Só sê president oor skole

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: The Presidency/Twitter)

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand nuwe reëls rondom skole bekend gemaak te midde van die Covid-19-pandemie.

Hy het gesê minstens 408 052 gevalle van Covid-19 is reeds in die land bevestig. Dit is die vyfde hoogste getal gevalle wêreldwyd en verteenwoordig helfte van alle gevalle in Afrika.

Volgens die president beleef die Oos-Kaap, Gauteng en KwaZulu-Natal tans die hoogste toename in die getal gevalle van Covid-19. Daar is ʼn afname in die getal gevalle in die Wes-Kaap. “Dit wil voorkom of die Wes-Kaap moontlik reeds sy piek bereik het,” het hy gesê. “Ons bly egter waaksaam en paraat en pas streng voorkomingsmaatreëls toe.”

Ramaphosa het gesê Suid-Afrika beleef ook ʼn baie lae sterftesyfer met minder sterftes in vergelyking met lande wat dieselfde getal Covid-19-gevalle het. Meer as 6 000 persone het reeds weens Covid-19 gesterf.

Die president het gesê die gesondheid en welstand van skoliere en onderwysers geniet die hoogste prioriteit wanneer besluite geneem word oor of skole hul deure kan oopmaak. “Dit is net so noodsaaklik dat die vordering van leerders nie verhinder word nie. Ontwrigting van hulle opvoeding kan ʼn verwoestende impak hê op ʼn hele generasie. Dit is dus noodsaaklik om al dié doelwitte te balanseer.”

Ramaphosa het gesê sedert daar ʼn toename was in die getal gevalle in verskeie dele van die land, was daar versoeke dat skole weer moet sluit. “Die departement van basiese onderwys het die afgelope paar dae met meer as 60 organisasies vergader. Daar was ook gesprekke met die raad vir onderwysministers wat die provinsiale departemente verteenwoordig. Hierdie gesprekke het belangrike insig gebied in die ervaring van die verskillende belanghebbendes en het ʼn wye reeks van uiteenlopende menings tot gevolg gehad. Dit is belangrik om te noem dat dit moeilik was om konsensus te bereik oor die beste benadering, net soos wat daar verskillende sienings plaaslik en internasionaal is oor die omstandighede waaronder skole moet oopmaak. Waaroor almal egter saamstem, is dat leerders se gesondheid, akademiese en maatskaplike ontwikkeling, ʼn topprioriteit moet bly.”

Die kabinet het besluit dat alle openbare skole weer vir die volgende vier weke sal sluit. Dit beteken dat skole op 27 Julie sluit en weer op 24 Augustus oopmaak. Daar is egter ʼn paar uitsonderings:

  • Graad 12-leerders en hul onderwysers keer reeds op 3 Augustus terug skool toe
  • Graad 7-leerders en hul onderwysers keer op 10 Augustus terug skool toe.
  • Spesifieke reëlings sal getref word vir die verskillende kategorieë van spesiale skole.

Weens die ontwrigting, sal die huidige akademiese jaar tot ná 2021 verleng word.

Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, sal verdere besonderhede verskaf oor die bestuur van die res van die skooljaar.

Die nasionale skoolvoedingsprogram sal egter steeds voortgesit word sodat leerders of hul ouers steeds kos direk by die skool kan afhaal.

“Ek besef dat hierdie reëling talle leerders sal teleurstel wat graag wou terugkeer skool toe en dat dit ongerieflik en moeilik is vir talle gesinne wat nou alternatiewe reëlings moet tref. Ons vra julle egter om dit te doen, want dit is belangrik om seker te maak dat skole nie oordragpersele word in ʼn tyd waar gevalle vinnig toeneem nie.”

Hy het onderwysers en skoolpersoneel landswyd bedank dat hulle op die voorste linies was tydens die pandemie onder moeilike omstandighede.

Wat betref die R500 miljard-verligtingspakket wat in April aangekondig is, het die president gesê hy is besorg oor gevalle dat van die geld gesteel of verkeerd aangewend is of waar buitensporige pryse vir goedere gevra is of kospakkies weggelei is van behoeftige huishoudings, en waar daar korrupsie en wanbestuur is van staatsgeld.

