Só sê kenners oor geskiedenis as verpligte vak

skool

Skoolbeheerliggaamverkiesings skop af in Maart en het ‘n direkte impak op die gehalte van onderwys wat ‘n kind ontvang. Foto: Argief.

Die basiese onderwysdepartement se idee om geskiedenis as ʼn verpligte vak vir gr.10- tot 12-leerders in te stel is ʼn idee wat met talle uitdagings gepaard sal gaan en net met streng voorwaardes ingestel kan word.

Dit is die mening van kenners wat met Maroela Media gesels het nadat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, verlede week ʼn ministeriële verslag bekendgemaak het wat aanbeveel dat geskiedenis van 2023 vir gr.10- tot 12-leerders ʼn verpligte vak word. Die vak sal lewensoriëntering as vak vir dié drie grade se leerders vervang.

Marius Roodt, veldtogbestuurder van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) se onderwyshandves-inisiatief, het gesê hy is bekommerd oor die instelling van dié verpligte vak omdat daar tans nie genoeg onderwysers en ander hulpbronne hiervoor is nie.

“Dit sal moeilik wees om die gehalte van die geskiedenisonderrig te verseker. Daar is ook dan talle vrae oor of dit objektief onderrig sal word sonder om dit as ʼn instrument te gebruik om ’n sekere verhaal oor die land se geskiedenis te bemark.”

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het Vrydag in ʼn verklaring gesê die unie betreur die feit dat die georganiseerde professie nie deel was van die taakspan oor geskiedenis nie.

“Ten spyte van die minister se onderskeid tussen ʼn ‘politieke’ geskiedenis en ʼn ‘politiek gedrewe’ geskiedenis vind die SAOU dit onverklaarbaar dat die verteenwoordigers van die mense wat die nuwe geskiedenissillabus in die klaskamer moet implementeer – die onderwysers – nie in die aanvanklike navorsing betrokke was nie,” het Chris Kloppers, die uitvoerende hoof van die SAOU gesê.

Kloppers het bygevoeg dat dit vir hom ironies is dat die vak lewensoriëntering, wat tot nou as sentraal tot die onderwysleerplan beskou is, en dus basies onaantasbaar is, nou moontlik geskrap sal word om plek te maak vir geskiedenis as verpligte vak.

“Dit maak min sin en die vraag kan gevra word wat het verander om hierdie verskuiwing in denke te skep?” Hy het ook sy hoop uitgespreek dat die beoogde toekomstige konsultasieprosesse oor ʼn nuwe geskiedenisleerplan nie net kosmeties sal wees nie, maar eerlik rekening sal hou met alle perspektiewe.

Dr. Leopold Scholtz, ʼn onafhanklike politieke kommentator en historikus, het gesê hy dink dit is in beginsel ʼn uitstekende inisiatief om geskiedenis as ʼn verpligte vak vir gr.10- tot 12-leerders te maak maar hy het ʼn paar voorwaardes vir die instelling daarvan gestel.

“In talle lande word geskiedenis as vak – en kennis van die verlede in die algemeen – te veel verwaarloos. As jy nie weet waar jy vandaan kom nie, kan jy moeilik weet waarheen jy op pad is. Die wortels van die hede, met al sy probleme en voordele, lê immers in die verlede. As jy nie daardie wortels begryp nie, kan jy onmoontlik die hede begryp.”

Hy het gesê die probleem is egter hoe die verlede aangepak word.

“Die verlede is geen eenvoudige saak waaroor net ’n enkele siening moontlik is nie. Geskiedskrywing is tereg deur die Nederlandse historikus Pieter Geyl beskryf as ‘ ’n diskussie sonder einde’. Elke geslag stel sy eie vrae aan die verlede, en kry dus ander antwoorde.

“Jy sal nooit absolute konsensus oor ‘n vertolking van die geskiedenis kry nie.”

