Só sê staat verloop gebeure op Pampoenkraal

Dié vyf boere word aangekla van die moord op twee broers in Piet Retief. (Foto: Tania Heyns)

Die borgtogaansoek van die vyf mans wat van die broers Mgcini Amos Coka en Zenzele Coka se moord op die plaas Pampoenkraal in die omgewing van Piet Retief in Mpumalanga aangekla word, is tot Maandag uitgestel.

Die vyf mans bly tot dán in aanhouding.

Daniel Cornelis Malan (38), Cornelius Lourens Greyling (25), Othard Johann Klingenberg (53) en Ignatius Michael Steynberg (31) is reeds 11 dae in aanhouding. Zenzele Mzikayise Patric Yende (48) het Vrydag vir die eerste keer in ’n hof verskyn.

Die staat het Dinsdag die hoofondersoekbeampte, ao. David Nhlapho, na die getuiebank geroep om ’n samevatting van die verklarings van ooggetuies voor die hof aan te bied.

Die meerderheid van die verklarings is ná die skietery op die toneel afgelê.

Luidens die verklarings is ’n groep van sewe voormalige plaaswerkers op 9 April na Pampoenkraal om Greyling te spreek. Hulle was na bewering ongelukkig omdat Greyling mense van buite aangestel het terwyl hulle nie werk gehad het nie. Die groep wou glo “onderhandel”.

Op die plaas aangekom het van die ander plaaswerkers egter aangedui dat Greyling nie daar is nie en die groep het besluit om naby die ingang van die plaas vir hom te wag.

Luidens die verklarings het die tante van een persoon van die groep terwyl hulle gewag het gebel en gevra waar hulle is. Die tante het hom toe glo gewaarsku om versigtig te wees aangesien daar glo oor tweerigtingradio’s gesê is dat die boere beplan om hulle “aan te val”.

Volgens Nhlapho het verskeie boere tien minute later op die plaas opgedaag. Die groep van sewe het toe die plaas genader waar hulle byna 50 boere en plaaswerkers aangetref het. Die plaaseienaar, Werner Potgieter, het volgens die staatsgetuies opdrag gegee dat die groep mense aangekeer en aangerand moet word. Skote is glo toe reeds afgevuur.

Die groep van sewe het luidens die verklarings in verskillende rigtings gehardloop en een lid van die groep, Nhlanhla William Hlatshwayo, is aangekeer. Die res van die groep kon glo Hlatshwayo hoor om hulp skree. Die res van die groep het volgens die ooggetuies in die hardloop teruggekyk en gesien hoe Hlatshwayo geskop en geslaan word.

Van agter links: Daniel Cornelis Malan, Cornelius Lourens Greyling, Zenzele Mzikayise Patric Yende, Othard Johann Klingenberg en Ignatius Michael Steynberg in die hof. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Hulle het toe by familielede om hulp gaan aanklop.

Volgens Nhlapho was Mgcini, een van die broers, in sy voertuig vanaf Dirkiesdorp op pad toe hy deur lede van die groep voorgekeer is. Hulle het hom vertel van Hlatshwayo wat op die plaas deur boere aangekeer is en glo aangerand word.

Nhlapho het in die hof bygelas dat daar glo agt maande gelede ’n voorval op Pampoenkraal was waartydens drie mense doodgeslaan is. Een persoon het dié voorval oorleef. Volgens Nhlapho was die groep veral versigtig om Hlatshwayo te red in die lig van dié voorval. “Die mense was bang. Hulle wou ’n lewe te red toe hulle soontoe is.”

Die ondersoekbeampte het verder gesê Yende word glo in verlede jaar se voorval op Pampoenkraal geïmpliseer. Hy is tot op hede egter nog nie aangekla nie.

Luidens die verklaring is Mgcini toe in sy voertuig na Pampoenkraal gevolg deur nog ’n voertuig met insittendes wat ook wou ondersoek instel.

Hulle is eers na die een hek waar hulle boere en plaaswerkers op die plaas opgemerk het. Die boere was glo gewapen en Mgcini is deur die insittendes van die ander motor aangeraai om nie die plaas te betree nie. Hulle is toe na die ander hek waar twee van die boere se voertuie, ’n Ford Ranger en Land Cruiser, glo reeds die hek versper het.

