Só, sê beskuldigde, het nagklubmoord hom afgespeel

Sampie Hearn. (Foto: Maroela Media)

“Ek is Sampie. As jy my kan hoor, raak aan my been.”

Dít is na bewering die woorde wat die beskuldigde Sampie Hearn aan ’n erg beseerde Daniël (Danie) Botha gesê het kort nadat Botha in Julie 2018 by ’n kuierplek in Benoni aan die Oos-Rand aangerand is.

Hearn ontken dat hy destyds by die aanranding betrokke was en sê hy wou Botha help.

Botha se ma, Catharina Pretorius, het Maandag kop onderstebo in die Benoni-streekhof geluister na Hearn se weergawe van die aand vier jaar gelede waartydens haar seun só erg aangerand is dat hy breindood verklaar is.

Regter Ian Cox het tydens die kruisondervraging egter verskeie gate in Hearn se storie uitgewys, onder meer dat hy versuim het om te noem dat hy afgespreek het om Gideon Fourie, sy medebeskuldigde, die betrokke aand by die kuierplek te ontmoet.

Hearn het getuig dat hy die aand van 25 Julie 2018 saam met sy vrou na Dingo’s Pub in Benoni gegaan het, nadat hulle vroeër die aand elders gaan uiteet het.

Volgens Hearn het hy kort ná hul aankoms by Dingo’s Pub in ’n ry by die kroeg gaan staan om drankies te bestel. Hy het opgemerk dat Fourie en Charlene Maré, ’n vriendin wat die betrokke aand saam met Botha by die kuierplek was, in ’n woordewisseling naby die dansvloer betrokke was.

Hearn het nader gestap en gevra of Maré orraait is. Dié twee het mekaar geken. Botha het in daardie stadium ook nader gestap en vir Maré gevra of sy wil huis toe gaan.

Fourie het Botha glo kort daarna met sy elmboog in die gesig geslaan. “Danie het teen die tafel geval. Hy het opgekom en ek kon sien daar loop bloed uit sy mond. Hy het verward gelyk,” het Hearn getuig.

Volgens Hearn het hy in daardie stadium weggetree en in ’n ander rigting gedraai. Hy het nié die tweede gehou gesien wat Fourie Botha glo toegedien het nie. ’n Worsteling het daarna op die dansbaan ontstaan en Hearn het nader beweeg.

Hy vertel dat hy tydens die worsteling vir Botha van agter om die middel gegryp en hom probeer wegtrek het. Een van die uitsmyters het Hearn daarna gegryp en na die naaste uitgang begelei. Hy vertel dat daar ’n groep mense by ’n tafel naby aan die uitgang gesit het en dat dié groep aan die uitsmyter gesê het dat Hearn nie by die geveg betrokke was nie.

Morne Fullard, die omstander wat verlede week ook na die getuiebank geroep is, het by dié tafel gesit.

Hearn vertel dat die uitsmyter hom by die uitgang gelos en toe teruggegaan het na die worsteling op die dansbaan. Hy hou vol die uitsmyter het hom van die dansbaan weggelei omdat dié bloot al die mense van die dansbaan wou wegruim en nié omdat hy vermoed het dat Hearn by die bakleiery betrokke was nie.

“Dit was ’n gemors in daardie stadium,” het Hearn verduidelik. “Almal was oral.”

Hy sê hy het kort daarna vir Botha op die dansvloer sien lê. Twee uitsmyters het Botha opgetel en na buite gedra. “Daar was ’n paar skoene wat op die dansvloer gelê het. Ek het die skoene opgetel en in die rigting gestap waarheen die uitsmyters vir Danie gedra het.”

Daniël Botha. (Foto: Verskaf)

Buite gekom, het hy glo vir Botha op die grond sien lê. Daar het ’n paar mense om hom saamgedrom.

“Ek het afgekniel tot by Danie en vir hom gesê: ‘Ek is Sampie. As jy my kan hoor, raak aan my been.’

“Danie het sy linkerhand opgetel en aan my been probeer raak. Ek kon nie hoor wat hy sê nie. Hy het gehoes. Charlene [Maré] was daar en het vir my gesê om Danie op sy sy te probeer draai sodat hy nie verstik of sy tong insluk nie.

“Dit is toe dat Morne [Fullard] vir my sê ons moet die ou by die hospitaal kry.”

Volgens Hearn het hy nie vir Fullard in daardie stadium geken nie. Hy het egter terug na binne gegaan om vir sy vrou te sê dat hy iemand moet hospitaal toe neem. Toe hy weer buite kom, was Botha reeds weg.

Fourie het Botha in daardie stadium hospitaal toe geneem.