Scholtz reken die probleem kan egter op verskeie maniere aangepak word:

  1. Konsentreer allereers op die baar feite. Moenie jóú vertolking van die feite as feite aanbied nie.
  2. Laat ruimte vir uiteenlopende vertolkings. Erken dat mense verskillend na die verlede kan kyk, afhangend van uit welke hoek jy dit beskou, en dat anderse interpretasies heeltemal legitiem kan wees.
  3. Bied die uiteenlopende vertolkings aan as ‘n legitieme debat. Waak daarvoor om diegene wat anders na die geskiedenis kyk as jy, te demoniseer.
  4. Moenie die regerende party (wie dit ook al is) se vertolking as die enigste korrekte afdwing nie. Onthou dat politieke partye se vertolkings alte dikwels op politieke propaganda neerkom. Geskiedenisonderrig mag nie hiervoor misbruik word nie.
  5. Onthou dat die geskiedeniswetenskap geen sweep is om jou politieke opponente mee te slaan nie. Die taak van die historikus is nie om morele oordele te vel nie – los dit vir die politici, teoloë, filosowe en sulke mense. Die historikus se taak is drieërlei: (a) Om te beskryf; (b) om te analiseer; en (c) om te verstaan (wat nie dieselfde is as goedkeur of afkeur nie).

“Uiteindelik dus: geskiedenisonderwyser, hou jou by jou lees. Moenie politiek in die klaskamer probeer bedryf nie. Nie alleen is dit prinsipieel verwerplik nie; daarmee polariseer jy die gemeenskap nog verder,” het Scholtz bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Boetman ·

Aangesien hulle al klaar besef het LO het geen nut nie, raak nou al ontslae van die vak. Dit dien geen doel nie en die tyd van die vak kan vir ander meer belangrike vakke gebruik word. Ons as ouers leer in elk geval ons kinders die norm van die lewe, nie nodig dat dit deur onderwysers gedoen moet word nie, indien wel!

Veruschka ·

LO het ‘n baie groot rol. Meer as 80% van leerders in ‘n klas baat uit LO, want hulle het nie betrokke ouers nie. Mense wat se LO dien geen doel, het geen idee waaroor die vak gaan nie.

Anoniem ·

Hi Boetman jammer om jou bubble te bars maar dit klink lagwekkend as jy se ouers leer hul kinders die norm van die lewe. Een vraag asb en n verduideliking van jou kant as ouers dit wel doen hoekom gaan dit so ongedisiplineerd in ons skole. Wit meisies wat mekaar aanrand. Seuns wat dogetrs verkrag. Kinders wat ander met skerre en messe steek. Jong dogetrs wat swanger raak op skool. Onderwysers wat aangerand word in die klas. Wat se norm is dit. Beantwoord asseblief. Geskiedenis moet n vak wees wat vandie onstaan van Suid Afrika tot hede moet wees en nie net van die Mandela era af nie. Dan sal ander ook leer van hoe onderduims die zulu was en nog steeds is van Dingaan tot Zuma

Lana ·

Danien, dink jy regtig die aanbieding van Geskiedenis sal neutraal wees? Soos om uit te wys hoe “onderduims” die Zoeloes was.

Matrix06 ·

LO is n maklike 98% op jou eindeksamen, maklike manier om jou average op te stoot!

Boerseun ·

Dit is daai worde “streng voorwaardes”. Klink of ek terug in 1992 is

Nettie ·

@Danien & Veruscka – ons moet nie uit die oog verloor dat ons in baie skole sit met “rou” materiaal nie. Baie van die intreevlak leerders in sekere skole moet nog geleer word om basiese higiëne toe te pas en toiletmaniere aan te leer a.g.v. die feit dat hulle uit werklike haglike plattelandse omgewings kom.

