Só styg petrolprys in Augustus

Argieffoto

Suid-Afrikaanse brandstofpryse sal weens die stygende internasionale oliepryse na verwagting volgende week styg. Dít ten spyte daarvan dat die rand vandeesmaand verstewig het.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) voorspel dat die petrolprys in Augustus tussen 9c en 14c per liter sal styg, wanneer die brandstofpryse volgende week aangepas word. Die AA verwag ook dat diesel met 48c en paraffien met 43c sal styg.

Die AA het Woensdag in ʼn verklaring gesê die aansienlike styging van die olieprys het veral ʼn uitwerking op die verwagte diesel- en paraffienpryse.

Luidens die verklaring het die rand in Julie ongeveer agt sent teenoor die Amerikaanse dollar versterk. Die gemiddelde rand/dollar-wisselkoers staan tans op R16,90.

“Te midde van die ekonomie wat nou meer as ooit tevore swaartrek, word die rand se effense verstewiging teen die Amerikaanse dollar verwelkom,” sê die AA.

Die AA sê sonder die verstewiging van die rand in Julie sou die brandstofstygings vir volgende maand nóg hoër gewees het.

“Met die onvoorspelbaarheid van die wêreldwye pandemie wat die olieprys nog verder kan beïnvloed, raai ons motoriste aan om pragmaties te wees oor die moontlikheid van verdere brandstofstygings en om hul begrotings dienooreenkomstig aan te pas,” sê die AA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

Hoe belaglik is dit nie ? Twee berigte van noodsaaklike items wat se prys verhoog word . Is dit nou die siek regering se manier om te wys hulle het beheer ? Hulle is net besig om hulle eie sukelende mense nog meer te verarm . Die anc wil duidelik nie meer in beheer wees van die land nie want hulle sit hulle self uit die stoel .

Robert

Skep sal hulle skep!

Esta

Derduisende het nie meer werk nie, kan nie eens kos koop nie, sit op straat…en nou DIT ? Regtig !!

capie

Dit is ook nie die rand wat verstewig nie, dit is die dollar wat teenoor alle geldeenhede verswak. Daaroor die hoër goud en olie pryse

Cheetha

Hoe pas mens jou begroting aan as jy werkloos is of minder geld verdien as wat dit kos om aan die lewe te bly. As jy 2 kinders op Universiteit het waarvoor jy moet betaal of hulle kan nie graad vang einde van die jaar nie, en dan koshuis gelde ook maar hulle word nie in die koshuis toegelaat nie?