Só sê organisasies oor nuwe NVG-hoof

Adv. Shamila Batohi (Foto: GCIS)

Verskeie organisasies het Dinsdag reageer op die nuus dat adv. Shamila Batohi as die nuwe hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aangestel is.

Batohi sal die leisels oorneem nadat adv. Shaun Abrahams in Augustus die trekpas gegee is toe die konstitusionele hof beslis het die verwydering van Mxolisi Nxasana as hoof van NVG was ongrondwetlik en dat die aanstelling van Abrahams in sy plek dus ook ongrondwetlik was. Dr. Silas Ramaite het daarna as die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) waargeneem.

Dié aankondiging kom nadat 11 kandidate verlede maand deur ʼn uitmergelende onderhoudproses gesit is om die mees gepaste kandidate vir dié invloedryke pos te identifiseer.

ANC

Pule Mabe, woordvoerder van die ANC, het gesê die party verwelkom Batohi se aanstelling. “Dié aanstelling lui ongetwyfeld ʼn nuwe era in vir ons pogings om die strafregstelsel te versterk en sy is in staat om die mandaat sonder vrees of guns uit te voer.”

Volgens die ANC kon pres. Cyril Ramaphosa nie ʼn beter kandidaat aangestel het nie. “Sy het haarself bewys as ʼn kampioen vir geregtigheid met ʼn goeie begrip van die uitdagings wat dringende aandag moet geniet om die integriteit van die NVG te herstel.”

Cope

Dennis Bloem, woordvoerder van Cope, het ook Batohi se aanstelling verwelkom. “Ons is vol vertroue dat sy die waardigheid en integriteit van die NDOV en die mense se vertroue in dié amp sal herstel. Sy het ongetwyfeld ʼn baie moeilike taak om die NVG uit die greep van korrupsie en staatskaping te red. Dit gaan bietjie meer as ʼn wonderwerk kos, maar ons weet uit ons eie struggle dat wonderwerke bestaan uit harde werk, beginselvaste toewyding vir dit wat reg is en opofferings.”

Bloem het gesê sy party verwag van Batohi om enige politieke inmenging te verwerp, ongeag die oorsprong daarvan.

Demokratiese Alliansie

Adv. Glynnis Breytenbach, DA-skaduminister van justisie, het gesê die party verwag van Batohi om staatskaping trompop te takel as een van haar eerste prioriteite. “Dit beteken om weer klagtes aanhangig te maak teen die beskuldigde in die Estina-suiwelsaak; seker te maak dat pres. Jacob Zuma se aansoek om vrygestel te word van vervolging, teengestaan word; en dat dringende stappe gedoen word om die uitlewering van lede van die Gupta-familie te verseker sodat hulle in Suid-Afrika vervolg kan word.”

Breytenbach het gesê wat betref staatskaping moet Batohi ook seker maak dat die skenking van die omstrede uitvoerende hoof van Bosasa, Gavin Watson, aan pres. Ramaphosa se presidensiële veldtog, ondersoek word en, indien nodig, sonder vrees of guns vervolg word.

Die DA het Batohi gelukgewens met haar aanstelling. “Ons sal die nuwe NDOV meet aan die hoë standaarde wat Suid-Afrikaners verdien. Sy kan op ons ondersteuning staat maak as hulle die werk doen wat die wet van hulle vereis, en as hulle versuim om dit te doen, sal ons hulle aanspreeklik hou.”

VF Plus

Die VF Plus het Batohi geluk toegewens met haar aanstelling, maar wil haar terselfdertyd daarop wys dat sy ʼn reusetaak op hande het om die geloofwaardigheid van die kantoor te herstel.

“Sy sal in die eerste plek ontslae moet raak van die korrupte amptenare in die kantoor. Daar is vrot appels wat talle hardwerkende en goeie vervolgers tans ʼn slegte naam gee,” het Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, gesê. “Ten tweede sal sy aan die publiek bewys moet lewer dat sy nie gemanipuleer sal word deur die regering van die dag nie en dat sy sonder vrees of vooroordeel besluite sal neem.”

Groenewald het bygevoeg Batohi is gekwalifiseerd vir die pos. “Sy is in die reg geskool as staatsaanklaer in KwaZulu-Natal en was tot op hede raadgewer vir die Internasionale Strafhof. Die VF Plus hoop dat sy die belange van die mense van Suid-Afrika deurgaans voorop sal stel en die party sal nie huiwer om haar tereg te wys indien sy dit nie doen nie.”

Prokureursorde

Ettienne Barnard, medevoorsitter van die Prokureursorde, het gesê die organisasie verwelkom Batohi se aanstelling. “Ons is vol vertroue dat sy die nodige vaardighede, pligsgetrouheid, integriteit en onafhanklikheid het om die uitdaging te takel om ons vervolgingsdiens te lei en seker te maak dat ʼn stabiele direktoraat die publiek van Suid-Afrika doeltreffend en regverdig dien.”

Barnard en sy medevoorsitter Mvuzo Notyesi, het Ramaphosa gelukgewens met die deursigtige en inklusiewe proses wat hy gevolg het tydens die aansoeke, nominasies, kortlys en onderhoude.

Popcru

Die polisievakbond Popcru het ook Batohi se aanstelling verwelkom. “Ons is optimisties dat die deursigtige proses hierdie keer tot gevolg het dat ons ʼn onpartydige, gedissiplineerde en hardwerkende NDOV in die amp het,” het Richard Mamabolo, woordvoerder van Popcru, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

John ·

Beslis ‘n nuwe aura… Die dame kom glo uit Natal en van Indiese afkoms en het reeds een boertjie afgeransel… Ons kan sekere wees alles sal nou baie beter gaan by die Vervolgingsgesag soos by die SAL en by Eskom en by… Moenie weggaan nie, ons is na die advertensie weer terug…

DC ·

Hopenlik is dit die begin om die NVG weer op koers te kry. Dit klink of sy n pakkie dinamiet is wat kriminele laat sidder. Sterkte adv. Ons hoop dat jy die belang vd land voorop sal stel en vertrou dat jou aanstelling resultate sal oplewer. Ons sal ook samewerking wil sien met instansies wat hulle beywer om kriminele aan die man te bring.

Francois ·

Alice in Wonderland
She is just an ANC puppet !
Get real brothers and sisters !
Wake up …..again.

Rupert Ashford ·

Hoekom het die prokureurshorde twee voorsitters? As Ntoyezi die “chief”, sou daar nog plek vir Barnard gewees het??

Spark Plug ·

Daar is niks moeiliker as n kwaad vrou wat jy voor gelieg het nie. Revenge is sweet

Jerry ·

Shamila, al wat jy hoef te doen om die lofgesange wat jou toegedig word gestand te doen is om die daad by die woord te voeg deur eers die hele NVG kaderspoel te vervang met bevoegde personeel wie ook soos jy, skoon rekords het.

alwyn burger ·

Was dit nie die aanklaer wat Hansie gesink het nie?.

Maljan ·

Kom ons hoop dat familie inmengery ook geen plek sal hê nie.

zoom zoom ·

Behalwe vir Hansie se saak watter ander sake het die poppie om op te roem. Is daar iemand wat kan help??

Sarel ·

Ons fokus nou net op die NVG, in die provinsies lyk dit nog erger maar word nie aan die grootklok gehang nie. Hier is die tegniek dat die polisie beampte nie by die hof opdaag nie en so ook nie die dossier nie, dan word die saak van die rol geskrap en indien die publiek nie opvolg nie gaan die misdadiger vry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.