Eers wanneer die basiese “menswees”-dinge aangeleer is, kan daar op ware onderrig begin konsentreer word. Dan sit jy weer met ouers wat nie skoolgeld betaal nie, kinders wat honger en kaalvoet of skamel geklee skool toe kom, kinders wat in ‘n “shack” woon met 15 ander mense in, waar daar nie behoorlik plek of lig is om by te studeer nie.

Dit gaan alreeds so swaar in die skole, waar baie leerders uit sekere ‘agtergeblewe’ skole en woongebiede nie eens die 30% slaagsyfer kan behaal nie en waar onnies nie opdaag vir die skooldag nie of hulle aan gruwelike dade met leerders skuldig maak of meisies so jonk soos 12 jaar swanger op skool is – hoe de ongeluk dink die Onderwys Departement gaan ‘n verpligte LEERVAK soos Geskiedenis i.p.v. Lewensoriëntering leerders van vandag enigsins baat?????????

jaco ·

Net voor almal nou weer gaan sê verpligte geskiedenis op skool gaan al die leerders breinspoel: ek was in die ou SA op skool. Einde 1985 gematrikuleer. Ek onthou hoe ons in die geskiedenisklas geleer is hoe reg apartheid, die driekamer parlement en swart tuislande was. In die godsdiensklas moes ons weer hoor dat apartheid die absolute wil van God was.
So dinge was in die “goeie ou dae” ook maar bietjie skeefgetrek.

Gerhard ·

En hoe is dit ‘n argument teen die aantyging dat die beplande verpligte geskiedenis slegs gaan oor om kinders te breinspoel.

Michelle ·

Ek kan nie onthou dat enigeen my geleer het dat dit reg was of nie.
My godssiensonderrig het oor die Bybel gegaan en geen politiek was betrokke. Geskiedenis was feite wat moes geleer word. En opinies en interpretasies verwelkom in debat. 88 Matrikuleer.
Ongelukkig of gelukkig (afhangend van hoe mens daarna kyk) het eerstehandse ondervinding my opinie ook gevorm. Afrika bly maar ‘n wrede onsimpatieke plek.

Nettie ·

@Jaco – ek weet nie in watter skool dorp/stad/provinsie jý in ’85 op skool was nie, maar ek was ook op hoërskool daai tyd en snaaks genoeg, ons Geskiedenisleer het opgehou by die Groot Trek en toe oorgeslaan na “Moderne Geskiedenis”.

Nêrens is ons eens geleer van die Anglo Boere-oorloë, die Zulu-oorloë, nie eens die 1ste of 2de Wêreldoorloë, Apartheid en die Grensoorlog het ‘n verskyning gemaak in mý Geskiedenisleer-handboek nie.

Ons het wel geleer van 1ste Minister PW Botha, sy kabinet, die Parlement ens. En in Godsdiensperiode is ons net geleer volgens die Heidelbergse kategismus – politiek het nooit dáár ‘n plek gehad nie.

Siek en sat ·

Laat hierdie regering nou maar hulle eie geskiedenis skryf. Jammer Jan van Riebeek dat jy nooit aan die Suidpunt van Afrika geland het nie. Jammer ook aan al die ander seereisigers wie se ware geskiedenis nou verdraai gaan word.

LO ·

Ek stem saam met Veruschka, LO maak vir my ook beter sin om dit te hou as verpligte vak eerder as Geskiedenis.

Sê maar net ·

Belaglik verby om geskiedenis as vak wat nog te sê van hoofvak te maak. As LO nie werk nie vat dit dan weg en skenk meer aandag aan wiskunde en wetenskap wat belangrik is

Basson ·

Waar was die konsultasie proses?

Ook – gee ons eerder ‘n verpligte Afrika taal dan, ipv Gesk of LO. Dit sal baie verder gaan vir alledaagse verhoudings as Politburo programmering.

Neels ·

Ek’t nie n probleem om geskiedenis as vak te he in skole nie, maar die probleem kom, watter geskiedenis dié regering gaan gee as feite. Skielik gaan die zulus 100 jaar vroeer in SA wees?