Hearn vertel dat hy aangebied het om Maré hospitaal toe te neem aangesien sy daardie aand saam met Botha by Dingo’s was. “Ek het vir [Fourie] probeer bel, maar hy het nie geantwoord nie en ons het hospitaal toe gery.”

Daar gekom, het Maré Botha se beursie vir ’n verpleegster gegee, voordat hulle na buite die hospitaal is. Botha se ouers het kort daarna by die hospitaal aangekom. Volgens Hearn het hy hom aan Botha se ouers voorgestel, sy nommer vir hulle gegee en hy en sy vrou is daarna huis toe.

Hearn is kort daarna oor dié einste getuienis gepols nadat hy nagelaat het om te noem dat hy vooraf afgespreek het om Fourie by die kuierplek te ontmoet. Hy het ook nie genoem dat hulle saam foto’s geneem het nie.

Dié foto’s het landdros Ian Cox met verskeie vrae gelaat.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Jr ·

Wil nie na kuier plekke meer gaan nie, want daar is altyd skoor gesoek.

SjN ·

Kuier by jou eie plek saam met n paar pelle, baie lekkerder en goedkoper.

Afrika ·

Dis kommerdwekkend dat jy as ouer Moet worry oor jou eie kind waar Ander ouers Nie nodig het Om dit te doen Nie want hulle eie Kinders is die skoor stokers.

VaalDonkie ·

Dis vir my die ergste gewees. Slaan hulle aan jou is dit oukei. Maak jy ‘n saak, dan huil mammie “ons moet nou nie NOG ‘n kind se lewe verwoes nie”.

ES ·

Die enigste 2 howe wat nie regters het nie is die landdroshof/streekshof wat ‘n landdros/magistraat het en die hof vir Klein-eise wat ‘n kommissaris het. Die funksies is presies dieselfde.

Alma ·

Daar was tog baie mense, daar moet tog meer mense wees wat Hearn se weergawe kan beaam, of nie. Wat van die Mare meisie, klink of sy die heel tyd in die omtrek was.

E ·

Ja ek wonder wanneer hulle haar as ‘n getuie gaan roep, probleem is mense is gedrink of onthou nie watter aand hulle by die plek was nie. En daar is soveel gevegte weet nie eers of hulle sal weet watter geveg nie.

Afrika ·

Waars Hearn Se vrou wat Saam hom daar aangekom het en Saam Hearn Gery het Om n lewelose Daniel te Gaan los by n hospitaal. Volgens die heel Eerste berig.

Ek Kan dit nogsteeds Nie inneem Nie. So harteloos.

Sy vrou Kan tog Vir hom beaam. Sy was Mos daar….

Die vraag is, Gaan Daniel Se ouers ooit die waarheid hoor.

Ek Kan waarborg:

My eerlikheid is my eer, maak Nie saak of dit my negatief Gaan beiinvloed Nie. Maar dis nie te Se Ander mense Se morele en waardes Gaan dieselfde wees nie. Dis sad.

Althes ·

Dis tragies. My hart gaan uit na Botha se familie. Ek hoop geregtigheid geskied

My Mening ·

My hart is regtig seer vir Danie se geliefdes, veral omdat hierdie so bitter onnodig was!!
Ek kan net vir geregtigheid hoop. Dis regtig jammer dat party mense se ego’s en eie ek groter is as hul gesonde verstand!!

Wielspore ·

So jammer dat ‘n jong persoon sy lewe moet verloor, sterkte aan die familie en vriende. Dit is ongelukkig ook so dat daar mense met kort lonte by sulke drink plekke uithang en as die drank loop word daardie lonte aangesteek en gevegte breek uit. Geniet jou drankie by die huis om die braaivleis vuur saam jou geliefdes.

VannieBaai ·

Dié storie is té deurmekaar. Ek kon dit nie eens klaar lees nie.

Sê maar net ·

Ek stem. Het dit gelees, maar kannie kop of stert uitmaak nie. Ons bid maar die regter sal kan.

Afrika ·

Omdat hulle almal sit en lieg.

Die een Gooi die Ander een Nou Onder die bus.

Jy hoor gereeld van sulke karakters wat Naam maak by plekke. Ek gaan jou n bet aan, vra bietjie rond en jy sal die Antwoorde kry waarna jy soek.

My ouma het altyd gese, jou repetasie loop jou vooruit, en jou verlede haal jou vrek vinnig in.

Dit Som die lewe kortliks op.

Korrelkop ·

Die Landdros kan sommer gou-gou hoor wanneer mense lieg…

Nierkie ·

Miskien as die ondersoek nie 4 jaar geneem het nie kon meer mense meer detail onthou het. Ek kan nie eers presies onthou wat ek die naweek gedoen het nie , nevermind wat 4 jaar gelede by ‘n kuierplek in Benoni gebeur het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.