Die groep, onder wie Mgcini, het glo híér ’n bebloede Hlatshwayo onder ’n boom opgemerk en daarop aangedring om op die plaas toegelaat te word sodat hulle hom na ’n kliniek kon neem.

Volgens die ooggetuies het Klingenberg hulle egter toegang geweier. Mgcini was egter vasberade om die hek oop te kry en hy is deur Klingenberg geslaan. ’n Struweling en skote het gevolg.

Nhlapho het getuig dat Mgcini van agter geskiet is waarna hy inmekaargesak het. Volgens die ooggetuies se verklarings het Klingenberg daarna vir Mgcini van naby in die kop geskiet.

Die ander broer is glo ook tydens die voorval van agter geskiet terwyl ’n ander getuie gesê het dat Malan skote op hom afgevuur het en hom die k-woord toegesnou het.

Volgens die ooggetuies het een van die boere ’n vuurwapen langs Mgcini neergegooi. Hy het later die vuurwapen gaan optel, maar van die boere het vir hom geskree om dit weer neer te gooi.

Nhlapho het gesê die polisie het 20 minute nadat hulle ontbied is op Pampoenkraal aangekom. Die boere wou volgens polisiebeamptes egter nie sê wat gebeur het nie, maar aangedui dat hulle eerder met hul regsverteenwoordigers wil praat.

Die polisie het tans ses patroondoppies in hul besit wat op die toneel gevind is. Volgens die ooggetuies het boere op die toneel nog doppies opgetel.

Die verdediging wou vanmiddag tydens kruisondervraging weet waarom die betogers nie die polisie die betrokke dag ontbied het nadat Hlatshwayo aangekeer is nie. Die verdediging het aangevoer dat die staat se getuies “nie oop kaarte speel nie”, valse verklarings afgelê het en onbetroubaar is.

Nhlapho het tydens kruisondervraging erken dat hy tot dusver slegs een weergawe van gebeure ingewin het.

Kruisondervraging sal na verwagting Maandag hervat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Persheks Adri ·

Natuurlik gaan die ondersoekbeampte sy eie mense se kant vat, want alles is mos net ons skuld in die land pffft! Nou moet die boere sit tot Maandag toe my genade. Ek dink hierdie gaan nog ‘n Senekal geval word dis nou net andersom met wie dood is hel

Johan ·

As hulle so bang is hoekom gaan hulle terug om te “onderhandel”? Ek weet nie hoe werk die boere nog met die mense nie…sterkte aan die mense wat ons kos produseer.

Chris ·

As mens “wit” is, is jy reeds “skuldig, ongeag die omstandigdhede. Dis hoe dit nou maar in ons land gaan. Hoe is dit moontlik dat oogetuies alles beaam, as sommige van hulle nie deel was van die sogenaamde vergadering nie? Ons arme boere moet baie lig loop, want ‘n vergadering met 7 mense, kon omswaai na 70. Wie sou weet? 11+ dae voor borg oorweeg sou word, maar vir ander word dit onmiddelik, gratis gegee om verder te plunder.

Pieter ·

Raak ontslae van ouer people laat die ANC vir hulle werk gee. Hoekom praat daai plaas werkers nie die waarheid nie. Maar nou ja daar is nie mand in die ANC die waarheid praat nie.

anko ·

Volg die voorbeeld van hul leiers. Geen trots en respek vir mens wees nie

Pieter J ·

Hierdie is maar net ń manier om hulle langer agter tralies te hou. Die staat het duidelik nie ń sterk saak teen hulle nie. Feite word verdraai deur die polisie. Jy kan ook nie onskuldiges agter tralies hou net om die vrede te bewaar nie.

Linx ·

Meineed is nogal n ernstige klagte,ek hoop van harte dit word in ag geneem.

Marius ·

Hierdie klink vir my soos nog n duimsuig storie , sodat hulle nie die skuld kry vir die gebeure nie . Hoekom word die boere nie getoets om te kyk of hulle n wapen gevuur het nie ? O ja die labs werk nie meer nie . Siestog . Baie sterkte aan die boere .

david ·

In die hele berig word verskeie “ooggetuies” se weergawes aan gehaal.

Tog erken die Nhlapo persoon dat hy slegs EEN Verklaring tot op datum ingewin het.

Tog word daar berig dat die meerderheid van die verklarings NA die skietery op die
toneel ingewin is.

