Só staan sake nou vir brandstofpryse

Foto: Brett_Hondow/Pixabay.com

In dié stadium is die verwagting dat die prys van petrol in Augustus verder sal styg terwyl die prys van diesel dalk vir die tweede agtereenvolgende maand goedkoper kan word.

Dit is volgens die Automobiel-Assosiasie (AA) wat sy vooruitskattings op ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds grond.

“Internasionale oliepryse het sedert die begin van Junie geleidelik opwaarts gedraai, hoewel daar ʼn geringe terugsakking was sedert die hoogtepunt op 11 Julie. Sedertdien het die prys van diesel gestyg terwyl dié van petrol dieselfde gebly het.”

Die AA voorspel dat die prys van petrol in Augustus met ongeveer 12c per liter sal styg terwyl die prys van diesel na verwagting 16c goedkoper sal wees.

Daar word verwag dat die onbestendigheid van die olieprys sal voortduur wat gepaardgaan met faktore soos Amerikaanse voorraadvlakke, politieke onstabiliteit in die Midde-Ooste en voortgesette Opec-uitsetbeperkings.

Die voorspelling van oliepryse op die mediumtermyn bly onderhewig aan groot onsekerheid, net soos die rand-dollar-wisselkoers.

“Die gemiddelde rand-dollar-wisselkoers het verlede week die vlak van R14,20 verbygesteek, ondanks die feit dat die rand vir die grootste deel van Julie sterker teen die Amerikaanse geldeenheid verhandel het,” het die AA gesê.

“Hierdie wisselvalligheid kan in werking tree voor die aanpassing gemaak word en kan selfs ʼn invloed hê op die vooruitsigte vir September.”

Die AA waarsku dat Suid-Afrikaanse brandstofgebruikers kwesbaar bly in die land se moeilike ekonomiese posisie en die wisselvalligheid van die internasionale olieprys.

“Enigiets wat die olieprys laat opskiet of die rand verswak het die potensiaal om skerp stygings in brandstofpryse te veroorsaak.”

Die prys van 93-oktaanpetrol het in Julie met 96c per liter gedaal en die prys van 95-oktaanpetrol met 95c per liter. Diesel met ʼn swaelinhoud van 0,05% het met 74c per liter gedaal en diesel met ʼn swaelinhoud van 0,005% se prys het met 75c per liter gedaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Annemari vd Schyff ·

Dit is ney ongelooflik hoe die EFF enige situasie kan verdraai om dit rassisties te kan noem

Grompie ·

Swak bestuur en onnoselheid en totale onbevoegdheid het Suid Afrika gedompel in n afwaartse spiraal Bo op dit is die binnegevegte in ANC besig om sy tol te eis .Hoe stupid moet jy wees as jy in lands belang moet optree en jou eie gierige magsbeheptheid jou dryf.Ga dit vrot en stink.Skeur Anc ons weet dit al 60 jaar lank want Afrika het reeds die boek geskryf.

Annemari vd Schyff ·

Dit is net ongelooflik hoe die EFF enige situasie kan verdraai om dit rassisties te kan noem

Chris Ws ·

Ek het nie nodig om kort kort te ry nie en het op 30 Mei my dubbel kajuit bakkie volgemaak en in Junie GLADNIE brandstof ingegooi toe pryse so hoog was nie.Het eers weer op 4 Julie volgemaak na pryse gedaal het.Rek my brandstof verbruik ook tot amper 15km/l met die 18 jaar oue Isuzu van my!En dis gemeet van vol tenk tot volgende vol tenk en afstand afgele so daar word NIE geskat op waar die naald op die brandstof meter le nie.Dis presies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.