Só vorder inentingsprogram

‘n Gesondheidsorgwerker word by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal ingeënt. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Meer as twee miljoen Suid-Afrikaners is reeds ingeënt en nog twee inentingsprogramme word binnekort van stapel gestuur.

Mammoloko Kubayi-Ngubane, waarnemende minister van gesondheid, het Vrydagoggend tydens ʼn mediakonferensie bevestig dat 300 000 dosisse van die Johnson & Johnson-entstof gister in die land aangekom het en dat dit gebruik sal word om onderwysers in te ent.

Daar is sowat 582 000 mense in die onderwyssektor, het dr. Nicholas Crisp, adjunk-direkteur-generaal van gesondheid, gesê en bygevoeg dat die departement mik om hulle almal binne 10 werksdae in te ent. Die departement van onderwys sal onder meer vervoer reël vir onderwysers na aangewese inentingspersele.

Polisiebeamptes en veiligheidslede, onder wie weermagpersoneel, sal ook binnekort ingeënt word. Volgens Crisp sal inentings by polisiestasies plaasvind en is diensverskaffers in dié verband reeds aangestel. Die weermag sal self sy lede inent terwyl die departement van korrektiewe dienste dieselfde benadering as die polisie sal volg om sy lede en gevangenes in te ent.

Dr. Barry Kistnasamy, koördineerder van die departement van gesondheid se Covid-19-werkstroom vir beroepsgesondheid en -veiligheid, het gesê daar sal ook begin word om mense by hul werkplekke in te ent. Daar sal met mense 60 jaar en ouer begin word waarna daar na werkers 40 jaar en ouer beweeg sal word. Volgens Kistnamasy is daar 15 miljoen werkers in die formele ekonomie en sewe miljoen in die informele ekonomie.

Daar is intussen ook bekend gemaak dat die Sinovac- en Sputnik-entstof hersien en oorweeg word vir Suid-Afrika. Prof. Helen Rees, voorsitter van die Suid-​Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra), het gesê Sahpra doen nie self die proewe nie en is afhanklik van akademici en navorsers in dié verband.

Daar word verwag dat meer entstowwe van Julie af in die land sal aankom. Dr. Joe Phaahla, adjunkminister van gesondheid, meen die teiken om 67% van die bevolking teen Januarie 2022 in te ent is steeds haalbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Fritz ·

Hoe lank voordat daar ook weer korrupsie met die databasis is en mense valslik gelys word as ingeënt? Ek hoop daar is n manier hoe ek daar op kan kom sonder om ingeënt te word. Ek is natuurlik bereid om daarvoor te betaal. Nie omdat ek dink die entstof is gevaarlik nie. Sommer maar net om hardekwas te wees.

Fritz ·

Ek het al covid gehad. Dit was soos n medium verkoue. Ek het al verkoues/griep gehad wat minder erg was, maar ek het ook al verkoues/griep gehad wat erger was.

Jedi Knight ·

Min of meer dieselfde met my toe ek covid gehad het. So ons twee is sha-na-na. Weet nie van die ander 7.8 miljard op die planeet nie. Maar is dit belangrik om te weet???

Dirk Mostert ·

Jou liggaam het in die verlede heel goed daarin geslaag om antibodies op te bou.

Stofdonkie ·

Gelukkig is ‘n werklose jong blanke man heel laaste in lyn om geënt te word, teen daardie tyd sal ons weet of is dit veilig of nie. Daar is toe wel een voordeel daarin om ‘n jong blanke man in SA te wees.

Hendrik Marthinus ·

Stofdonkie
Baie maar Baie witmense is al ingeent
Moenie dat Hulle jou flous nie, al hoekom Baie nog nie ingeent is nie is oor die ouderdom beperking
Hier gaan dit nie oor ras en geslag nie, dit gaan oor essential services, toe bejaardes, volgende onderwys, Saps, korrektiewe dienste
Daarna sekerlik almal Onder 60 na 40 etc
Niemand is proefkonyne nie, 2 biljoen wereldwyd al ingeent, seer sekerlik Kan ons nie proefkonyne wees nie

Eltan ·

Sekerlik sê jy? Moenie naief wees nie…
Ek vertrou NIKS maar NIKS wat die regering doen nie..

Karel Kobus Kruger ·

Ek sal sover as moontlik besighede ondersteun wat nie n verpligte inentingsprogram het nie. In baie gevalle (banke, groot winkels) sal dit waarskynlik nie moontlik wees nie. Maar waar dit enigsins moontlik is by bv. kleiner besighede soos restaurante en gastehuise, sal ek dit doen.

Kerneels ·

“Dr. Joe Phaahla, adjunkminister van gesondheid, meen die teiken om 67% van die bevolking teen Januarie 2022 in te ent is steeds haalbaar.”

Duidelik was Wiskunde nie sy sterkste vak op skool nie…

Pieter ·

Wel, die 3.3% wat al ingeent, is mos gelykstaande aan ‘n slaagsyfer in Wiskunde?

Winnie ·

Waarom het ons moeite gedoen om te registreer en nou skielik kan mense aanmeld vir inspuiting sonder dat hulle geregisreer is

Karel Kobus Kruger ·

Omdat jy te vinnig op die band wagon gespring het.

