Só sê VF Plus oor Wes-Kaapse afstigting

Dr. Pieter Groenewald. (Foto: VF Plus)

Afstigting of sesessie is nie net ʼn geval van “ek is ʼn staat en basta met die res” nie. Daarom meen hy dit sal raadsaam wees vir die Wes-Kaap om tans binne die land se grondwetlike en wetsraamwerk die grootste mate van afwenteling van magte na die provinsie te bekom, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Maroela Media het hom gevra wat sy party se party se standpunt oor afstigting of sesessie vir die Wes-Kaap is.

“As ʼn mens die geskiedenis daarvan om sesessie te pleeg bestudeer, is dit duidelik dat sesessie op een van twee maniere gebeur, naamlik grondwetlik of met geweld.” Die geweldsopsie is vir sy party onaanvaarbaar, het die VF Plus-leier gesê.

“Dit is dus belangrik om die spesifieke grondwetlike bepalings van die spesifieke land waaruit afgestig wil word, in ag te neem. Die Ethiopiese grondwet stippel byvoorbeeld die proses uit hoe dit daar kan gebeur.”

Die VF Plus loop al ʼn lang pad met selfbeskikking, en dis nie om dowe neute nie dat Groenewald sy eerste parlementêre toespraak nadat sy party in 2019 hul setels in die Nasionale Vergadering van vier na tien opgestoot het, gewy het aan die “onafgehandelde besigheid” van die ooreenkoms tussen die ANC, die destydse Vryheidsfront en die Nasionale Party-regering in 1994 om die wyse waarop die reg op die konsep van selfbeskikking wat die Grondwet waarborg, in praktyk gestalte te laat kry.

Volgens Groenewald is daar baie grade en vorme van selfbeskikking, en die beginsel wat in Suid-Afrika ter sprake is, is subsidiariteit (om aan die hoër regeringsvlak slegs daardie magte toe te ken wat die laer regeringsvlak nie by magte is om uit te voer nie – dus soveel magte so naby moontlik aan die bevolking).

Binne ʼn Suid-Afrikaanse konteks beteken dit dat provinsies wat byvoorbeeld finansieel sterker is (soos die Wes-Kaap) meer regeringsfunksies oorneem as sommige ander provinsies.

“’n Goeie voorbeeld is die entstof teen die koronavirus. As die Wes-Kaap die vermoë het om die entstof te kry, moet hy toegelaat word om dit te doen.

“Maar dis nie net ʼn kwessie van nou stig ons af nie. Mense moet mooi kyk wat dit beteken. Neem die voorbeeld van die Katalane in Spanje waar die meerderheid afstigting steun maar die sentrale regering dit nie wil toelaat nie, en nou sit hul leier in die tronk en die strewe kry ʼn geweldsdimensie,” het Groenewald gesê.

“Dan is daar die voorbeelde van Brexit en Skotland se gevolglike eis vir nog ʼn referendum oor onafhanklikheid, en Quebec in Kanada, waar Frans voorrang geniet bo Engels.

“Die Vryheidsfront Plus is dus ten gunste daarvan dat die Wes-Kaap hom beywer vir meer magte op provinsiale vlak. Die Wes-Kaap het byvoorbeeld reeds sy eie geldige grondwet,” het Groenewald uitgewys.

Hy het gesê dit is dus belangrik om goed na art. 235 van die Grondwet te kyk. Die amptelike Afrikaanse vertaling van die Engelse basisteks lui: “Die Suid-Afrikaanse bevolking as geheel se reg op selfbeskikking soos in hierdie Grondwet vergestalt, belet nie, binne die raamwerk van die reg, die erkenning nie van die konsep van die reg van enige gemeenskap wat ʼn gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel, op selfbeskikking binne ʼn territoriale entiteit in die Republiek of op enige ander wyse, soos deur nasionale wetgewing bepaal.”

