Só verloop nuwe LP’s se eerste werkdag

Die gebou van die Nasionale Vergadering op die perseel van die parlement in Kaapstad. Foto: www.parliament.gov.za

Dit wemel vandag by die parlementsgebou, wat sedert die middel van Maart maar woes en leeg was, soos wat nuwe parlementslede opdaag om hul nuwe werkplek te verken en ’n nuwe hoofstuk te begin.

Die nuwe LP’s het gisteraand van oral in die land af in die Kaap begin aankom en word tans in hotelle gehuisves terwyl hul huisvesting in die aansienlik nederiger parlementêre dorpies Akasiapark, Laboria Park en Pelican Park toegewys word.

Nuwe parlementslede – duidelik uitkenbaar aan die opgewonde maar ietwat verdwaasde manier waarop hulle op die parlementsterrein ronddwaal – is van vanoggend 10:00 af by die besoekersingang in Pleinstraat neffens die standbeeld van genl. Louis Botha op sy perd ingewag deur ’n parlementêre amptenaar wat elke nuwe LP ontvang het. Van daar is hulle begelei na die Ou Volksraad met sy groen afwerking, waar ’n fotosessie eerste op die agenda was sodat elke LP ’n toegangspermit tot die parlement kon kry.

Daarna is hulle na die Volksraadsvleuel se voorportaal geneem waar al hul persoonlike besonderhede afgeneem is, soos byvoorbeeld hul bankbesonderhede sodat hulle darem teen die einde van die maand ’n ou salaristjekkie kan ontvang.

Na daardie administratiewe beproewing was dit af met die lang, dun gang op die rooi‑en‑goue tapyt na een van die mooiste dele van die parlement – die ouwêreldse en tradisie-deurweekte parlementêre ledebiblioteek, met sy rakke en spiraaltrappe waar die boeke, koerante en tydskrifte verdiepings hoog staan.

In die biblioteek moes die parlementslede hul besonderhede gee vir die parlementêre mediese fonds, en is ’n tablet, ’n skootrekenaar en ’n selfoon aan elke LP uitgereik. Hulle het ook hul uitnodigings en reisreëlings na die inhuldiging van die nuwe president Saterdag op Loftus Versfeld in Pretoria ontvang.

Aangesien die DA die omvang en koste van die inhuldiging as absolute geldmors beskou, gaan slegs ’n klein kernspan van die partyleierskap en Gautengse LP’s en LPW’s die inhuldiging bywoon om die belastingbetaler geld te bespaar.

Nadat die nuwe LP’s hul skootrekenaars, tablette en selfone ontvang het, is hulle na hul partye se hoofswepe se kantore sodat hulle hul kantoorsleutels kon kry. Elkeen het ook ’n middagetekaartjie gekry vir ’n ete bestaande uit skaapvleis, groente, rys en malvapoeding wat bedien is in die parlementêre eetsaal af in die gang vanaf die Ou Volksraad.

Dit is in daardie geskiedkundige ou eetsaal dat die Britse eerste minister, Harold Macmillan, in 1960 sy beroemde “Winde van Verandering”-toespraak gelewer het tydens die ampstermyn van premier Hendrik Verwoerd.

Dinsdag sal die politieke partye hul eerste koukusse hou en sommige partye sal swepe verkies of aanwys. Woensdag word lede van die Nasionale Vergadering ingesweer deur hoofregter Mogoeng Mogoeng. Daarna kies hulle hul speaker en adjunkspeaker, en dan die nuwe president, gevolg deur toesprake ter gelukwensing.

Donderdag word lede van die Nasionale Raad van Provinsies deur Mogoeng ingesweer, en kies hulle hul voorsitter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johan ·

Met hulle salaristjekkies waarvan die meeste mense droom, kan hulle sekerlik selfone en rekenaars bekostig? En die meeste van die ander byvoordele. Ek vra maar net!

James ·

En ons betaal die hotel kostes.. previously disadvantaged???

Adam ·

Gelukkig kan ons die houe vat. Ons betaal immers al van voor 1994 vir die luukses.

Gert van Wierdapark ·

Patetiese beplanning. Dis mos logies dat die huis-vesting in die “nederige” dorpies gereed moet wees voor die Soustrein instoom. Hoe gaan die arme bloedjies nou aanpas na die luukse verblyf in die Hot-elle? Die Skok gaan seker vir ten minste n week of twee nog in hul gestelle wees. Hopelik is die medies en berading nie te duur nie!! Dalk sal bietjie “afvat” ook help!

Dries du Toit ·

In die ou dae was ons saam met hulle opgewonde oor die nuwe begin. Nou kry ons n beklemming om ons harte oor wat se korrupte bedrywighede weer vir ons voorlê. Dan moet ons nog betaal daarvoor. Dit is n walglike vooruitsig

PJC ·

Ek wonder hoekom laat hierdie my so baie dink aan die gelykenis in die bybel van pêrels voor die swyne werp.

Koos ·

Ek verdien sowat 20% van hulle salaris, en ek moet my eie middagete voorsien. Verder moet ek my verband, water en ligte, vermaaklikheid, sekuriteit en wat nog alles betaal. Is dit nie tyd dat die LP’s ook soos normale mense behandel word nie?

Jannie ·

“WERKDAG”????? WERK??? Regtig? Van wanneer af? LOL!! LOL!!

jakes ·

Grootste sirkus in SA. Jy word automaties n nar as n LP. Leef beter as koningin Elizabeth en jy word n reuse salaris betaal om so min as moontlik te doen. En dan is daar altyd die kans dat jy n groot staatstender aangebied kan word om stinkryk te raak.

Rissiepit ·

Ek wil net weet hoekem hierdie mense alles so gratis kry, maar ek sien nooit dat hulle regtg werk nie. HUule werk is debat heeldag en vergaderings bywoon. Is om van naar te word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.