“Ons hoor al hoe meer bewerings oor bedrieglike WVF-eise, buitensporige pryse vir goedere en dienste, misbruik van nood-aanskaffingsregulasies, sameswering tussen beamptes en diensverskaffers, misbruik van die verspreiding van kospakkies en vervalste niewinsgewende organisasies wat finansiering probeer bekom,” het hy gesê. “Ons het van die begin af gesê geen korrupsie sal geduld word in die aanwend van dié hulpbronne nie. Korrupsie plaas menselewens in gedrang.”

Verskeie voorkomingsmaatreëls is in plek gestel, waaronder regulasies deur die nasionale tesourie om seker te maak dat die nood-aanskaffing van produkte en dienste voldoen aan die grondwetlike vereistes van regverdigheid, deursigtigheid, mededingendheid en kostedoeltreffenheid.

Regulasies is ook in plek gestel om uitbuiting te voorkom en die beskikbaarheid van noodsaaklike goedere te verseker.

“Sedert die begin van die ramptoestand het die Mededingingskommissie reeds meer as 800 klagtes van buitensporige pryse ondersoek. Die kommissie het tot dusver reeds 28 maatskappye vervolg of ʼn skikking met hulle aangegaan. Boetes van meer as R16 miljoen is opgelê.”

Minstens 36 sake word ook tans ondersoek deur ʼn samewerkende en koördineringsentrum tussen die finansiële intelligensiesentrum, die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat, die nasionale vervolgingsgesag, die Valke, misdaadintelligensie, die speurdiens van die SAPD, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, die Spesiale Ondersoekeenheid en die Staatsveiligheidagentskap. Die sentrum ondersoek bewerings van korrupsie by die verspreiding van kospakkies, welsynstoelaes, die aanskaf van persoonlike beskermingstoerusting en ander mediese toerusting, en die WVF se spesiale Covid-19-skema.

“Om die proses te versnel, het ek vandag die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) opdrag gegee om enige onwettige of onbehoorlike gedrag te ondersoek in die aanskaffing van goedere of dienste tydens die ramptoestand by enige staatsinstansie. Dit stel die SOE in staat om enige bewerings te ondersoek oor die misbruik van Covid-19-fondse. As daar bewyse is dat ʼn misdaad gepleeg is, is die SOE verplig om die bewyse te verwys na die vervolgingsgesag. Die SOE kan ook met siviele prosedures begin om enige fondse te verhaal.”

Intussen het meer as 4,4 miljoen persone reeds die spesiale Covid-19-toelaag ontvang en R2,2 miljard is reeds uitbetaal. “Daar was vertragings in die uitbetaling, maar toekomstige betalings sal vinniger kan plaasvind, nou dat die stelsel in plek is.” Die toelaag sal oor ʼn periode van ses maande uitbetaal word.

In April, Mei en Junie het die Werkloosheidsversekeringsfonds se spesiale Covid-19-voordeel reeds R34 miljard uitbetaal en 7,5 miljoen werkers ondersteun en afleggings is by talle maatskappye voorkom, het Ramaphosa bygevoeg. Dié skema is nou met nog ses weke verleng tot 15 Augustus 2020.

Meer as R70 miljard se belastingverligting is ook aan maatskappye gebied.

Klik hier om die volledige toespraak te lees

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Persheks Adri ·

Korrupsie en omkopery en hulle voorsien net vir our people! Wanneer word NDZ en haar kinders vervolg huh? Hy sê hy’s besorg oor korrupsie ja right tata ma chance! Kyk om jou CR!

Oomniklaassevriend ·

Kinders wat die heel laagste risiko vir Covid -19 aansteking en oordraging het mag nie skooltoe gaan om te leer nie maar wel vir kos. Taxis vol pensionarise wat die hoogste risiko groep is mag ongehinderd ry. Dit is ook nie asof alle onderwysers stokoud is nie, die grootste persentasie onderwysers is aansienlik jonger as 60 jaar met gepaardgaande laer risikos vir die siekte.

