmoedig om dit te doen.”

Madonsela het haar verslag oor Nkandla Woensdag vrygestel. Sy het gesê Zuma moes die omvang, koste en bekostigbaarheid van die veiligheidsopgraderings bevraagteken het. Die totale koste is na beraming R240 miljoen. Sy het bevind dat Zuma en sy gesin onregmatig voordeel getrek het uit die opgraderings. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

alet ·

Ons as die mense van hierdie land wil nie hoor wat het die ANC te se hieroor hulle kan nie namens die President praat nie hy moet self se waarom dit gedoen is en nie se hy het nie geweet nie hy ry die soustrein moenie namens hom omverskooning vra nie laat hy dit self doen hierdie land is vir almal nie net die ANC nie

Dan ·

Ja Fanie, dit is ‘n klomp nonsens. Mens sou sweer hier is ‘n blikkie koeldrank gesteel so mak is die uitsprake nou. Ons kan seker almal ‘n paar miljoen vaslê want daar sal geen “heksejag” plaasvind nie. O wag, ons is nie “elite” nie en nog boonop blank. Jammer!

Tot op die been korrup!

petra van vuuren ·

ek is verbaas hulle blameer nie apartheid vir hierdie storie nie.

Willie ·

Ai Alet en Dan, kan julle nie verstaan wat die arme drommel probeer wysraak nie ?
Die ou stel dit duidelik dat die ANC die verslag as riglyn gaan gebruik, die Britse term is ” guideline ”
Julle moet hiervan kennis neem asseblief, dit is in wese van groot belang vir die ANC, uiteindelik kan die ghoeroes nou ge-“guide” word hoe om elkeen sy/haar eie Nkadla te bekom en amptenare daarvoor te laat boet.
Wees tog broederlik en susterlik verdraagsaam, die lot regeer nog net hierdie ou landjie die afgelope 20 jaar
Gee ook erkening aan die magiese krag wat apartheid uitgestraal het sonder dat dit die wittes aangetas het.Hierdie magiese krag het by wyse van onsigbare strale alle breinselle van anderskleuriges en hul nageslagte tot in der ewigheid vernietig gevolglik glo hulle alle twak wat hulle verkondig en die snert wat hulle kwytraak

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.