Só sê kenners oor Ramaphosa se eerste 100 dae

Cyril Ramaphosa (Foto: Cindy Waxa/African News Agency/ANA)

Pres. Cyril Ramaphosa is 100 dae in sy amp nadat hy in Februarie as die vyfde demokratiese staatspresident van Suid-Afrika ingehuldig is.

Politieke ontleders meen terwyl Ramaphosa se presidentskap reeds ʼn reuseverbetering op die Zuma-jare is, was sy eerste 100 dae as president beslis nie alles sonskyn nie.

“Vir ʼn verandering was die staatsrede nie ʼn soort sirkus nie en by die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, Switserland vroeër vanjaar kon Suid-Afrika weer ʼn leier in die veld stoot wat die ekonomie verstaan en internasionaal meer respek afdwing, en dit was alles ʼn groot verbetering op die Zuma-jare.

“Tog is daar ook minder positiewe sake, waaronder veral die grondkwessie en die diep verdelings en emosies oor dié saak,” sê prof. Theo Neethling, ʼn politieke ontleder aan die Universiteit van die Vrystaat.

Neethling sê alhoewel die DA die president ʼn ses uit tien gegee het, sal hy Ramaphosa darem so ses en ʼn half gee vir sy tyd tot dusver in die amp.

“Miskien was die verwagtinge wat baie mense buite die ANC van Ramaphosa gehad het, effe onrealisties. Die nuwe president het beslis ʼn paar goed reggekry, maar daar was sake wat sy pad met ʼn klompie dorings besaai het.”

Pres. Cyril Ramaphosa saam met passasiers aan boord ʼn vlug van Safair. Foto: Twitter via @CraygH

Waarin het Ramaphosa geslaag in sy eerste 100 dae in die amp?

Neethling meen Ramaphosa het daarin geslaag om van ʼn aantal omstrede en onbekwame kabinetslede ontslae te raak, veral ministers wat skynbaar by staatskaping gebaat het en tot die einde van 2017 oudpres. Jacob Zuma se hand versterk het.

“Die Ramaphosa-kabinet is beslis sterker as die kabinet in die laaste maande van die Zuma-bewind en die president kon ʼn aantal ministers wat in onguns by Zuma verval en hul poste verloor het, terugbring, waaronder Pravin Gordhan en Derek Hanekom.”

Prof. Deon Geldenhuys, ʼn politieke ontleder aan die Universiteit van Johannesburg, het ook die feit verwelkom dat Ramaphosa vroeg reeds van sommige onbekwame minister ontslae geraak het.

Neethling sê nog ʼn positiewe punt van Ramaphosa se eerste 100 dae as president is dat daar ook klopjagte op die Gupta-ondernemings en wonings uitgevoer is.

“Dit laat dit minstens lyk of senior regeringslui wat saam met die Guptas by staatskaping gebaat het, nie ongestraf sal bly nie.”

Hy sê verder Ramaphosa begryp die noodsaak om beleggings na Suid-Afrika te lok.

Geldenhuys het bygevoeg dat Ramaphosa beslis daarin geslaag het om afstand te bring tussen hom en sy voorganger en aan die wêreld te wys Suid-Afrika is onder nuwe bestuur.

“Sy klem op ekonomiese groei en die bekamping van korrupsie en wanbestuur in die openbare sektor is ook wyd verwelkom.”

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane.

Waar het Ramaphosa gestruikel in sy eerste 100 dae?

Neethling meen egter dit het ook gou duidelik geword dat die nuwe president met talle politieke beperkinge te make het wat sy gesag begrens.

“Die ANC as party is diep verdeeld en Ramaphosa geniet nie die steun van almal in die ANC nie. Daar is faksies wat hom nie goedgesind is nie, maar hy kan ook nie bloot links en regs van hulle ontslae raak nie. Daarvoor is die politieke risiko net te hoog.

“Die beste voorbeeld is waarskynlik die voormalige premier van die Noordwes, Supra Mahumapelo, en sy ondersteuners wat tot baie onlangs nog verbete geklou het aan hulle posisies.”

Geldenhuys sê dit is vir hom ook duidelik dat Ramaphosa in sy eerste 100 dae geweldig baie tyd aan interne struweling in die ANC en die drieparty-alliansie bestee het.

“Die spanning is beslis nog nie uit die weg geruim nie en dit kan Ramaphosa vorentoe in sy taak om te regeer, aan bande lê.”

Neethling sê verder die grondkwessie wat sedert Desember 2017 hoog op die ANC se program vir die toekoms was, het onmiddellik ʼn skadu gewerp oor Ramaphosa se eerste 100 dae met rassespanning wat selfs toegeneem het.

Volgens Geldenhuys staan Ramaphosa soveel tyd aan dié kwessie af omdat dit nie net ʼn partybesluit is wat hy moet uitvoer nie, maar sy hantering daarvan kan eenheid in die ANC en die drieparty-alliansie bevorder of ondermyn.

