Só vorder ondersoek na vermiste onnies in Viëtnam

John Bothma (Foto: Facebook)

Namate die weke verbygaan, hoor die familie van die jong onderwyser John Bothma ál minder oor die ondersoek nadat hy in Mei vanjaar in Viëtnam vermis geraak het.

Nog ʼn onderwyser, Mushfiq Daniels, het ook in dié land verdwyn en die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het geen antwoorde oor die twee vermiste Suid-Afrikaners in die vreemde nie.

“Daar is geen spoor van Daniels en Bothma nie,” het Nelson Kgwete, woordvoerder van Dirco, Dinsdag aan Maroela Media gesê.

“Albei is as vermiste persone by die Viëtnamese polisie en ander tersaaklike owerhede aangemeld. Dié owerhede is dus verantwoordelik vir die ondersoek waarvan die besonderhede nie met die Suid-Afrikaanse ambassade gedeel word nie. Ons kan dus nie bespiegel oor moontlike oorsake nie,” verduidelik Kgwete.

Hy verseker dat die soektog na die twee jongmense wel voortduur.

Maroela Media het vroeër berig Bothma se ma, Coleen, het op 15 Mei vir die laaste keer met haar seun gepraat voordat sy familie sedert 18 Mei hom nie meer in die hande kon kry nie. Hy is die laaste keer in Ho Chi Minh City gewaar.

Daar was aanvanklik ʼn betaalde vliegkaartjie vir Bothma om op 1 Junie huis toe te kom. Dié kaartjie is toe na 18 Junie gewysig in die hoop dat hy dan sy opwagting in Suid-Afrika sou maak, maar toe hy nie opdaag nie, is dié kaartjie gekanselleer.

Mushfiq Daniels. (Foto: Facebook)

En toe verdwyn Mushfiq Daniels (28) van Surrey Estate in Kaapstad op 5 Julie. Daniels is op dié dag die laaste keer gesien in die Phu Nuan-distrik, óók in Ho Chi Minh City. ʼn Vriendin het Daniels glo langs die pad gesien en opgemerk dat hy ontsteld en gedisoriënteerd voorkom. Volgens inligting op die Facebook-blad wat opgestel is om in die soektog na Daniels te help, is die vermoede dat hy ʼn emosionele ineenstorting gehad het.

Santjie Dixon, Bothma se tannie, het vandeesweek gesê sy paspoort kon intussen opgespoor word. Bothma se familie het sowat twee weke gelede gehoor sy paspoort is kort ná sy verdwyning in die Nine-hostel in Ho Chi Minh City opgespoor. Die paspoort is reeds sowat ʼn maand gelede by die konsulaat ingehandig.

Dixon verwag nou die ergste. “Dinge lyk nie baie goed nie. Ons is baie bekommerd. Ek vermoed iewers vuilspel. John sal nie sommer net wegraak, sy paspoort agterlaat en sy visum laat verval nie. Daar is iets verkeerd.”

Sy verduidelik hoewel Bothma se rugsak ook saam met hom spoorloos verdwyn het, bewys dit egter nie dat hy uit sy eie sou wegraak nie aangesien hy nooit sonder sy rugsak iewers heen gaan nie.

“Ek voel hy lewe nog. Miskien word hy gevange gehou? Ons kan dit egter nie sê nie.” Dit is duidelik dat Dixon onverpoos na antwoorde soek.

Dit is egter vir haar beter om vanaf Suid-Afrika te soek. “Ek dink dit is makliker. Ek kan my nie indink hoe dit van daar af moet wees nie. Jy is te betrokke en kan nie die taal praat nie. Hier sit ek op my foon. Ek begin so 03:00 die oggend tot 22:00 in die aand. Daar gaan nie ʼn dag verby dat ek nie kontak met iemand het nie.

“Ek glo met my hele hart ons gaan hom kry,” vertel sy.

