Só vaar Noordwes-munisipaliteite  

(Argieffoto)

Noordwes beleef ʼn munisipale krisis met munisipaliteite in dié provinsie wat bykans permanent onder provinsiale administrasie is weens finansiële probleme en ’n onvermoë om dienste te lewer.

“Van watergehalte en vullisterreine tot finansiële bestuur en werkloosheid – die toestand van Noordwes se munisipaliteite is oor die algemeen betreurenswaardig,” het dr. Eugene Brink gesê tydens die bekendstelling van AfriForum se Sentrum vir Plaaslike Regering. Brink is die bestuurder van dié navorsingsentrum.

“Suid-Afrika verkeer al ’n wyle in ’n munisipale krisis en daarom is die soeke na antwoorde en die vervulling van ’n waghondfunksie nou belangriker as ooit.”

Die Noordwes Munisipale Indeks is ook tydens die geleentheid bekendgestel. Dié munisipale oudit ondersoek die demografie, sosio-ekonomiese toestand, diensleweringskwessies en bestuur van munisipaliteite. Elke verslag ontleed die munisipaliteite binne ’n spesifieke provinsie, en aan elke munisipaliteit word ’n indrukspunt toegeken wat uit tien tel.”

In Noordwes het die JB Marks-munisipaliteit, wat die Potchefstroom- en Ventersdorp-area bedien, die hoogste punt gekry – ʼn powere 4 uit 10. Die Moses Kotane-, Naledi- en Ramotshere Moiloa-munisipaliteit het ʼn punt van 3,5 uit 10 gekry terwyl meeste van die ander munisipaliteite slegs tussen 1 en 2,5 uit 10 kon behaal. Die Ratlou-munisipaliteit het die swakste gevaar met ʼn punt van 0,5 uit 10.

Dr. Eugene Brink.

“Minder as 10% van Suid-Afrika se munisipaliteite ontvang skoon oudits en meeste van die skoon oudits word in slegs een provinsie, naamlik die Wes-Kaap, aangeteken. Soos hierdie verslag aandui, is landelike provinsies soos Noordwes veral in die moeilikheid,” het Brink gesê.

Hy sê uit die beskikbare data is dit duidelik dat die ANC niks omgee vir dienslewering en die goeie bestuur van Noordwes se munisipaliteite nie. “Swak oudits en wanbesteding is aan die orde van die dag en verbeter eenvoudig nie. Terwyl behuising se syfers taamlik goed lyk, is dit ’n provinsiale bevoegdheid en nie munisipaliteite s’n nie. Die toestand en gehalte van vullisterreine, vullisverwydering, drinkwater, riolering, asook die werkloosheidsvlakke dui alles op ’n langstaande krisis.”

Volgens Brink is die idee van die Sentrum vir Plaaslike Regering om spesialissteun vir die werksaamhede van AfriForum Gemeenskapsake (GMS) te bied. “Die sentrum gaan plaaslike selfbestuuropsies vir gemeenskappe ondersoek en ook navorsing doen om die ware toestand van munisipaliteite toe te lig. Laasgenoemde sal sake soos munisipale korrupsie en dienslewering aanroer. Dit sal dus as sowel ’n intellektuele voertuig vir selfbestuur as ’n munisipale waghond optree.”

Brink sê die plaaslike verkiesing vind vanjaar in ’n tyd van groot ekonomiese agteruitgang plaas. “Dit gaan reusedruk op munisipale begrotings plaas en die staat was reeds voor die Covid-19-pandemie nie in staat om alles te doen nie. Dit gaan net versleg en gemeenskappe sal noodwendig self oplossings moet soek want stem gaan nie alleen die antwoorde bied nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Francois ·

Dit is seker hoekom hulle die name verander het, sodat geen mens weet waar hulle geleë is nie.

OW ·

Noordwes provinsie is al in die moeilikheid sedert 1994 toe Popo Molefo en Matsebang mekaar nie kon vind nie.Baie sterkte met die Sentrum vir Plaaslike Regering.Dit kan beslis self regering en munisipale regering versterk.

Kokerboom ·

Die Noordwes fiasco het al begin destyds met inkorporering van destydse Bophuthatswana met Popo as premier. Die sentiment van vernietiging en wanbestuur het sy ontstaan by pogings tot omverwerping van Boph met kern in destydse Mafikeng. Sedertdien het alles net total verswak en platgeval en Sentrale regering het hopeloos gefaal tot tans!!! Dis uiters tragies.

Annelize ·

En Rustenburg? Ek gee Rustenburg -10/10. Net vanmore het ‘n PRIVAAT mense self ingespring om ‘n gebarsde pyp self reg te maak in ‘n besigheidsarea. Die besighede was reeds vir NEGE dae sonder water, met geen hulp vanaf RLM nie.

Di ·

Wys my ‘n plek in hierdie land wat reg bestuur en in stand gehou word soos dit hoort. Sedert die nuwe regering oor geneem het, het als ten gronde gegaan.

Irma ·

Dien munisipaliteite nog enige doel? Kan hulle maar nie almal ontbind en inwoners self dienste lewer nie.?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.