Só sê Eskom oor Gupta-bewerings

Argieffoto: GCIS

Argieffoto: GCIS

Eskom het Dinsdag ʼn verklaring uitgereik wat betref bewerings oor wanbestuur en inmenging by die kragvoorsiener.

Dit kom ná Eskom onder kritiek deurgeloop het oor die beweerde invloed van die Gupta-familie oor winsgewende Eskom-steenkoolkontrakte en nadat twee raadslede verlede week bedank het.

Die Gupta-familie word tans ondersoek ná bewerings oor ʼn staatsvergryp.

Eskom het in die lang verklaring gesê die aantygings het daartoe gelei dat almal wat vir staatsbeheerde maatskappye werk, skuldig verklaar word tot andersins bewys word.

Eskom het verwys na ʼn artikel in verlede maand se Mail & Guardian, “The Gupta-owned state enterprises”, waarin beweer word dat die Gupta-familie en sy naaste bondgenote buitengewone invloed oor Eskom en verwante regeringsbeleid kon uitoefen.

Eskom het gesê dit is ʼn “desperate poging” om pasaangestelde raadslede en uitvoerende lede van staatsondernemings te beswadder, alhoewel daar geen bewyse is dat hulle enigiets verkeerd gedoen het nie.

Die kragvoorsiener het gesê sommige mediaberigte was verkeerd en misleidend en is geskryf op só manier om die bewerings te regverdig, ondanks ʼn gebrek aan getuienis om dit te staaf.

Eskom het gesê weens die ongunstige mediaberigte, is die professionele integriteit van raadslede nadelig beïnvloed, asook hul sakebedrywighede buite Eskom. “Sonder konkrete bewyse is dit tog sekerlik onregverdig. Hulle moet ook deur die grondwet beskerm word en onskuldig geag word totdat hulle skuldig verklaar word,” het Eskom gesê.

“Die negatiewe publisiteit beïnvloed die moraal van Eskom-werknemers en sy direkteure. Eskom het die afgelope maand reeds twee raadslede verloor wat waardevolle bydraes gelewer het aan die raad en sy bedrywighede.”

Eskom het ook ʼn verwysing gemaak na sy voormalige voorsitter, Zola Tsotsi, wat beweer het dat hy uitgeskop is toe hy geweier het om te voldoen aan die Gupta-familie se eise. “Indien die onlangse uitlatings deur die voormalige Eskom-voorsitter Zola Tsotsi akkuraat is, dat sommige senior bestuurders van die maatskappy korrup is, dan maan ons mnr. Tsotsi om die saak by wetstoepassers aan te meld, soos vereis deur artikel 34 van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede.”

Eskom het ook die “meerjarige kwessie” van die Hendrina-steenkoolkontrak bespreek. Tot onlangs was Glencore die eienaar van Optimum-steenkoolmyn en het ʼn langtermynkontrak gehad om steenkool te verskaf aan Hendrina-kragstasie tot 2018. Optimum het egter teen die einde van verlede jaar finansieel gesukkel nadat Glencore gesê het sy kontrak om steenkool aan Eskom te verskaf is nie lewensvatbaar nie. Glencore het Optimum uiteindelik aan die Gupta-beheerde Tegeta Exploration and Resources verkoop vir R2,15 miljard.

Volgens Eskom het hy geweier om weer te onderhandel oor die kontrak ná Optimum deur Tegeta oorgekoop is, en gesê hy sal Tegeta onder dieselfde kontrak hou wat tot 2018 duur. Eskom het Optimum ook met R2 miljard beboet oor die gehalte steenkool wat die maatskappy verskaf het.

Eskom het dit in daardie stadium benadruk dat dit nie saak maak aan wie Glencore die myn verkoop nie, solank Eskom net seker is dat sekere aspekte geldig en onveranderd bly. Van die ooreenkomste wat Eskom onveranderd wou laat bly, is die prys per ton teen R150, die ooreengekome volumes of aantal steenkool per jaar, die ooreengekome gehalte van die steenkool en die R2 miljard boete wat Optimum opgelê is, asook dat die kontrak tot 2018 moet duur.

“Nie een van hierdie voorwaardes het verander nie,” het Eskom Dinsdag in die verklaring bevestig.

Eskom het gesê dit is ook baie belangrik om kennis te neem dat hy ʼn dagvaarding teen Optiumum uitgereik het nadat die maatskappy versuim het om steenkool te verskaf wat voldoen aan die gehaltevereistes van Hendrina-kragstasie.

Wat Arnot-kragstasie se steenkoolvoorraad betref, het Eskom gesê Optimum en ses ander maatskappye verskaf al sedert Januarie steenkool aan dié stasie. Dit volg ná Exxaro se kontrak in Desember verlede jaar verstryk het. Eskom het gesê ʼn nuwe langtermynkontrak sal binnekort met die suksesvolle tenderaar of tenderaars geteken word.

Romeo Khumalo, raadslid van Eskom, het verlede week “weens tydsbeperkings” bedank. Die onafhanklike nie-uitvoerende direkteur Mariam Cassim het saam met Khumalo bedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

rudi ·

Ons was eens die goedkoopste betroubaarste verskaffer van elektrisiteit in die wereld. Voorlopers met kernkrag en maatskapye soos sasol. En nou lag die wereld vir ons. Die rippel na besighede en voorspoed is direk en hard en Eskom soos ANC het ons land op die drumpel van die grootste depressie in geskiedenis

Rupert Ashford ·

Ja Rudi. Moet egter nie die vuil hande van die groen beweging miskyk in hierdie gemors nie. Hulle het hulle neuse ingesteek in kraglewering om die prys van steenkoolkrag die hoogte in te jaag anders sou wind en sonkrag nooit lewensvatbaar kom wees nie. Organisasies soos Eskom het mooi saamgespeel en daar is baie ander korrupsie wat ook plaasgevind het. Maar moet nie die spul se skuld miskyk nie.

christine ·

Reeds Augustus verlede jaar het my seun uit New Zealand vir my gese die beurtkrag is die Guptas se skuld en die ganse New Zealand lag hulle siek vir ons regering. Dis vir hulle duidelik dat die Giptas uit die kontrak wil kom. Hulle kan nie steenkool lewer nie. Dis waarom hulle gevlug het. Die Guptas is van die lafhartigste nasies op die aardbodem. Een van die skelmste ook. Ek kyk nie eers meer krieket nie want dis onmoonlik om te bepaal of hulle wel gewen of verloor het. Zuma moet antwoorde verskaf, Hyt die verantwoorliikheid om ons te kom vertel waarom die hele land sonder krag gesit het. Meng jou met die semels dan vreet die varke jou op.

m ·

Hier is soveel korrupsie in hierdie land ons sal nooit die waarheid wees nie. Al wat ons weet is dat hierdie Gupta gespuis in feitlik elke storie betrokke is. Wonder net wie sponsor al hierdie gratis krag na Zimbabwe.

Frederik ·

Toe Glencore die myn bedryf word hul beboet met R 2miljard oor die swak gehalte van die steenkool uit die Optimum myn. As die Zuptas die steenkool daar myn, is Eskom tevrede met die gehalte. Bly die gehalte nie maar dieselfde nie, of wou Eskom met die boete Glencore dwing om die myn aan die Zuptas te verkwansel.

Anoniem ·

Al hoe om Eskom se krag verhogings te stuit is om kompetisie krag verskaffers in te bring waar jan publiek kan besluit by wie hy wil koop. Maar dis lekker om te droom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.