Die Bothma- en Daniels-families is in verbinding met mekaar. Dirco maak ook kontak met albei families.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Daniël ·

As burgers van SA, is hierdie land se regering en ambassades nie veronderstel om ALLES moontlik te doen om hierdie jongmense op te spoor nie.
Logies, verwag ‘n mens dat jou land se diplomate uit hul pad sal gaan vir sy mense??

JK ·

As jy so baie verkeerd vermoed, vlieg oor en probeer iets doen, foon oproepe help niks.

Anna ·

Diplomate is ook maar net gaste in die land waar hulle bly – hulle kan nie wet in eie hande neem nie. Hulle kan navraag doen en versoeke rig, nie opdragte gee of ondersoeke loods nie. Hulle het nie enige jurisdiksie in ander lande nie.

kolla ·

Nou wat dink jy kan hulle nou meer doen? Jy kan nie inmeng met ‘n ander land se wetstoepassing nie.

Staan saam ·

Wat sal die vrou kan doen in ‘n vreemde land met vreemde taal? Mens gaan ‘n army nodig hê om daar in te gaan. Hulle laat nie toe dat mens inmeng in hulle ondersoeke nie. Dan is daar die veiligheidsasoek ook…. hoe veilig gaan sy wees om daar te gaan rondsnuffel? Ek raak sommer vies vir mense wat net dinge sê sonder om te dink.

Risa ·

Ons het verkeerde diplomate en ambassadeurs in hierdie land, kwotas en soustrein klimmers.

Heidi ·

Ek hoop en vertrou die seuns word veilig gevind. Hart gaan uit na die ouers en geliefdes wat met die onsekerheid moet worstel. Sterkte!

Barry ·

Ongelukkig is Anna korrek
Die diplomate kan net vra en navraag doen
Die polisie van die land moet die werk verrig.
Vietnam is n wonderlike land was al n paar keer daar maar daar is ek dink oor die 80 miljoen mense en om daar weg te raak is nie moeilik nie.
Ek kan net raai hoe die ouers moet voel en al raad wat ek hulle kan gee is om soontoe te gaan en n senior Polisieman te “bevriend” en hom om hulp te vra. Om van sa af te vra en te pleit is tydmors as ek die mense hier ken want as hulle die foon neersit is die vraag vergete en verder is daar n geweldige taal probleem en ek woon al amper 6 jaar in Thailand.
As julle sou gaan neem soveel fotos saam as wat julle kan om uit te deel
Ho Chi Minh is n reuse stad en alles van die beste

Barry
Thailand

Natascha ·

Dit laat my al hoe meer dink aan mense handel. Die 2de seun was volgens die mense wat hom laaste gesien het gedisorenteerd. Die vrou saam wie John laaste gesien was, is n eienaar van n Prostituut huis. Laat mens wonder,? Ondersoek daai plek en ondervra daai mense.
Even Interpol het geen nuus tot dusver oor John.
Ondersoek ook die agentskap wat die seuns oor stuur??? Verstrou nie die vrede.
En ewe skielik is die blonde girl wat kamstig na John gaan soek het baie stil na al die vrae? Weet sy dalk iets??? WANT ALS WAT UIT HAAR MOND GEKOM HET WAS NET LEUENS.
Ons bid en vertrou dat die 2 jongmans wel lewend gekry sal word.
Sterkte aan die families.
John se ma is n vriendin en sy kry baie swaar en huil baie, maar haar hande is afgekap. mense oordeel omdat sy nie na har seun gaan soek, maar waar begin jy, kyk nou self die ouers van Mushfia kon niks uitgerig het nie.
Mense is wreed, maar hul ken nie die omstandighede van die ouers. HOU OP OORDEEL.
Bid eerder saam vir hul veilige terugkoms.

Antionette ·

Johan, in dieselfde asem kan n mens vra … is jongmense of enige mens nog veilig in SA.

Barry ·

Waarom word my kommentaar gereeld verwyder se tog vir my
Ek glo Lana het geen begrip waarvan sy praat nie
Was sy al in VN en het sy n slegte ondervinding daar gehad

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.