Só swendel trio banke uit R27 m.

Adele en Marius Coetzee (Foto: Valke)

ʼn Egpaar en hul medepligtige is vandeesweek in die Bellville-handelshof in die Wes-Kaap aan tientalle klagte skuldig bevind en gevonnis nadat hulle banke uit miljoene rande bedrieg het deur middel van vals motorfinansieringsaansoeke.

Marius Coetzee, Adele Coetzee en Mariette Cupido was betrokke by ʼn voertuigaankoopskema waartydens hulle met bedrieglike dokumente by banke vir motorfinansiering sou aansoek doen.

Adele is as die meesterbrein agter die skema geïdentifiseer en is Woensdag aan 71 klagte van bedrog skuldig bevind. Haar man is aan 70 klagte skuldig bevind.

Die egpaar is in 2014 in hegtenis geneem nadat 73 bedrieglike finansieringstransaksies tussen 2012 en 2014 aan verskeie banke gemaak is. Dié bedrogspul het tot ʼn verlies van meer as R27 miljoen vir die bankbedryf gelei.

Zinzi Hani, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), sê die egpaar het as agente vir ʼn motorhandelaar in Malmesbury opgetree om kopers te oorreed om aanbiedinge te teken vir motors wat op die perseel te koop was.

Hani sê die ondersoekspan het destyds op tien voertuie op ʼn plaas in die omgewing van Brits in Noordwes afgekom nadat die Coetzees vanuit die Wes-Kaap daarheen gevlug het. Dit is hiér waar hulle in September 2014 in hegtenis geneem is.

Cupido, wat as verkoopsdame by die motorhandelaar op Malmesbury gewerk en die transaksies gefasiliteer het, is in 2017 tot die saak gevoeg.

Vonnisse

Adele is Woensdag tot 15 jaar tronkstraf gevonnis waarvan ses jaar vir ʼn tydperk van vyf jaar opgeskort word. Haar man, Marius, is gevonnis tot 15 jaar tronkstraf waarvan 10 jaar vir ʼn tydperk van vyf jaar opgeskort is.

Adele sal effektief nege jaar tronkstraf uitdien, terwyl Marius vyf jaar direkte tronkstraf sal moet uitdien.

Cupido is vir haar aandeel skuldig bevind aan twee klagte van bedrog waarvoor sy 60 dae tronkstraf en ʼn verdere 24 maande korrektiewe toesig opgelê is.

Al drie is ook ongeskik verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

007 ·

Hoekom vat so ‘n groot saak 8 jaar om afgehandel te word. En die straf is by vêr te min. R27mil is ‘n klomp geld.

Tanya ·

Presies wat ek ook gedink het….jislaaik ons land weet eenvoudig nie hoe om sake vinniger af te handel nie. Enige ander land sou dit binne 3-6 maande afgehandel het, in SA sommer 8 jaar! Nee wat, ek dink nie daar is meer hoop oor vir SA nie.

SlinkseKoljander ·

Bietjie in die tronk sit en dan leef soos konings, net in SA

Sarel ·

2012….2022..
Hoekom het saak so lank gesloer..
Dat eerlike mense nou by Banke aansoek doen word afgekeur…so min simpatie

Misky ·

Hulle is 2014 in hegtenis geneem en gevonnis in 2022. Wat mis ek? En so ligte straf, dat die bedrog amper aanloklik klink.

Genis ·

Darem gevonnis, Zumpie en bende op straat, VBS skelms in parlement = SA regstelsel…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.