Só staan sake met Gerrie Nel se private vervolging

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, tydens die mediakonferensie (19 April 2018). Foto: Rozier van Tonder

As adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, sê hulle gaan iemand vervolg, kan ʼn stampvol mediakonferensie, ontledende artikels en ʼn uitgebreide debat op sosialemediaplatforms verwag word.

Nel het op 19 April tydens ʼn mediakonferensie in Centurion aangekondig dat die eenheid beplan om Julius Malema, leier van die EFF, en medebeskuldigdes vir bedrog en tenderkorrupsie te vervolg.

Maroela Media het met Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gesels om uit te vind waar die burgerregte-organisasie se eenheid staan met die vorige sake van private vervolging:

Kallie Kriel, Gerrie Nel en lede van Dube se familie. Foto: Maroela Media

Nel pak ‘n Zuma in eerste saak

“Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se besluit om Duduzane Zuma, seun van oudpres. Jacob Zuma, op ‘n strafregtelike klag van strafbare manslag te vervolg is ‘n oorwinning vir adv. Nel se private vervolgingseenheid.”

“Die druk was op die NVG en dit lyk of hulle besluit het dit sal ‘n eier in die gesig wees as hulle nie hul werk doen nie, daarom het hulle besluit om Duduzane eerder self te vervolg.

Kriel reken die groot vraag is of die NVG wel vir Duduzane sou vervolg het as Nel en AfriForum se eenheid vir private vervolgings nie daar was nie. “Ek dink die antwoord is doodeenvoudig nee.”

AfriForum het in Oktober 2017 aangekondig dat Nel en sy eenheid Duduzane privaat wil vervolg. Die eenheid het namens die Dube-familie ‘n skrywe aan die NVG gerig om aansoek te doen vir ‘n nolle prosequi-sertifikaat sodat private vervolging gedoen kan word. Die sertifikaat word benodig om met ʼn private vervolging voort te gaan en bevestig dat die NVG nie die saak verder wil vervolg nie.

Maroela Media het berig dat Zuma in Februarie 2014 met sy Porsche in Grayston-rylaan in Sandton teen ‘n minibustaxi gebots het. Phumzile Dube (30) is dood en nog twee mense, ‘n 72-jarige vrou en die taxibestuurder, is kritiek in dié ongeluk beseer.

Die geregtelike ondersoek wat daarna plaasgevind het, het bevind Duduzane was nalatig en dat hy vir strafbare manslag vervolg kan word. Die NVG het egter daarna besluit om hom nie te vervolg nie.

Kriel meen die NVG het onder die leierskap van die Zuma-administrasie ‘n organisasie geword wat mense met politieke verbintenisse beskerm, eerder as om teen hulle op te tree.

Hy sê die verloop van Duduzane se saak is ʼn bewys waarom daar ruimte vir private vervolging geskep moet word. “Selfs in gevalle waar private vervolging dan nie plaasvind nie, plaas dit druk op die NVG om hul werk te doen.”

“AfriForum het van die begin af gesê ons is bekommerd dat die NVG selektief vervolg. Ons wou almal gelyk stel voor die reg en hier het ons duidelik in ons doel geslaag. Die NVG vervolg nou iemand wat nie vervolg sou word nie omdat hy die seun van die voormalige president was.”

Kriel sê Nel se private vervolgingseenheid gebruik dié soortgelyke strategie in talle ander sake.

“Ons het ook aan die NVG geskryf dat ons ʼn private vervolg teen oudpres. Zuma en die Guptas wil instel. Die eenheid het selfs ʼn uitgebreide ondersoek teen hulle van stapel gestuur. Ek glo dit was in adv. Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging, se agterkop dat private vervolging ingestel kan word, toe die NVG oorweeg het om ʼn saak teen Zuma en Guptas in te stel.”

Kriel sê mense wil dikwels ook weet of die NVG doelbewus ‘n saak sal opmors al besluit hulle om self iemand te vervolg.

“Dit is nie so maklik nie. Die aanklaers in ‘n hofsaak is geregistreer by ‘n balieraad en die raad is nog onafhanklik. Kyk maar na iemand soos adv. Nomgcobo Jiba – die NVG het haar beskerm, maar die balieraad het haar van haar amp as advokaat onthef. Jy het dus nog daardie houvas op mense wat dit oorweeg om doelbewus te gaan droogmaak in die hof.”

Van links is Debbie en Gabriella Engels, Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, Katy van der Merwe, operasionele bestuurder van die AfriForum-trauma-eenheid en Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger. Foto: AfriForum

Grace Mugabe-saak

Grace Mugabe, die voormalige presidentsvrou van Zimbabwe, het in Augustus 2017 ʼn mediaherrie veroorsaak nadat dit aan die lig gekom het dat sy glo die Suid-Afrikaner Gabriella Engels (20) met ‘n elektrisiteitskoord in ʼn hotelkamer in Sandton aangerand het.

