Só skommel Ramaphosa die kabinet

Pres. Cyril Ramaphosa (5 Augustus 2021) (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand verskeie skuiwe aangekondig in die kabinet.

“Ons het verskeie uitdagings in die land wat ons tans terselfdertyd moet aanpak,” het die president gesê. “Eerstens werk ons aan die versnelling van die inentingsprogram, tweedens moet ons vrede en stabiliteit in ons land verseker in die lig van onlangse geweld, en derdens moet ons alle hulpbronne mobiliseer om die ekonomie te herbou om verligting te bied aan die kwesbares.”

Ramaphosa het gesê veranderinge moet gevolglik in die kabinet aangebring word om dié take doeltreffend te takel. Terselfdertyd was daar ook ʼn paar vakante poste wat gevul moet word, waaronder weens die afsterwe van Jackson Mthembu, minister in die presidensie, en die aanstelling van voormalige adjunkminister Parks Tau as ʼn LUR in Gauteng.

“Nog ʼn pos is vakant gelaat weens die versoek van minister Zweli Mkhize om uit te tree as die minister van gesondheid om sekerheid en stabiliteit in dié belangrike portefeulje te bring.”

Tito Mboweni, die minister van finansies, het al vroeër ʼn versoek aan die president gerig om uit te tree. “Ek het vandag sy versoek toegestaan.”

Verandering aan staatsdepartemente

Ramaphosa het ook verskeie veranderinge aangekondig aan die samestelling van staatsdepartemente en ministeries:

  • Die ministerie van menslike nedersettings word geskei van die ministerie van water en sanitasie
  • Daar word weggedoen met die ministerie van staatsveiligheid sodat die politieke verantwoordelikheid geplaas kan word op die staatsekuriteitagentskap in die presidensie. “Dit is om seker te maak dat die land se binnelandse en buitelandse intelligensiedienste meer doeltreffend die president in staat kan stel om sy verantwoordelikheid na te kom om die veiligheid en integriteit van die land na te kom.”

Nuwe ministers

Wat betref die ministers, word die volgende nuwe aanstellings gemaak:

  • Minister in die presidensie: Mondli Gungubele
  • Kommunikasie en digitale tegnologie: Khumbudzo Ntshavheni
  • Verdediging en militêre veterane: Thandi Modise
  • Finansies: Enoch Godongwana
  • Gesondheid: Joe Phaahla
  • Menslike nedersettings: Mmamoloko Kubayi
  • Staatsdiens en administrasie: Ayanda Dlodlo
  • Kleinsake-ontwikkeling: Stella Ndabeni-Abrahams
  • Toerisme: Lindiwe Sisulu
  • Water en sanitasie: Senzo Mchunu

Minister Nosiviwe Mapisa-Nqakula sal in ʼn nuwe posisie aangestel word.

Nuwe adjunkministers

  • Adjunkminister in die presidensie: Pinky Kekana (tweede adjunkminister)
  • Landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming: Zoleka Capa
  • Kommunikasie en digitale tegnologie: Philly Mapulane
  • Samewerkende regering en tradisionele sake: Thembi Nkadimeng
  • Gesondheid: dr. Sibongiseni Dhlomo
  • Minerale hulpbronne en energie: Dr Nobuhle Nkabane
  • Staatsdiens en administrasie: dr. Chana Pilane-Majake
  • Kleinsake-ontwikkeling: Sdumo Dlamini
  • Vervoer: Sindisiwe Chikunga
  • Water en sanitasie: Dikeledi Magadzi

Zizi Kodwa word aangestel as adjunkminister in die presidensie verantwoordelik vir staatsekuriteit.

Paneel aangestel om sekuriteit-reaksie te ondersoek

“Drie weke het verloop sedert die land ʼn georkestreerde veldtog van openbare geweld, verwoesting en sabotasie beleef het. Ek loof opnuut die dapper optrede van ons sekuriteitsmagte op die grond wat deur ʼn moeilike situasie in die gesig gestaar is en merkwaardige selfbeheersing toegepas het om lewensverlies of verdere eskalasie te voorkom,” het die president bygevoeg. “Alhoewel die situasie bedaar het in die betrokke gebiede, en ons wetstoepassers hard werk om die verantwoordelike persone te vervolg, moet ons erken dat ons sekuriteitsdienste gebrekkig was in verskeie opsigte. As deel van die kritieke maatreëls wat ons onderneem om ons sekuriteitsdienste op te skerp en om seker te maak dat só iets nie weer gebeur nie, stel ek ʼn paneel kenners aan om ʼn deeglike en kritieke hersiening te doen van ons gereedheid en tekortkomings in ons reaksie.”

Die lede van die paneel is:
– Prof Sandy Africa (voorsitter)
– Adv. Mojanku Gumbi
– Silumko Sokupa

Die paneel sal alle aspekte van die land se sekuriteit-reaksie ondersoek en aanbevelings maak om dit te verskerp.

Om ondersteuning aan die president en die nasionale sekuriteitsraad te verbeter in die strategiese bestuur van die land se sekuriteit, word dr. Sydney Mufamadi aangestel as nasionale sekuriteitsraadgewer. Die posisie is al vakant sedert Charles Nqakula vroeër vanjaar uitgetree het.

“Baie dankie aan alle uittredende ministers en adjunkministers vir hul diens aan die regering en die mense van Suid-Afrika,” het Ramaphosa afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Snowball

Gwano vs hoendermis – dieselfde uitkomste, miskien net die geur wat verskil.

Santjie van Soendal

Weer eens is ELKEEN van daardie ministers aan my niksseggend…of nee, veelseggend…ek kan sien daar is geen Indiër, Kleurling óf Blanke kundigheid ingebring nie….nog Kaders…?

Anton

Nou voel ek sommer beter :-)

Pieter

Die Rand het klaar verswak.

Die name laat my terug verlang toe Potgietersrus nog sy naam gehad nie, het geweet Wie is Wie. Nou onbekende, onbevoegde name en almal nie weerspieëlend van ons demografie nie. Nou kan minister Sisulu toerisme tussen ons en Kuba bevorder en Thandi Modise kan haar plaasbestuur vaardighede op die weermag toepas.

SjN

Mhkize moet gefire en vervolg word, om af te staan vrywaar hom nie, hy het self sy bed opgemaak, Tito weet wat kom en het al baie gewaarsku oor die toestand. Odervinding,kennis,integriteit en onbevoegdheid is die ondergang aangesien slegs politieke aanstellings gedoen is. Ons beskik oor geskikte mense wat bevoeg is maar nie Kuba gene en kleur het nie, Modise moes n landbou pos gekry het aangesien sy n plaas besit en weet hoe dit behoort te werk, Hoedeman en Sisulu skitter nog steeds op die groepfoto, benoude katte maak benoude spronge. Die buiteland lag vir ons narre met die… Lees meer »