So sou begroting lyk met ’n DA-regering

Minister Tito Mboweni. (Foto: Nokuthula Mbatha/ANA)

Aan die vooraand van die minister van finansies,Tito Mboweni, se tertafellegging van die land se begroting Woensdag in die parlement, het die DA se skaduminister van finansies, Geordin Hill-Lewis, ’n omvattende en gedetailleerde alternatief uitgereik van hoe die begroting sou lyk as die DA aan bewind was.

Tans is die DA die enigste Suid-Afrikaanse opposisieparty wat hierdie tipe veeleisende oefening suksesvol aanpak, en hulle doen dit al baie jare. Verskeie van die DA se voorstelle is oor die jare ook al in begrotings opgeneem.

Die alternatiewe begroting gaan eerstens oor syfers en dit is ter insae beskikbaar, maar ook wat beleid betref, sal die insette versigtig bestudeer word.

Volgens die DA is veral vier aspekte (almal regstreeks weens swak ANC-regering) vir die land se begrotingspenarie verantwoordelik, en die DA sou dadelik stappe kon doen om dit reg te stel.

Die vier is eerstens die onbeheerste groei in staatskuld (wat beteken al meer van die begroting verdwyn in die betaal van rente eerder as dat dit op staatspligte bestee kan word), tweedens die skerp afname in belastinginkomste weens die flou ekonomie en die skade wat tydens staatskaping onder die bestuur van die Zuma-kornuit Tom Moyane aangerig is aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, derdens die voortgesette groei in die salarisrekening van die staatsdiens, en vierdens die miljarde rand wat heeltyd as sogenaamde reddingsboeie afgestort word in die bodemlose put van verskeie mislukkende staatsbestuurde ondernemings.

Die DA het uitgewys dat Mboweni en die tesourie presies weet wat gedoen moet word en dit elke jaar vroom en korrek in die begroting verklaar as beleid vir die volgende jaar, maar dat die ANC gewoon te slap is om die beleid uit te voer.

As die regering nie die durf het om huidige tendense te verander nie, sal die land se staatskuld binne drie jaar R4,2 triljoen beloop, of 67,5% van die bruto binnelandse produk.

As deel van die oplossing dien die DA nou ’n wetsontwerp in, en Hill-Lewis het die ANC gesmeek om dit in landsbelang deur die parlement te laat aanvaar. Die Wetsontwerp op Fiskale Dissipline stel onder meer ’n nuwe fiskale reël in dat (aanvanklik vir die volgende drie jaar, maar dit kan verleng word) staatskuld nie ’n groter persentasie van die bruto binnelandse produk mag wees as die vorige jaar nie.

Geordin Hill-Lewis. Foto: Twitter

Die Nasionale Vergadering kan luidens die wetsontwerp daardie fiskale reël elke vier jaar aanpas, en kan die reël vir ’n jaar opskort indien ’n onvoorsiene nasionale noodsituasie ontstaan. Die wetsontwerp stel ook ’n reeks ander fiskale reëls voor, met die voorskrif dat die minister as deel van elke jaar se begroting presies moet aandui hoe alle fiskale reëls nagekom is.

Een van die nuwe voorstelle in die DA-begroting om met ’n fiskale maatreël die land se elektrisiteitsprobleme te help verlig, is dat die koste van installasie van sonkragtoerusting ten volle van belasting terugeisbaar moet wees, tot ’n bedrag van R75 000. Dit behoort huishoudings in ’n mate van die Eskom-netwerk af te haal.

’n Ander kardinale punt in die DA-begroting is ingrypende voorstelle om die begrotingstekort uit sy vryval te haal. In totaal bereken die DA dat hul voorstelle die land meer as R349 miljard oor ’n driejaarperiode sal bespaar.

Die eerste groot voorstel (daar is baie kleiner voorstelle ook) is geen verdere reddingsboeie aan staatsbeheerde ondernemings nie (verkoop of besnoei dit wat onbekostigbaar is). Dit beteken R33 miljard wat nog nie uitbetaal is nie, kan uit die huidige Eskom-reddingsboei verhaal word (kritici van hierdie spesifieke voorstel wonder of dit nie die hele Eskom-netwerk totaal gaan sink nie. Realisties gesproke is die reddingsboei noodsaaklik totdat die huidige herstelplanne vir Eskom op dreef is. In praktyk sal Eskom-besparings om vir die verlies aan die reddingsboei te vergoed, soos byvoorbeeld afdanking van nie-noodsaaklike werkers, asook ander maatreëls van onseker aard, moeilik betyds ingestel kan word voor die uitbetaling van die beplande reddingsboei).