AfriForum het kort daarna gesê hulle sal Engels bystaan in haar soeke na geregtigheid.

“Wat die saak egter moeiliker maak, is die Suid-Afrikaanse regering se besluit om diplomatieke immuniteit aan Grace Mugabe toe te staan. Maar ons het al goed met die saak gevorder. Op 10 en 11 Mei sal ons in die Noord-Gautengse hooggeregshof verskyn in ʼn aansoek om haar diplomatieke immuniteit tersyde gestel te kry. As ons daar suksesvol is – en ons glo ons gaan wees – is die saak weer terug in die hande van die polisie om dit verder te ondersoek. Sou die NVG dan weer nie besluit om nie te vervolg nie, dan sal die private vervolgingseenheid intree.”

Kriel het benadruk dat hierdie soort sake gewoonlik baie lank neem. “Die wiele van die gereg draai baie stadiger as wat ek, AfriForum of adv. Nel wil hê, maar ons moet net sorg dat daardie wiel te minste aanhou draai, al draai hy stadig. Op die ou end glo ons dat geregtigheid in hierdie saak sal plaasvind.”

Adv. Nomgcobo Jiba. Foto: GovernmentZA/Flickr

Lid van ‘Zuma se binnekring” ook privaat vervolg

In November 2017 het Nel en AfriForum aangekondig dat hulle adv. Nomgcobo Jiba, ‘n voormalige waarnemende hoof van die NVG, privaat gaan vervolg.

Nel se eenheid tree namens genl.maj. Johan Booysen op en wil Jiba privaat vir bedrog en meineed vervolg. Jiba is ook wyd beskou as ‘n bondgenoot van oudpres. Zuma.

Die hof het in Desember 2017 gesê die NVG se besluit om nie vir Jiba te vervolg nie, was onregmatig. Weereens is Abrahams in ‘n posisie om te besluit of hulle haar nou verder gaan vervolg – en AfriForum gaan natuurlik druk op daardie proses plaas.

“As hy haar nie vervolg nie, sal ons aansoek doen vir ‘n nolle prosecui-sertifikaat.” Kriel sê indien die NVG nie besluit om die sertifikaat uit te reik nie, sal die eenheid ‘n mandamus-aansoek bring. Dit is ‘n aansoek waar jy die staat kan dwing om sy werk te doen – so ons kan vir Abrahams dwing om vir ons ‘n nolle prosecui-sertifikaat te gee.

Adv. Gerrie Nel en Monique van Oosterhout by die perskonferensie. Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Nel pak struggle-veteraan se seun

In Februarie vanjaar het Nel en AfriForum gesê die private vervolgingseenheid wil Alexis Bizos, seun van die menseregte-advokaat George Bizos, vervolg.

Dit volg nadat Alexis sy vrou, Monique van Oosterhout, glo verskeie kere aangerand het en die NVG besluit het om nie te vervolg nie.

Kriel glo die NVG het besluit om nie die saak verder te neem nie weens Alexis se pa se politieke verbintenisse.

AfriForum het aansoek vir ‘n nolle prosecui-sertifikaat gedoen, maar die NVG het gesê dat hulle dit nie in hierdie geval sal uitreik nie. “Ons is nou besig met voorbereidings om hof toe te gaan om die NVG met ‘n mandamus-aansoek te dwing om die sertifikaat aan ons uit te reik.”

Tientalle ander sake

Volgens Kriel het Nel omtrent nog ongeveer 200 sake wat tans op sy tafel lê wat hy verder vir moontlike private vervolging ondersoek.

“Ek dink mense wil dikwels weet hoekom ons nie sekere mense privaat vervolg nie, en daar is natuurlik ‘n sterk saak om dié spesifieke mense te vervolg, maar ons kan nie net instap en besluit wie ons wil vervolg nie.

“Die polisie en die vervolgingsgesag het steeds die eerste opsie om te vervolg. Dit beteken daar moet eers ‘n polisieondersoek wees. Die polisie los dalk die saak en dan moet ‘n mens eers hof toe gaan om hulle te dwing om hul werk te doen. Dan kom die saak by die NVG uit en hulle besluit om nie te vervolg nie en dan moet ons hulle hof toe vat om die sertifikaat te kry en dan kom ‘n mens eers by private vervolging uit. Dit is dus ʼn baie lang proses.

“AfriForum het besluit ons gaan hierdie soort goed aanpak, want as ons dit nie doen nie, gaan die regstelsel aanhoudend gemanipuleer word. Dit het ons nou ‘n jaar gevat om op ‘n punt te kom waar Duduzane vervolg gaan word, maar dit is absoluut die moeite werd.”