Gerhard ·

Enige mens met meer as twee breinselle weet die plan is om kinders met ANC propaganda te breinspoel.

Basson ·

Tussen hakkies, in baie gevalle en op baie vlakke is pro-ANC propaganda alreeds in skole ingebring, VERAL in Afr Taal, gedigte en Prosa. Dis skokkend om te sien watter ‘haatspraak’ (en vernedering) daar teen wittes is in die stukke wat die kinders moet leer, en moet anwoord volgens memoranda in eksamen,

Francois le Cochon ·

Ja, my kinders het op laerskool geleer dat natuurrampe net bestaansboere beinvloed, en nie ryk komersiele boere nie. (was so in die handboek aangedui)

snoefie ·

die blanke mentaliteit put my uit! dit word nie bevraagteken en aan die groot klok gehang nie Basson? om vredeshalwe moet geskiedenis eerder geskrap word. anders gaan dié geleerdery brein cANCer veroorsaak.

snoefie ·

die feit dat dit verpligtend is vir gre 10 rot 12 vertel !y dit gaan prima anc propaganda wees.

Pietman ·

Propaganda as verpligte vak?? Dit behoort weer ‘n goeie 60% van die blankes te breinspoel.

Simone Kay ·

Leopold Scholtz se kommentaar en advies is die beste moontlike manier waarop dit kan werk. Dit kan leerder aanmoedig om vir hulle self te dink en eie opinies te vorm as dit “reg” aangebied word.

Gerhard ·

Ons weet seker tog almal dit is verseker nie die ANC se plan nie om ‘n billike weergawe van die geskiedenis op jou af te dwing nie?

Al ·

Geskiedenis is ñ vak wat Gr 10 tot 12 leerders nie gaan help in die deursnee beroep nie. Laat dit ñ laerskoolvak bly as geskiedenis dan verpligtend is. A nee a, minister

Jannie ·

Minister erken dat LO ń oordadige vak is ons moet haar nou net oortuig dat geskiedenis dieselfde gaan uitdraai.
Gebruik daardie tyd vir eksra wiskunde en wetenskap onderrig baie ouers gaan baie geld spaar wat hulle huidiglik aan ekstra klasse betaal.

Lana ·

Baie kinders wil nie met Geskiedenis aangaan nie, omdat dit bloot nie hulle rigting is nie. Hulle hou niks daarvan. Hoekom hul tyd mors?
Ek vind dat hoe meer die Departement van Onderwys karring, hoe meer ouers haal hul kinders uit die skool en leer hulle by die huis.

Hanlie Geyser ·

Ek dink persoonlik moet hulle ophou met die strooi. Hulle slaag syfer oor die algeneem is maar iets soos 30%. Hoe kan kinders verder leer met minder as ‘n kwart se kennis van enige vak en dan nog om ‘n suiwer leervak as verpligtend te maak is belaglik.

Verspot ·

Dit is belaglik om die minste te sê! So jy is verplig om Afrikaans en Engels te doen Wiskunde en dan Geskiedenis! Soos dit is kan die kinders nie eers slaag met 30% nie, nou wil hulle dit nog erger maak. En wat doen jy na skool met geskiedenis, shu…baie bly die geskiedenis help my met my “tax returns” as ek begin werk!!! Dink bietjie jong, dink of het hulle ook geslaag met 30%…..

Casper Labuschagne ·

Ek vermoed dat geskiedenis as verpligte vak alles te doen het met die opkoms van ‘n swart nasionalistiese bewussyn asook die postkoloniale drang na vergelding teen die wit minderheid. Wat die regerende party beslis nie wil duld nie is ‘n polities apatiese jeug wat materialisme nastreef nie.

bgj van der westhuizen ·

die regering mors tyd aan goed wat nie nodig is nie moet eerder in vak in bring wat kinders leer om te werk vir wat jy in die lewe wil he en nie bak hand staan nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.