Martie Smartie ·

Nee wat ek sien geen lig in die tonnel nie. Die matrieks moet dus maar die gewaande risiko aanvaar. Die gewaande risiko bestaan net in onderwysers se koppe op die platteland wat ‘n lekker verskoning soek om nog teen volle salaris by die huis rond te le. Dis reeds bewys uit statistieke dat slegs kinders met ‘n ander onderliggende siekte risiko loop. Is dit so moeilik vir Ramma om uit te dink dat ouers wie se kinders sulke toestande het bv asma, diabetes ens net kan aansoek doen dat die kind tuis bly vir ‘n sekere tyd en die res skoolgaan soos normaal met toepassing vd maatreels. Dis n vielike gewoonte vd ANC om almal oor dieselfde kam te skeer as hulle wil baas speel maar as dit kom by toelaes en hulp pakkette word teen blankes gediskrimineer. Hierdie stelsel is baie erger as apartheid.

Renee ·

Die amptelike brief van 22 Julle wat uitgelek het, waaromtrent is niks gese nie so hy hoop maar die nasie vergeet daarvan. Almal van ons weet dat die geld wat nou weer geleen is weer net vir vir BEE en spazashops en taxis om nou nog meer as 110% te laai. Ons staan nie n’ kans met die regering nie.

Persheks Adri ·

Stem saam met jou! Soos ek gesê het als is vir our people niks vir ons nie… Hulle DINK hulle is slim

Pieter ·

Wanneer gaan ons mense begin saam staan hier die komuniste speel met ons kinders se lewens en toe koms maar nog steeds staan ons nie saam nie. Die land het sy alie gesien geen skool geen skool fonds ek het nou genoeg gehad van die siek ANC komuniste.

Jan ·

In Suid-Afrika het 36 000 mense in 2018 aan griep gesterf. Elke jaar sterf meer as 60 000 aan TB. Dan het skole en die land normaalweg voortgegaan. Vanjaar gaan daar na raming 10 000 of dalk hoogstens 18 000 covid-19 sterftes wees. Al sou dit 40 000 word is daar steeds geen rasionaal aan die huidige maatreëls nie.

Die diefstal van ‘n groot deel van die 500 miljard was voorspelbaar – dít is hoe die land regeer word – alles word gedoen ter wille van die voordeel van die kaders, ook wat inperkingsmaatreëls betref.

Kobus ·

Elke keer as jy kommentaar lewer gaan jou getalle van griep op. Wat jy nie kan verstaan nie is dat daar beide vir griep en TB behandeling is. Vergelyk appels met appels. Gaan kyk na die getalle in Mexiko en Brasilia en na die res van die wereld – lig jouself in en lewer dan sinvolle kommentaar. Jou conspiracy teorie geld seker vir die hele wereld. Die situasie het ongelukkig so gepolitiseerd geraak in SA en die regering het geloofwaardigheid verloor, maar dit maak nie n klug wat aan die gebeur is in SA en elders in die wereld nie.

Johan ·

Kobus wat jy wil se dat almal wat corona kry sterf, toe nie kyk na die herstel syfer net soos met griep.

Sarel ·

Hoe kan hy verbaas wees oorckorruosie en diefstal. Dit vind vir jare al plaas . Mense wat skuldig was, was in due verkede bevorder. Nou te min te laat om ” VERBAAS” te wees

Renee ·

Smokkelary is nie n’ misdaad nie volgens die Minister nie. Hoe wil hulle korupsie uitroei?

Outop ·

En die vak unies, kopdoek en amptenare wat te lui is om te werk regeer! Nie ramaposer nie !

Dirk Mostert ·

Waarom die gewassery ( “gereedmakery”) van skole. As daar vir maande niemand in die geboue was nie, sal daar ook nie Covid19-virusse wees nie. Hul lewe mos net twee weke. Waar sou hul vandaan kom, uit die lug? Die skole wat nie “gereed” is nie, weens gebrekkige watervoorsiening, was ses maande gelede en die afgelope 26 jaar ook nie gereed nie.
Ramaphosa teen korrupsie? Gmf!! Zuma het ook gereeld korrupsie veroordeel. Niemand word vervolg oor staatskaping nie. Ten spyte van die Zondo-kommissie (R700 miljoen sover), is die skelms steeds op vrye voet.

antieke antie ·

bejaardes moes n groter toelaag gekry het want nie een van nou kan ekstra werk om ons pensioen ….wat baie min is en nie alles dek nie …te kan aanvul… ons is klaar baie kwesbaar..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.