Kriel reken dit is te danke aan die grondwerk van Nel en sy eenheid dat die lang proses rondom Duduzane se vervolging nou uiteindelik vrugte afwerp.

“Ons volg nou dieselfde proses rakende die private vervolging van Malema en glo dit sal ook suksesvol wees.”

  •  Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het in Maroela Media se ateljee met Esté Meyer Jansen gesels oor die sake waarby adv. Gerrie Nel se private vervolgingseenheid tans betrokke is. Hy het ook meer agtergrond oor Julius Malema se saak gegee en verduidelik hoe dié eenheid se sake vir private vervolging gekies word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Basjan ·

Dit is fantastiese nuus wat ons nou hier gekry het! Dankie Maroela Media vir die uiteensetting wat julle gegee het.

Patriot ·

Afriforum sal moet sokkies optrek. Wat van die rasse klagtes ? Daar is soveel rassisme voorvalle aan hulle gemeld, maar daar het soveel dadels van gekom. Hoekom geld mors met die Grace Mugabe saak ? Gabriella Engels was `n vriendin van die Mugabe seuns, hulle partytjie het hand uit geruk en nadat hotel bestuur hulle wou uitsmyt oor skade aan hotel kamers het ou Grace onder die spul ingespring. Hoekom `n familie vriend van die Mugabes verdedig ? Sy is nie `n betalende lid van Afriforum nie , nou word lede se geld gemors op dit.

Tanzie ·

@Patriot, het jy dan nou nie die hele berig gelees nie?? Hulle sê mos dat dit ‘n proses is wat gevolg moet word. Hulle word nie en op ‘n dag wakker en besluit vir wie hulle vandag wil vervolg nie! As jy voel jy kry nie waarde vir jou geld nie, waarom dat jou geld mors? #wondermaarnet

Lana ·

Sy is ‘n SA burger. Afriforum staan ook vir geregtigheid vir mense wat te staan kom teen ‘n belangrike/bekende persoon, want dis juis in dié gevalle wat die NVG die sake laat vaar.
Op dié manier wys Afriforum ook dat hulle vir geregtigheid staan, ongeag ras of wié die persoon is wat gehelp moet word.

Lana ·

Tanzie, ek stem saam met jou. Die mense wat “die hawle” inligting het, is gewoonlik die ouers wat “die hele” kommentaar lewer. Dis baie irriterend. Mens sal meer as 250 woorde nodig hê om hulle te laat verstaan hoe dit werk, want party ouers WIL nie weet nie.

Lynette ·

Ek sou wou hê Malema moet vir haatspraak vercolg word, of is dit ‘n “te netelige kwessie” vir Adc. Nel??

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Lynette en Linda

Luister gerus na die onderhoud met Kallie Kriel van AfriForum boaan hierdie berig. Hy gee meer inligting oor die ander sake wat die burgerregte-organisasie teen Malema ingestel het. Hy verduidelik ook in die onderhoud hoekom die private vervolging van adv. Nel se eenheid tans op Malema se korrupsie en bedrog fokus, en nie op haatspraak en rassisme nie.

Groetnis

Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Paul ·

Lynette/Linda, waarom stuur julle nie ‘n versoek per e-pos in dié verband aan Afriforum nie? Hul kontakbesonderhede is hier onder op die blad, ek is seker hulle sal vir julle met graagte terugvoer gee, soos hulle nou met die sake hier bo gemaak het. Ek spreek onder korreksie, maar as ek nie verkeerd is nie, is daardie haatspraak sake teen Julius reeds aan die gang.

Alida ·

Ek hoop AL die lesers lees hierdie stuk sorgvuldig deur en probeer verstaan wat daar staan en ophou om neerhalende kommentare oor Afriforum te lewer. As jy nie verstaan nie gaan vra iemand om dit te verduidelik.

Patriot ·

Absoluut Lynette ! Afriforum sal geen rasse saak maak nie. Hulle trippel om dit en bly diskreet stil. As jy navraag doen, kry jy `n sms wat geld vra !

Lana ·

Aan almal wat al negatiewe kommentaar gelewer het i.v.m. Afriforum se privaat vervolging – LEES asb. die inligting hierbo GOED.
Dis baie irriterend wanneer iemand kommentaar lewer en ‘n mens besef die persoon het nie ‘n idee hoe dinge werk nie!!
ONTHOU – die proses vir elke saak neem baie lank. Julle vra in baie gevalle te vinnig wat hulle al bereik het.
Dankie, Afriforum, ek is ingelig en betaal met liefde my lidmaatskapsgeld!!