Twee ander beplande reddingsboeie waarvan die beplande opsegging beter ontvang word, is die besparing van R1 miljard aan Denel en die R1,1 miljard (die laaste derde van die huidige reddingsboei, wat nog nie uitbetaal is nie) aan die SAUK. Sowel Denel as die SAUK is naamlik strategies minder onmisbaar as Eskom.

Die tweede groot DA-voorstel ter verkleining van die begrotingstekort is om die salarisse van die 33,7% staatsdienswerkers wat nie aan die sogenaamde beroepspesifieke dispensasie onderhewig is nie, te bevries.

Dit beteken beroep- en bedryfspesifieke gespesialiseerde staatsamptenare soos staatsdokters, staatsverpleegsters, onderwysers en so meer sal salarisverhogings kry, maar baie ander nie-noodsaaklike werkers sal geen verhogings kry nie (as dit ingestel word kan die impak op die families van die laags besoldigdes, soos skoonmakers, dit onmenslik en ongewild maak, so kritici meen die salarisbevriesing moet ook nie onder ’n vasgestelde betaaldrempel geld nie).

Volgens die DA is die doel daarvan juis om verhogings vir oordadig betaalde senior en middelvlakkantoorwerkers teen te werk. Die DA bereken sulke salarisbevriesings sal die land R138,6 miljard oor die volgende drie jaar bespaar.

Bykomend hiertoe sou die DA R29,4 miljard oor drie jaar bespaar deur geen nuwe staatsdienspersoneel in posvlakke 11 tot 16 aan te stel nie (beroep- en bedryfspesifieke aanstellings uitgesluit – dit moet soos normaal voortgaan) totdat sulke nie-bedryfspesifieke poste met ’n derde verminder is.

Voorts stel die DA voor dat die versnelde vrystel van digitale spektrum R5 miljard vir die staat kan inbring, die verkoop van Telkom-aandele in staatsbesit kan nog R5 miljard inbring, en die uitsaaiseinverskaffer Sentech (tans in staatsbesit) kan verkoop word vir R8 miljard.

Oor die volgende drie jaar kan die staat R25 miljard bespaar as Suid-Afrika uittree uit BRICS se Nuwe Ontwikkelingsbank, en oor dieselfde tydperk kan R8 miljard deur die staat bespaar word as die implementering van nasionale gesondheidsversekering uitgestel of afgestel word, het Hill-Lewis gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Leon

Sels die DA bly pleisters op plak. Selfs hulle het nog nie die lig gesien nie en tas in die donker rond.
Daar is drie dinge wat die ekonomie sal regruk.
1) Skaf SEB af.
2) Skaf werkreservering af.
3) Stop grondgrype.
Dan sal die industrie in Suid Afrika belê en daar sak werkverskaffing kom en die ekonomie sal oplig.
Dit help nie om pleisters te plak nie. Kyk na wat die oorsaak is en verwyder dit.

Maria M S

As die ANC maar net wil luister na goeie raad, maar NEE, dan beteken dit mos hulle gee toe dat hulle dom besluite neem en ook nie (klaarblyklik) in staat is daartoe nie.

Frederik

Dit wil mos lyk soos besigheid

Simon

Ek sien niks in die DA se voorstelle rakende die besnoeiing van die magdom politici se vergoeding en voordele nie. Of mis ek iets? Begin sommer met die vermindering van provinsiale administrasies en provinsiale wetgewers. Die meerderheid van hulle is elkgeval oorbodig en dra niks by tot die land se welvaart nie. So terloops die skrapping van die totale onthaal uitgawe begroting van die Staat in al sy fasette asook die aankoop van nuwe kantoor meublement elke keer as een van die vet katte bevordering kry, sal nogal heelwat besparing teweeg bring wat baie meer vrugtevol aangewend kan word.

Grassie

Die DA se voorstelle klink goed. Mboweni is nie onnosel nie en ek glo hy weet dit ook – maar dit strook nie met die ANC se sosialistiese beleid nie. Soos Herman Toerien tereg opgemerk het kan sosialisme net bestaan solank iemand anders betaal en in hierdie geval is een van die “iemand anders” die instansies waar hulle geld kan leen. Dit is reeds oorbenut en gaan ook spoedig tot ‘n einde kom. Verder sal dit ook deur die vakbonde, wat eintlik die land regeer met ou Eish in die agtergrond, gekelder word. Die ANC regering het nog nooit na… Lees meer »