Die Vrystaatse polisie waarsku motoriste om paraat te wees vir kapers wat voorgee dat hulle beseer in die pad lê om só motoriste te flous. Dit volg ná ’n man Saterdagaand in Rocklands, Bloemfontein, só ’n rat voor die oë deur kapers gedraai is.
Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê hulle is op die spoor van vier vermeende kapers wat ’n motoris (30) Saterdagaand in Leepilestraat in Rocklands, Bloemfontein, voorgekeer en sy voertuig gekaap het.
Die motoris het die aand omstreeks 21:00 in Leepilestraat gery toe hy skielik deur twee mans gestop is. Die mans het hom ingelig dat iemand beseer is. Die man het ’n “beseerde” in die pad sien lê. Hy het uit sy motor geklim om die “beseerde” man te help, maar die sleutel in die aansitslot gelos.
Makhele sê net nadat die man uit sy voertuig geklim het, het iemand van agter ’n lap oor sy mond gedruk. “Die man sê hy kon nie onthou wat daarna gebeur het nie,” sê Makhele.
Die man is ’n ruk later deur onbekende mense wakker gemaak. “Hulle het hom van die straat af opgehelp en huis toe gehelp,” vertel Makhele.
Die man se voertuig, ’n 2013 Volkswagen Polo, met die nommerplaat FZT 195 FS is gekaap.
Makhele sê die saak is by die polisie aangemeld.
“Enigiemand met meer inligting wat tot die inhegtenisneming van die skuldiges kan lei, kan dit by ondersoekbeampte Jacques Wilson by 082 465 5945 of Kagisanong se speurders by 051 409 5607 aanmeld.”
Genl.maj. Solly Lesia, die provinsiale polisiekommissaris van die Vrystaat, waarsku motoriste teen die nuwe wyse waarop kapers motoriste ’n rat voor die oë draai. “Deurdat hulle voorgee om in die pad beseer te lê, lok hulle die motoris uit sy voertuig en kaap só sy of haar voertuig,” sê Lesia.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
10 Kommentare
Hierdie is die sluste wesens wat op twee bene rondbeweeg!
Dan het hulle darem vir jou blink planne om vinnig geld te maak, alles behalwe om te werk.
Ek stop vir NIEMAND langs pad nie, al moet ek oor hulle of deur veld ry, maak nie saak hoe vol bloed hulle is nie. Gaan nie kanse vat met my gesin se lewens nie.
Ek wonder of hulle sal bly le as ek nie stadiger ry nie…?
Die storie van ‘n lap wat oor die mond gedruk word dan raak jy aan die slaap en word later deur “onbekende persone ” wakkergemaak klink ietwat verdag.