Art. 235 vergun dus volgens Groenewald nie as sodanig selfbeskikking nie, maar daar moet kragtens art. 235 nasionale wetgewing opgestel word waarbinne selfbeskikking kan plaasvind. Dit kan volgens hom ook samewerking tussen Afrikaanssprekende wit en bruin mense insluit.

“Dit is dus nie so maklik soos dat ʼn mens net jou eie staat kry nie. Eksterne selfbeskikking is die einddoel. Op pad daarheen is daar verskillende grade en vorme van selfbeskikking.

“Terselfdertyd is die akkoord oor selfbeskikking wat destyds tussen die ANC, die NP-regering en die destydse Vryheidsfront aangegaan is, nog nie afgehandel nie, en moet ʼn mens onthou die wêreldtendens neig tans na selfbeskikking,” aldus Groenewald.

“Dit is in elk geval nie vir ʼn politieke party om te besluit oor selfbeskikking, sesessie of afstigting nie. Dit is vir ʼn volk om te besluit. Maar die stem van die mense kan gehoor word as hulle stem vir die party wat die grootste mate van mag wil afwentel.

“Die rol van ʼn politieke party is om die omstandighede te skep waarbinne die grondwetlike beginsel van selfbeskikking kan floreer,” verduidelik hy.

“Wat die magspolitiek van die Wes-Kaap betref wil die VF Plus nie sien dat die ANC aan bewind kom nie, maar dit sal beter wees as die DA nie alleen regeer nie. Ons dryf onbeskaamd vir meer provinsiale magte. Die DA lyk of hulle dit wil doen, maar hulle wil nie te regs lyk nie,” verduidelik Groenewald wat hy as die DA se gebrek aan heelhartigheid sien.

Die VF Plus-leier het gesê geen referendum oor afstigting gaan plaasvind sonder die instemming van die nasionale regering nie, en ʼn referendum vir die afwenteling van spesifieke magte het ʼn groter kans op sukses as ʼn algemene referendum oor afstigting.

“Dit is veral die geval solank die ANC dit as ʼn afstigting vir wit mense beskou, wat dit nie is nie. Daar moet dus nou gekonsentreer word om die grootste mate van afwenteling van mag na die provinsies te verseker wat konkurrente funksies soos polisie en behuising betref.

“Dit is veral noodsaaklik om te besef selfbeskikking is ʼn lang wedloop wat hekkie vir hekkie aangepak moet word sodat verskillende vlakke van selfbeskikking bereik kan word,” het Groenewald gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Frans ·

Dit gaan eenvoudig nie gebeur nie,want die ANC sal nooit die gans wat die goue eiers lê toelaat om op sy eie die eiers ten gunste van ‘n minderheid te lê.Die gedagte druis bots reguit met die ideale wat in die ANC se Vryheidmanifes vervat is.
Jammer maar die kortsigtige NP het die kans verbeur toe hul opponente laggend die gesprek kamer verlaat het toe tot ‘n meerderheidregering ingestem is.

FM ·

Wees versigtig ja, moet seblief nie oor die eerste hekkie struikel nie

Piet ·

Dis verkeerd om ‘n strewe na selfregering noodwendig as ‘n “regse” denkwyse te beskou. Dit hang af van die doewit. As jou doelwit sou wees om selfregering vir ‘n sekere volk (soos die Afrikaner) te bewerkstelling in SA is dit konserwatief en regs. Vergelyk dit nou byvoorbeeld met die selfbestuurplanne van die Kaapse Party. Hier speel ras/volk/taal geen rol nie maar bloot ‘n strewe na ‘n beter outonome regering vir almal. Ek dink dit sal ook die uitgangspunt van die DA in die verband wees en wat die meerderheid Kapenaars moontlik sal ondersteun.

Robert Sydney ·

Maar natuurlik speel ras ‘n rol. Moenie naïef wees nie. Dink jy die swartes in die Weskaap gaan skielik hulle steun vir die idees van die ANC/ EFF/BLF opgee net omdat dit ‘n nuwe land is. Dink weer! Dit gaan maar net dieselfde probleme in die Weskaap veroorsaak. Enige oplossing moet alle feite in aanmerking neem.

