Daar word na die regering gekap nadat hy vandeesweek enorme verwarring veroorsaak het in sy poging om die nasionale ramptoestand uit te faseer en terselfdertyd die departement van gesondheid se voorgestelde nuwe Covid-19-regulasies te stoomroller.
“Vir duidelikheid: Die publiek het nog tot 14 April om kommentaar te lewer op die voorgestelde nasionale gesondheidsregulasies,” sê Cilliers Brink, die DA se woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake.
Dié voorgestelde regulasies is van groot belang vir Suid-Afrikaners aangesien dit ’n groter en langdurige uitwerking op hul alledaagse lewe kan hê.
Die nasionale gesondheidsregulasie handel oor die bestuur van die huidige Covid-19-pandemie – en enige ander pandemie wat in die toekoms kan uitbreek.
“Hierdie regulasies sal tydelike regeringsbevoegdhede onder ʼn nasionale ramptoestand ’n permanente wet maak,” sê Brink.
Hy verduidelik dat die nasionale gesondheidsregulasies die regering sal toelaat om ʼn “aanmeldbare mediese toestand” te verklaar en dan diegene wat die toestand vermoedelik onder lede, verplig om hulle aan bepaalde mediese ondersoeke, toetse en behandeling te onderwerp.
Die kommentaartydperk van 48 uur wat Dinsdag deur min. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, aangekondig is, is nie van toepassing op die nasionale gesondheidsregulasies nie.
“Dit is van toepassing op oorgangsmaatreëls wat die regering vir 30 dae ná die einde van die nasionale ramptoestand wil instel.”
Maroela Media het vroeër berig die 30 dae kan as ’n sogenaamde oorgangstydperk beskou word waartydens die publiek se kommentaar oorweeg sal word nadat die ramptoestand opgehef word.
Volgens Dlamini-Zuma kan die ramptoestand moontlik so gou as 5 April opgeskort word.
“Die ANC-regering wil in wese sy inperkingsmagte behou tot die nasionale gesondheidsregulasies afgekondig kan word. Die stryd teen antidemokratiese bestuursoortredings in Suid-Afrika skuif dus nou van die Rampbestuurswet na die Nasionale Gesondheidswet,” sê Cilliers.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
21 Kommentare
Dit sal lei tot rampspoedige gevolge as dit nie gestuit word nie.
Sonder om negatief te wees, sal die regering in elkgeval maniere wettig om ons steeds te onderdruk of soos kinders te behandel. Daar is geen ramptoestand meer nie, dit is lankal verby en dit is regtig tyd dat ons na totaal en al normale lewe terugkeer. Hier kom groot moeilikheid indien hulle ons op ander maniere gaan inperk……Nie te min, wat kan ons in elkgeval doen…..kopdoek slaan mos in elkgeval die kitaar en sy sal wel op een of ander manier die mag wil behou….
Daar is moeilike tye aan die kom….
Ja moeilike tye ek stem deur wie veroorsaak daai kopdok gemors en Ramaposa stuit hierdie ding nou en vinnig ook
Suurstof dief moet val met hulle wette