Só vorder pogings teen bek-en-klouseer in KZN

(Argieffoto: pixabay)

Daar is reeds 22 plekke in KwaZulu-Natal waar bek-en-klouseer positief geïdentifiseer is en wat onder kwarantyn geplaas is.

Dit sluit in by diptenks in gemeenskaplike weiveld sowel as twee kommersiële voerkrale. Daar is voorsiening gemaak vir die vroeë slag van diere uit die geraakte voerkrale, met streng bykomende maatreëls om die risiko van verspreiding van bek-en-klouseer te verminder.

Die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, het gesê ’n bewegingsprotokol en permitstelsel vir die beweging van gesplete hoefdiere is in die siektebestuursgebied in plek om die siekte te bekamp en verdere verspreiding te voorkom.

Die beweging van gekloofde diere en hul produkte binne, na, uit of deur die siektebestuursgebied word slegs toegelaat met ’n permit wat deur die veeartsenykundige dienste in die gebied uitgereik is.

Daar is reeds 165 permitte uitgereik vir die vervoer van diere na die siektebestuursgebied om geslag te word. Permitte is ook toegestaan vir die verskuiwing van varke uit die siektebestuursgebied vir slagdoeleindes.

’n Protokol is goedgekeur om wildsvleis vir kommersiële doeleindes van spesifieke vooraf goedgekeurde plase en deur goedgekeurde wildslagplase in te samel.

Tot en met 3 Augustus is die volgende permitte uitgereik:

  • 139 permitte vir die slag van meer as 11 000 varke by slagpale binne en buite die siektebestuursgebied
  • 81 permitte vir die slag van meer as 3 500 stuks vee by slagpale binne die siektebestuursgebied
  • een permit vir die slag van 30 skape by ’n slagplaas
  • drie permitte om 13 teelbeeste in die siektebestuursgebied in te neem.

Patrollies en padblokkades is in die siektebestuursgebied ingestel om die beweging van vee te beheer en om die nakoming van die bewegingsprotokol te monitor. Boetes word uitgereik vir besendings wat sonder die nodige toestemming beweeg.

Die onlangse onluste in die provinsie, met gepaardgaande versperring van paaie en herleiding van veiligheidshulpbronne na gemeenskappe, het vertragings veroorsaak in die ondersoek van siektes in die provinsie.

’n Totaal van 435 plekke is geïnspekteer en monsters is geneem om vir bek-en-klouseer te toets sedert die siekte opgespoor is.

Didiza het einde Junie die distriksmunisipaliteite van King Cetshwayo, uMkhanyakude en Zoeloeland tot sogenaamde siektebestuursgebiede verklaar in ʼn poging om die verspreiding van bek-en-klouseer te stuit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.