Deon ·

En vir die wat “selfbeskikking ondersteun” draai die land net verder af in die diep donker gat in terwyl daar net gepraat en praat word sonder enige aksie na self beskikking se rigting…. Daar is n “onoffisiele spreekwoord, analysis paralysis” daar is altyd duisende redes om n ding nie te doen nie

AfghanBull ·

Dr Groenewald hou te veel daarvan om die ding ingewikkeld te maak, terwyl internasionale reg en presedent dit eintlik heelwat eenvoudiger maak.

christo ·

Dr. Groenewald ken die grondwet beter as die DA se John Steenhuizen. Hy maak nie onnodige geraas soos ‘n stout kind wat aandag soek nie. Hy het slegs die grondwetlike feite op die tafel geplaas. Daar is nie kort paaie in so ‘n gewigtige kwessie nie.

Josef du Toit ·

Waar ‘n wil is, is ‘n weg. Te veel klem op die weg te vroeg, verwater die wil. By die wil, hoort eerstens die waarom. Kaapse onafhanklikheid is alleen sinvol in sover dit geskoei word op Kaapse Afrikaanse (bruin Afrikaanstalige) nasionalisme.
Terwyl die Vryheidsfront Plus in ‘n waansinnige hunkering na getalle-politiek al verder homself van die Boere-Afrikaner vervreem, sal dit in elk geval nooit ‘n Kaapse Afrikaanse party wees nie, net so min as wat die tradisioneel blanke Engelstalige Demokratiese Alliansie ooit ‘n party van enige ander volk kan word.
Kaapse Afrikaanses sal veel groter blyke van volksbewussyn moet toon, waaruit ‘n eg suksesvolle Kaapse Afrikaanse drukgroep van een of ander aard sal spruit, voor daar hoegenaamd sprake kan wees van die moontlikhede van Kaapse onafhanklikheid. Eers dan kom die weg daarheen ter sprake, ten opsigte waarvan die Katalaanse mislukking inderdaad goed is om in gedagte te hou.

Chris ·

Dit is n beginsel besluit by die VF+ om alles wat die DA probeer dryf teen te staan. Mens sien dit op nasionale sowel as plaaslike vlak.

Jaco ·

My ander plan sal nou nie lei tot selfbeskikking nie, maar darem help om weg te kom van die ANC af: Joe Biden en sy Demokrate beheer nou die volle regering van Amerika. Dis sterk ingestel op human rights en oop grense en oop immigrasie. SA se president hou weer nie van SA se wit mense nie en mors rond met ons human rights. So kom ons vra ramaphosa en biden om saam ooreen te kom dat al SA se wit mense na die oop Amerika gedeporteer word. Dan is ramaphosa ontslae van die wit mense wat alles in SA so “ongelyk” maak en dan kan Biden se mooi oop immigrasiebeleid en klem op human rights sommer dien as goeie voorbeelde van watse “mooi” land Amerika nou is. Eerlikwaar, ek is bereid om met niks van vooraf in Amerika te begin. Dit is darem ‘n land wat, selfs onder die Demokrate, SONDER goed is soo beurtkrag, plaasmoorde, onbeheerde misdaad swak munisipale dienslewering, afbrand van voorstedelike treine, ens ens. BAIE goed wat in SA nie werk nie, funksioneer 100% normaal in Amerika.

Kanjynoumeer ·

DA in die Wes Kaap steun nie afstigting nie en daarom sal dit nie gebeur nie.

Kanjynoumeer ·

Ek stem 100% saam met Jaco.
Hoe ingewikkeld en gekompliseerd kan dit wees om ons as “wettige” immigrante te ervaar nie net in Amerika nie, maar ook in Europa.
Jy as wit mens moet selfversorgend wees en nie finansieël afhanklik wees nie. Onwettige immigrante is tog nie onafhanklik en selfversorgend nie. Gee ons wit mense in Suid-Afrika wat wil, n geleentheid om soos wettige immigrante te emigreer.
So sal dit baie politieke probleme oplos in Suid Afrika.
Ek vra net.

