Só verduidelik US sy taalbeleid

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Die Universiteit Stellenbosch se raad en senaat het vandeesweek ’n taalbeleid aanvaar wat vereis dat almal ingesluit word en sal kan deelneem in klasse, koshuise en universiteitstrukture, sover dit redelikerwys doenlik is.

Om te bepaal wat redelikerwys doenlik is, word elke geval op meriete en aan die hand van kontekstuele faktore oorweeg, naamlik die getal studente wat by ’n bepaalde metode sal baat vind, die taalvaardigheid van personeel en studente, en hulpbron- en lokaalbeperkings.

Hoe presies dit prakties moet gebeur, sal aan die begin van elke module in klasverband, en periodiek in koshuisverband en universiteitstruktuurverband onderling uitgewerk en ooreengekom word, omdat omstandighede verskil, is Vrydag tydens ’n mediavoorligtingsessie verduidelik.

Die beleid is met 159 stemme teen 17 aanvaar in die universiteit se senaat, en met 21 stemme teen 3 in die universiteitsraad.

Aangesien daar anoniem deur die invul van stembriewe gestem is, is dit nie moontlik om te bepaal wie presies vir watter opsie gestem het nie, of dat enigeen se bewering dat hy of sy vir of teen die taalbeleid gestem het, korrek is nie.

Universiteitsverteenwoordigers, insluitend dr. Antoinette van der Merwe (wie se taak dit was om die daarstel van ’n nuwe taalbeleid te koördineer), dr Leslie van Rooi (die universiteit se taalwoordvoerder) en prof. Daresh Ramjugernath (viserektor: leer en onderrig) het die nuwe beleid aan mediaverteenwoordigers verduidelik en vrae daaroor beantwoord.

Benewens al tien fakulteitsrade en ’n veelheid universiteitsrolpelers kon die publiek ook voorleggings maak. In die eerste geleentheid daartoe is 297 voorleggings deur die publiek gemaak, en in die tweede geval 330. Verskeie hiervan was gelykduidend (presies dieselfde woordkeuse) of ingedien vanaf dieselfde e-posadresse, deels uit klaarblyklike misgissing dat ’n eksklusiewe benadering (van getal voorleggings) eerder as ’n inklusiewe benadering (om akkommoderend te wees) sou geld.

Binne die senaat was die groot strydpunte nie meertaligheid of Afrikaans as sulks nie, maar eerder onsekerheid of die meertaligheidsbeginsel (of, indien nie, slegs Engels) moet geld vir sekere kursusse in die fakulteite regsgeleerdheid en ingenieurswese, waar daar kursusse is wat binne die nasionale kwalifikasie-voorskrifte nog vis (voorgraads, dus meertalig) nog vlees (nagraads, dus nie noodwendig meertalig nie) sou geld.

Die debat binne die universiteit was dus volgens Van der Merwe kompleks en by tye veranderlik, met deelnemers wat van gedagte sou verander namate bykomende inligting bekend word. Dit was bepaald nie ’n blote debat oor Afrikaans nie, maar ook byvoorbeeld oor die erkenning (in akademiese en omgangsverband) van taalvariasie en taalvariëteit – asook vir mense wat tale om die beurt wil gebruik.

Dit was veral ’n debat wat uiteindelik om uitvoerbaarheid gewentel het. Baie lesse hieroor is uit die geleefde praktyk van die 2016-taalbeleid geleer. Die departement Afrikaans en Nederlands het spesifiek ’n verteenwoordiger in die proses gehad.

In hierdie verband het die universiteit sy konsekwente en sterk teenstand (soos trouens van die eerste dag af) teen die regering se huidige onwilligheid om Afrikaans as inheemse taal te erken, nie net bevestig nie, maar in die taalbeleid opgeneem.

Die universiteit het besluit om die hele proses openbaar te maak in belang van openlikheid en ten einde die impak van verdagmakery te verminder. Die tersaaklike inligting is beskikbaar op www.sun.ac.za/taal.

In’t kort volg die taalbeleid ’n buigbare benadering met ’n meertalige ingesteldheid. Daar kan aparte lesings in Afrikaans en Engels wees. Met ’n kombinering van studente van verskillende taalgroepe in byvoorbeeld tutoriale, en ondersteuning vir diegene wat sukkel met Afrikaans of Engels waar dit redelikerwys moontlik is.

Tweedens kan sowel Afrikaans as Engels in dieselfde lesings gebruik word. Alle inligting sal in Engels beskikbaar wees, met opsommings in Afrikaans. Vrae word beantwoord in die taal van die vraag indien die dosent taalvaardig is daarin. Eerstejaarsmodules word gedoen deur simultane tolking op die perseel of aanlyn.

Derdens kan onderrig slegs in een taal (Afrikaans, Engels of Xhosa) geskied, met simultane tolking.

Alle voorgeskrewe leesstof sal in Engels wees. Voorgeskrewe leesstof (nie gepubliseerde materiaal nie) sal beskikbaar wees in Afrikaans en Engels waar redelikerwys doenlik. Moduleraamwerke en studiegidse sal in Afrikaans en Engels wees. Waar dit redelikerwys doenlik en ’n pedagogiese behoefte bestaan, word Xhosa en ander tale ook gebruik.

Assessering en vraestelle is voorgraads in Afrikaans en Engels, en nagraads ten minste in Engels. ’n Omvattend uiteensetting van die omvangryke werk van die universiteit se taalsentrum is ook gegee, sowel as ’n presiese verduideliking van waar om klagtes in te dien as iemand meen die taalbeleid word oortree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Samuel

Die US kan verduidelik waarom Afrikaans nie meer welkom is by die kampus nie, dit is eenvoudig . Die leierskorps skaam hulle vir Afrikaans.

Hennie

Waarom in Afrikaans studeer om in Engels te werk. Maak net nie sin nie. Engels berei jou soveel beter voor om te emigreer.

tweeling

So wat sê Wim nou? Tevrede?