As Nhlapo dan ‘n samevatting van die gebeure aan die hof kon voorle, -was dit gebaseer
op die enkel verklaring wat op sy eie erkenning die enigste was wat hy gehad het.?

Klink vir my uiters verdag.

Werner ·

Onderhandel met ysterpype knopkierries pangas.Net soos wat hulle kom werk soek het 3uur die oggend nadat hulle die veiligheidshek afgebreek het.Dink ons kan ons respek vir die sogenaamde reg verloor.

Jannie van Niekerk ·

Dit was ‘n beplande plaasaanval en niemand gaan my anders oortuig nie. Pres Ramspoedphosa en die ANC gesinde polisie is plaasaavanvalle goedgesind. Van wanneer af kom soek mens werk met wapens?

Andries ·

Die manne gaan ongelukkig nie skotvry hier uitstap nie, Maak nie saak wat daar gebeur het nie, daar is net te veel “witness” statements vanaf die oposiesie. As die regter in die Colingy saak, slegs op een witness wat later erken het hy het gelieg se woord, blankes vir meer as n jaar vir geen rede agter tralies kan laat sit,sonder enige gevolge staan die manne nie n kans nie.

Tiptol ·

Hulle ‘onderhandel’ word nie met woorde gedoen nie. Boere moes hulself seker beskerm. Hierdie getuies is darem baie eensydig.

Althes ·

Dis opvallend hoeveel skare boere lok wat aangekla word van moord.
Wanneer daar ñ moord is tussen 2 etniese groepe maak dit nie opslae nie, en is feitlik net familie wat daar is.

Boer ·

Die storie wat ek gehoor en gelees het op FB verskil dag en nag met die verklaring. Hierdie raak ook n groot ras ding en jammer om te se as die poliesie jare terug aandag gegee het aan plaas moorde dat het ons nie dit wat hier gebeur het gesien nie. Die waarheid sal wel uit kom en ek glo die boere sal vry kom.

Alet ·

En hy sê in die hof dis nog net een kant van die storie. Ongelukkig moet ons leer uit die voorval. Hulle sal kom om jou leed aan te doen en as die bordjies verhang word weet hulle presies hoe om die slagoffer te speel. En lieg vir mekaar om hulle sin te kry. Presies wat by Coligny gebeur het.

Nico ·

Die mense sal alles doen om die wit boere in ‘n slegte te stel, hulle is mos altyd onskuldig.

ES ·

Die staatsaanklaer het net een weergawe van die storie en le dit aan die hof voor? Hy is seker ‘n amateur aanklaer. Die hele weergawe van hul storie is verregaande!

Jannie van Niekerk ·

Die aanklaer is beslis n ANC, EFF of SAKP/Cosatu ondersteuner. Hulle lieg so dat hulle hulself glo.

Tjom ·

Les aan ALMAL: As jy vooraf WEET jy gaan in n moontlike konfrontasie wees, maak seker jy het video (bv go-pro of n getuie met n cell) of jy gaan n Piet Retief / Coligny statistiek word.

Tanya ·

Ek kan nie verstaan hoekom die “onderhandeling” in die eerste plek onstaan het nie, die Boere kan mos werk gee vir wie hulle wil en dis duidelik dat met hierdie tipe houding die Boere nie moeilikheid makers wil aanstel nie, veral omdat daar 8 maande tevore ‘n “geval” was nie. EK wil beslis nie sulke tipe, onbetroubare werkers in diens neem nie, net sodat hulle kan “onderhandel” en moeilikheid maak nie. Dis mos nonsens! Die staat se weergawe laat dit klink asof die “onderhandelings komitee” absoluut niks verkeerd gedoen het nie, “victims” op sy beste, ek glo dis natuurlik nie die geval nie, want ons almal weet mos al, sulke bekomstighede bring groot moeilikheid, nog elke liewe keer!

Jannie van Niekerk ·

Die doel was nie onderhandeling nie, die doel was ‘n plaasaanval. Mens kom onderhandel nie met wapens nie.

pieter ·

Nadat ek die berig gelees het kom ek tot die slotsom dat die probleem by die Werk soekers Le , onwettige betreding van eiendom , intimidasie , aanranding , ens , die ondersoek beampte is duidelik onbevoeg .
Niemand will sy lewe verloor nie , hoe beskerm jy jouself en jou eiendom ???.
Dàar is soveel rasse spanning in ons land , die regering doen nik’s daaraan om die situasie te beredder nie .
Die meeste mense wil in vrede en harmonie saamleef
Doen asb iets daaraan.