“Dit kan ook die mat onder die EFF uitruk of hulle nóg meer skietgoed teen die ANC gee. Kortom, Ramaphosa is onder enorme druk om radikale grondonteiening na te jaag.”

“Dan is daar die onlangse gewelddadige protesaksies in verskeie dele van die land wat ook gewys het die president het geen towerstaf wat hy oor die land kan swaai om alles vlot te laat verloop nie.”

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Jairus Mmutle, GCIS

Dít is waarop Ramaphosa nou verder moet fokus

Neethling sê hy sal graag wil sien dat daar onder Ramaphosa se leierskap beter rasseverhoudinge in die land ontwikkel. Hy glo ook die president se fokus moet nou wees op stabiliteit en ekonomiese groei in die land.

Hy vrees egter dat Ramaphosa se fokus te verdeeld is tussen die hoogs omstrede kwessie van grondbesit (wat rassespanning verder kan voer), en die transformasie van die mynwese met ʼn nuwe dokument wat die berugte Mynbouhandves van Mosebenzi Zwane, die vorige minister van minerale hulpbronne, sal vervang. En natuurlik ook die verdelings binne die ANC.

Ramaphosa het reeds vroeg belowe dat hy beplan om die kabinet in sy tyd as staatspresident, te verklein. Neethling sê Ramaphosa sal dit egter nie só wil uitvoer sodat dit verdelings binne die ANC verskerp nie en die party skade aandoen nie – veral nie op pad na die algemene verkiesing in 2019 nie.

“As die ANC in 2019 swakker gaan vaar by die stembus as in die verlede, gaan Ramaphosa onder groot druk binne sy party wees.”

Geldenhuys sê hy glo Ramaphosa is deeglik bewus van die druk op sy skouers om die ANC se vertoning by die stembus drasties te laat verbeter.

“Soos die gesegde lui, ʼn politikus hou sy oog op die volgende verkiesing, ʼn staatsman hou sy oog op die volgende geslag. Of Ramaphosa sal uitstyg tot staatsmanskap en ʼn samebindende nasionale leier sal word wat ook internasionale aansien geniet, sal net die tyd ons leer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Koos ·

Ramaphosa is ‘n uit-en-uit ANC lid en volle ondersteuner van die party, moet dit nooit uit die oog verloor nie.

Die party wat hy so voluit en met alle mag ondersteun, het reeds onomwonde bewys dat hulle in die afgelope 24 jaar bitter min bereik het in die verligting van hulle eie mense se behuisingsnood en die armoede verligtingsaspek waarop hy so hamer.
Bo en behalwe dít, het hulle talle voorheen suksesvolle strukture – dink aan plaaslike owerhede en gesondheidsdienste alleen – tot in die grond in vernietig en totaal en al in die skuld gedompel deur hulle korrupte en staatskapings optredes.

Met dit ingedagte, moenie té gou té veel positiewe dinge toedig aan Ramaphosa se sukses in sy eerste 100 dae nie – daar lê nog baie dae vorentoe waarin niemand met sekerheid kan sê wat bereik sal word nie.

Siestog DA ·

Plaas die DA eerder sy binnegevegte probeer stop. Die DA leier het nie eers die oordentlikheid om onverskoning te vra vir sy rasistiese uitsprake teenoor NIc en Naas nie. Hy was te vinnig op die rassekaart te speel wat verkeerd bewys is.
Ek gee die DA ‘n 2 uit 10 en ek glo baie sal saamstem.

Chris Ws ·

Cyril het homself nog geensins bewys nie.Die Grondonteinings kwessie gaan die land maak of breek want die internationale gemeenskap sit en kyk waarheen hy gaan daarmee.Dit sal beleggers of lok of totaal afskrik.Gelukkig het hy die EFF nou HEELTEMAL teen die anc daarmee.As hulle sou saamwerk met die komende verkiesing sou dit niks goeds vir die land inhou nie.Neewat Cyril is op die oomblik op dieselfde doodloop pad as sy voorgangers.

Oom Kalahari ·

CR se eerste 100dae het nie veel of enige verbetering getoon van sy vorige ANC kollega nie. Misdaad is vir hom geensins ‘n prioriteit (net politieke moorde), maar grondonteiening sonder vergoeding is vir die huidige mees belangrikste punt op die agenda. Dat hy meer verdeeldheid teweeg bring is ook nie uitgesluit en een kan net wonder wat sy agenda vir die toekoms inhou. Om ‘n land te bestuur met vele kenisse omring vir onderskraging kan enige een doen soos vorige Pres getoon het, maar om die regte leier en eienkappe te toon teenoor alle nasies en volke asook wereldwye skakeling is onder ‘n ander kategorie en verg meer om jou suksesse en akkomodering te weeg te bring. Die toekoms sal bepaal, maar intussen is dit die vinnige wedloop om stemme in te katrol vir 2019 en moet alles tans die massas sus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.