Eish ·

Goeie werk, bekwame mense en integriteit. Die tafel waar ek graag aansit. Doen so voort.

alwyn burger ·

Die vervolgings het niks met ras of weerwraak te doene nie. Dit het te doen met “system failures”.
Dit het te doene met ñ regering wat nie sy taak behoorlik verrig nie. As Afroforum nie die sake aanspreek nie, sal die regering ook nie.
Alwyn Burger

Joshua ·

Afriforum is besig om die propoganda te verloor teen die EFF en News24- elke dag word julle Ariforum en Afrikaners beskuldig van rassisme en as rassiste en al is dit onwaar moet julle onthou dat n leuen wat oor en oor en aanhoudend herhaal word later as die waarheid aanvaar word- doen iets omtrent dit onophoudelik.

Rupert Ashford ·

Dit is presies dieselfde wat gebeur het tydens die 90-94 era en verkiesings. Die behoudende mense is deur “ons” mediahuise verguis en as rassiste uitgekryt. “Ons” het dit daardie tyd geglo en die besluite wat “ons” geneem het op grond daarvan het “ons” selfbeskikking gekos. Praat met julle nageslag…prent die waarheid vir hulle in.

Jack Klok ·

Aan al die kla kouse: Ten minste doen Afriforum iets. Dis maar onlangs dat die DA ook druk via die hof op die ANC begin plaas het. Afriforum is al vir baie jare besig om die ANC pak slae in die hof te gee. Welgedaan Afriforum!!

Magda ·

Baie dankie Afriforum – ek gaan so gou as moontlik by jul aansluit. Baie dankie vir die werk wat jul al gedoen het en waarvan die vrugte al gepluk is. Doen asseblief so voort.
Dankie, groot dankie!

AG ASSEBLIEF TOG ·

Wat n vermorsing van lede se geld. Ek stop met onmiddelike effek my bydrae. Afriforum is n nil op n kontrak.

André Badenhorst ·

Doe zo voort, Afriforum! Behou die druk en moet julle nie laat afsit deur agtergrondgeraas nie. In Afrika moet jy sterk vertoon.

Van Riebeeck . . . Jan van Riebeeck ·

Ek lees nogals gereeld die kommentare van lesers en ek moet erken – ek is soooo gatvol vir die negatiewe, sinnelose en somtyds ondeurdagte kommentaar van sommiges! Kritiese en relevante kommentaar met alternatiewe voorstelle – ja, maar om net afbrekend te wees omdat jy die platvorm het, is siek – baie siek!

Ek is so Goddank bly ek is nie met een van hulle bevriend of woon saam met hulle nie, want ek sal mal raak (moontlik aanrand) om saam met so ‘n negatiewe en swartgallige skepsel te moet leef! Waarom kan julle nie iets positiefs in julle lewe raaksien nie?
Indien julle beter kan doen as AfriForum, doen dit!!
Wat bereik julle met julle negatiwiteit? Niks – julle ontbloot net julle swak, beperkte, mistroostige karakter.
Daar’s ‘n ou gesegde wat lui: Moenie van negatiewe mense wegloop nie . . . HARDLOOP weg van hulle!

AfriForum, julle hele span ROCK!! Dankie vir die “guts” wat julle het en om te doen dit wat julle doen. Indien dit nie vir julle was nie, was hierdie land van ons in nog groter gemors. Ek haal my hoed af vir wat julle doen en aanpak. Veel eerder julle as ek – want ek is nie so bekwaam soos julle span nie. Ek sit wel op die kantlyn en geniet en waardeer die “spel” – eerder as om die spel van hier af te wil speel ;-)

Rve ·

Al die sake wat genoem word is gevalle waar daar beslis geregtigheid voor moet geskied, maar ongelukkig poep Afriforum en adv Nel teen donderweer as die oorspronklike ondersoek half, of bevooroordeeld ondersoek was. Dalk moet hulle fokus op bedrog onbekwaamheid in die polisie en die NVG se strukture (‘n sekere knaap by name van Shawn Abrahams kom by my op). Ek is baie seker as die NVG besluit om ‘n saak nie verder te voer nie wors daar maar van kritieke bewyse ontslae geraak. Dit alles gesê, glo ek dat die private vervolging tog ‘n impak gaan hê.

Andre ·

Hulle praat baie en kry baie media tyd, maar eintlik doen hulle niks.
Mors van blanke mense se tyd en geld.

Reguit ·

Maak nie saak wat Afriforum of ou Van Riebeeck hierbo sê of doen nie. Die beste opsie (vir diegene wat kan) is steeds om daai walglike Azaniese hool te verlaat – ter will van julle kinders. Die spul liberales (kruipers) kan maar gerus voort ploeter en heerlik rond rol in hulle wonderlike riool put wat hulle vir hulself geskep het. Die res kry ek bitter jammer.

Elizabeth ·

Goeie nuus is skaars, maar hierdie is werklik fantastiese nuus!! Dit gee mens weer geloof in geregtigheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.