Danie ·

Dis die taktiek wat die onnosel massas van hul politici oorgeneem het.
Gooi van hul eie makkers onder die bus sodat n doel bereik kan word.
In hierdie geval om van wit boere ontslae te raak.
En n bonus is dat plase “oop” staan terwyl die eienaars in die tronk sit.

Hoekom ·

Hierdie verklaring klink vir my baie verdag.

Jy kan nie iemand vertrou wat nie waarde heg aan die waarheid nie. Hulle lieg net soos hulle politici…

Jannie van Niekerk ·

Hier lieg die “ooggetuie” net soos Coligny se “ooggetuie” gelieg het.

Regverdigheid ·

Mos wit so hul klaar skuldig dis mos hoe dit werk in die land . maak mens so kwaad.

gatgogga ·

Hierdie is die eerste van wat vorentoe baie gaan gebeur.
Dis waar groepe oortreders ‘n plaas indring, en ons weet dit gaan in geweld ontaard, maar wee die boer wat homself probeer beskerm.
So het dit in Zim begin, en ons regering het anderpad gekyk, soveel te meer gaan die bendes hier ook beskerm word.
Ek dink dit word van die gekaapte howe verwag om hier ‘n voorbeeld te maak van boere wat dit durf waag om hulle self tee te sit teen sulke betreders.

Andre ·

ASSEBLIEF!!!Ek hoop hierdie boere ry die polisie vir miljoene die aanklag teen hulle is n klomp snert

Casper ·

Wie het agt maande terug die 3 mense op die plaas doodgeslaan.?Hoekom het Nhlapo nie getuig of daar enige arrestasies in daai saak was nie?Coligny saak die tweede.Hulle het Pampoenkraal toe gegaan om konflik te ontlok.

Erika ·

Sekere meerderheids Rasgroep sal hulle eie mense se belange beskerm bo Reg versus Verkeerd (Beginsels ) Natuurlik onder dekmantel van werk – Personal Agendas maw Dubble Standards – Die Minority moet geruineer word mos…
As jy in Sekere Posisie is Moet jy Neutaal en Objektief en regverdig wees Ongeag Ras. Nie dit misbruik om op ander ras groep (insl Minority ) wraak te neem nie . PUNT

Jakes ·

Die beweerde skuldiges moet probeer om Gerrie Nel te kry om hul saak te beveg.

B-Man ·

Nhlapo het samevatting van verklarings gedeel… o, wag. Dit was net een verklaring.

James ·

Ek voorspel al vir jare: Wanneer daar konflik ontstaan tussen ‘n (swart) bende wat op ‘n plaas opdaag en gewelddadig raak, en (wit) boere wat mekaar bystaan om die teiken van die geweld te beskerm – SAL die Polisie die boere arresteer.

Ek was reg.

Verstaan EEN ding boere: Die Polisie, is nie aan jou kant nie. Beplan dienooreenkomstig.

Cecilia ·

Die tante wat gebel het is sy dalk n huiswerker wat haar werkgewer verraai die selfde werkgewer wat haar kos op haar tafel sit. Klink of sy die kwaadsteker is

Andre ·

Vir sekere mense is dit niks om moord te pleeg nie, dink jy nou regtig hulle gaan gepla wees deur meineed te pleeg!

Boerinmurgenbeen ·

Baie jammer om van die manne se penarie te hoor om onskuldig in die tronk te sit is nie lekker nie.
Het dit geondervind vind tydens Mugabe se grondgryp.
Kan die polisie manne wat partydig optree nie in hulle persoonlike hoedanigheid aangekla word nie, laat ons geleerde manne ons hier raad gee asseblief.
As die staat nie vir Wet en Orde kan sorg nie, kan daar nie ‘n plan gemaak word dat alle belasting geld van boere en toerisme organisasies wat nie deur die regering geonfersteun en gewaardeer word nie in ‘n ander fonds betaal word wat beskerming en bystand aan die betalers verleen sonder om van die regering se hulp of beskerming afhanklik te wees.
Eie staat binne in die staat.
Net my opinie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.