Neelsie ·

Hulle kan aanmeld sonder afspraak, maar moet dan nog steeds tegelykertyd registreer.

Landras ·

Winnie , daar waar ek werk het mense nie “smartphones” en data om te registreer nie , ek het met my eie data gehelp . Hierdie aanbod bring Baie verligting, want mense is arm en het nie vervoer na inenting sites nie .

Hendrik Marthinus ·

Landras
Ons maroela lesers Sal nooit ooit iets krediet gee wat die ANC regering doen nie.
Yes ek stem nie saam met seker 99% van hul keuses nie
Maar al probeer Ramaphosa hoe hard, Sal meerderheid nie krediet gee nie.
Ek stem met jou, nie almal het dit breed om te registreer nie.
Dit is n goeie idee, maar ons volk mag mos nie saam stem as iets goed gebeur nie.
Geen wonder ons sal nooit almal in een rigting Kan beweeg nie

Shaun ·

Want hulle wil lieg oor getale. as hulle net doen wat geregstreer het is dit moeilik. maar om te se ons het vandag 100 000 walkins gedoen en jy hoef nie name te noem nie is dit maklik.

piet ·

Wat maak dit saak? Die oogmerk is om die meeste mense in die kortste moontlike periode in te ent (dit is tog uiteindelik tot voordeel van almal). Dit is nou so dat al ons mense nie so gelukkig is soos jy om geredelike toegang te he tot fancy goed soos computers en smartphones nie. As jy wel kan registeer aanlyn, is dit tot jou voordeel. Jy gaan ‘n spesifieke datum he, jy gaan nie solank staan in ‘n ry nie, die proses gaan nie solank vat nie (want jy is mos klaar geregistreer, ens). Kan nie verstaan waaroor jy moan nie.

Jaco ·

As alle wit mense nie ingeënt word nie, is dit klaar iets soos 7% van SA se bevolking. Dis dan sommer ook nog ‘n “straf” vir apartheid. En uiteindelik beteken dié “straf” dat kudde-immuniteit van 67% vinniger bereik word. Tog jammer eks nie een van “our people” nie. Ek sou dié land binne 5 jaar regkry.

piet ·

Ek wonder net wat anderskleuriges van die intelligensie van sommige witmense dink as hulle so ‘n kommentaar lees. As blanke sak ek my kop in skaamte. Hoe gaan jy vinniger kudde-immuniteit bereik as jy ‘n sekere ras uitsluit (en sekere persentasie van die bevolking uitsluit) om ingeent te word. Gaan my verstand te bowe hoe mens so kan redeneer. Eish.

Jedi Knight ·

Ek sien in n BusinessTech artikel Solidariteit is nie ten gunste van verpligte inenting nie, en sal hul lede bystaan. Alhoewel ek bloot lid van Solidariteit is om hul te ondersteun, hoop ek my ledegeld kan in hierdie geval ander help.Mooi man.

Hendrik Marthinus ·

Maar as solidariteit die voorstel gemaak het van verpligte inenting was jy die eerste een wat gese het well done ek ondersteun die besluit ne

Jedi Knight ·

Nee ou Hendrik, ek sou nie. Regtig nie. Selfs al ondersteun my familie, vriende, die kerk, wie ook al verpligte inenting, sal ek dit nog steeds nie ondersteun nie.

Shaun ·

Ja. 6maande in en 2 miljoen is gedoen. Dit gee 4 miljoen n jaar dit gee 15 jaar op 60 miljoen. Haha wat n grap. Okay wag ons will nie 60Mil doen nie net so 45 mil so ek sal se 12 jaar is regverdig. Nog n grap….

My siening ·

Elke dag belowe dit kom, volgende week, maandag en so gaan dit aan. Lees bietjie die Russe wat lykskouing gedoen het se uitslag dan weet jy glad nie meer wie om te glo!

VaalDonkie ·

Hulle kan maar hulle tyd vat. ek sal wag tot COVID weggaan op sy eie. Soos wat met die vorige SARS-CoV-1 en MERS gebeur het.

Esme ·

Covid is al meer as ‘n jaar deel van ons lewens. Daar is egter soveel korrupsie en die inentings het tot ‘n stilstand gekom sodat die sakke eers volgestop kon word. Nou sterf mense daagliks en skielik besef CR, hy en die ANC sit met ‘n krisis. Ek het in Desember Covid gehad – 25 dae in ‘n hospitaal wat versuim het, om my, my chroniese medikasie te gee. Verpleegpersoneel wat per abuis suurstof apparaat toegedraai het en die sterfte syfer het die hoogte in geskiet. Dit was ‘n nagmerrie sonder gelyke en ek was in totale isolasie.

Marijke ·

300 000 entstowwe kom binnekort om 500 000 onderwysers in te ent??
Verstaan ek nou verkeerd?

Nico ·

Die inentingsprogram is te stadig, waarmee is die gesondheids departement besig, is hulle besig om van die mense proefkonyne te maak, elke keer is daar ‘n ander entstof, weet hulle nie dat daar met mense lewens gespeel word nie.

Andre ·

Kan elkeen wat die inenting kry nie maar sommer ‘n merk op hulle voorkoppe kry nie? Dit kan baie help om veilig te bly.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.