Só verloop week 2 van matriekeksamen

(Foto verskaf aan Maroela Media)

Die tweede week van vanjaar se matriekeksamen is agter die rug en het volgens die departement grootliks glad verloop.

Benewens die gewone druk wat die eksamen veroorsaak, skryf kandidate vanjaar ook eksamen te midde van die voortslepende Covid-19-pandemie.

Altesaam 93 kandidate landwyd het vandeesweek positief vir Covid-19 getoets. Hiervan was 53 in die Oos-Kaap – die provinsie wat in hierdie stadium as die episentrum van die virus in die land beskou word – asook 23 in die Vrystaat, 10 in die Wes-Kaap en sewe in Gauteng.

“Die hoë getalle in die Oos-Kaap en Vrystaat is ʼn bron van kommer vir die departement. In die Oos-Kaap kom die 53 kandidate uit 19 verskillende skole in die Port Elizabeth-, Oos-Londen- en Graaff-Reinet-gebied,” lui ʼn verklaring van die departement.

In die Vrystaat het 17 leerders van die Motheo-distrik hul isolasietydperk voltooi en is weer terug by hul skole. Altesaam 23 leerders van Lejweleputswa word tans by ʼn kwarantynfasiliteit vir Covid-19 gehuisves.

In die Oos-Kaap en Gauteng het twee kandidate selfone by hulle gehad, terwyl daar leerders in Gauteng en KwaZulu-Natal met eksamennotas betrap is.

Provinsiale departemente hersien intussen hul toesigproses en logistieke reëlings in ʼn poging om sekuriteit te verbeter.

Die onderwysdepartement sê hy is ook tevrede met die besluit dat kandidate wat positief vir Covid-19 getoets het, toegelaat word om steeds die eksamen in beheerde omstandighede in isolasiesale by hul skole te skryf. “Dit het bygedra tot ʼn vermindering van angstigheid onder ouers en leerders wat reeds heelwat weens die Covid-19-pandemie en die verlies aan onderrigtyd gely het.

“Die besluit is geneem in die beste belang van kandidate.”

Gure weer in KwaZulu-Natal en Gauteng het verdere uitdagings vir sommige leerders meegebring.

“Terwyl ons voorberei vir die derde week van die eksamen, wens ek kandidate sukses toe in hul pogings. Ek doen ʼn beroep op kandidate om tuis te bly en te studeer, asook partytjies en risikogedrag te vermy,” het Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

So hoekom is die lot wat in die verlede verkoue gehad het nie afgesonger nie? Of wat van die lot wat TB het? Om positief te toets is nie te sê jy het die virus nie. Wat verstaan die spul nie. Die kinders het genoeg stres nou moet hulle met die vrees rondloop dat hulle dalk koors kan ontwikkel terwyl hulle skryf. Maar hulle moet nog op die vraestel ook konsentreer. En die nog die vrees dat hulle uit hulle ouerhuise verwyder kan wird. En ons weet hoe betroubaar hierdie toetse is. Enige verskoning om beheer oor obs lewens te probeer neem. As ek nog kinders gehad het, sou hulle my toegesluit het. Tot oorlopens toe moeg vir hierdie nonsens. Koors kan ook enige ander siekte beteken, onthou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.