Jaco ·

Dié mense wat so graag vir Katalonië, Skotland en Québec wil laat afstig vanaf Spanje, die Verenigde Koninkryk en Kanada, moet almal net 1 week deurbring in dié swak bestuurde SA met sy totale minagting vir minderheidsgroepe. Hulle sal terugkeer na hulle lande en jammer sê dat hulle wou afstig. Lewensomstandighede in daardie lande is miljoene keer beter as in SA. Hulle beleef hoogstens bietjie taaldiskriminasie in Katalonië, maar Katalaans en Spaans is so verwant soos Afrikaans en Nederlands, so waarom kla hulle so? Dan ook, Spanje, die Verenigde Koninkryk en Kanada is SONDER beurtkrag, regstellende aksie, plaasmoorde, swak vuil staatshospitale, min of geen munisipale dienslewering. Waarom wil party mense dan daar afstig?

Kanjynoumeer ·

Jaco, google dit as jy nie weet nie.
Gaan besoek Spanje en vind meer uit.
Die geskiedenis en hede van Katalonië en ander gaan jou net verryk.

Jaco ·

Toe die verregse AWB in die 1980s van selfbeskikking en volkstaat gepraat het, het die regerende Nasionale Party dit afgeskiet as rassisme. Die regse Konserwatiewe Party en die ewe regse Herstigte Nasionale Party (dié 2 partye kon om duistere redes nooit saamwerk nie) het weer van ‘n volkstaat gesê “dit kan nie werk nie”. In 1991, toe almal al geweet het dat die ontbande ANC ‘n veelrassige verkiesing sou wen, het net 60 mense darem Orania gestig, maar na amper 30 jaar bly daar minder as 2000 mense, wat in 8 kerke verdeel is. Die amper 1 miljoen nee stemme van 1992 se referendum was in 1994 af na 425 000 vir die VF-Plus en daarna minder met elke verkiesing.
Ons het kanse gehad, maar toe was daar mos verskonings van “dit kan nie werk nie” en enersdenkende groepe wou ook nie saamwerk nie. G’n wonder die ou wit Nasionale Party regering wou ons het nie help nie. Na 1994 ook maar ‘n sterk gebrek aan belangstelling. Selfbeskikking nou is laat. Die anti-wit ANC sal dit nooit vir ons gee nie

Cherokee ·

re: ‘dié 2 partye kon om duistere redes nooit saamwerk nie’
Die KP is gestig kort na die HNP gestig is, met basies dieselfde grondbeginsels.
Ek het destyds gesê (op ‘n verhoog aan ‘n KP-kandidaat) dat die KP ‘n brein-baba was van die Nasionale Party. ‘n Stigting gereël deur mense soos Pik Botha en kie.
Dekades later is ek reg bewys toe Adv PJ Pretorius die boek ‘VOLKSVERRAAD’ geskryf het. Hy het dit bevestig. Die KP is gestig om die regsgesinde stemme te verdeel. Dit het egter nie gewerk tydens die referendum nie, want die KP het ook die ‘Nee stem’ ondersteun. In ons kiesafdeling het die KP aan my toestemming gevra om ons te help tydens die referendum. Ons het saamgewerk op verkiesingsdag.

Kanjynoumeer ·

Daar sal ook niks van die Verenigde Vryheids Alliansie (VVA) kom nie. Nee, ons slaap nie. Heeltemal bewus van hulle, maar helaas hoe lank praat hulle nie oor afstigting nie. Soos baie van ons redeneer, die tyd het verloop en mens moet positief wees, maar realisties.
Lees gerus die boek “Die pad na Selfbestuur, anderkant die mislukking van staatsbestuur van Flip Buys, Kraal Uitgewers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.