Só werk hysbak wat 200 meter na onder tuimel

Skag 11 by Impala Platinum se myn by Rustenburg. (Foto: PHILL MAGAKOE / AFP)

Die soort hysbak wat Maandag met 86 mynwerkers by Impala Platinum (Implats) se myn by Rustenburg sowat 200 meter ver getuimel het, word glo in die meeste myne gebruik om mynwerkers by skagte op en af te hys.

’n Bron met kennis van mynwese sê die hysbakstelsel (wat onder meer een of meer toue, ’n drom en ’n teenwig behels) is ’n baie gewilde stelsel wat al vir baie jare in mynskagte gebruik word. Die stelsel word ook oor die algemeen as veilig beskou.

Die metaalwerkersvakbond Numsa sê egter die ongeluk laat baie vrae ​​oor gesondheid- en veiligheidskwessies ontstaan.

“As hierdie ding nagegaan en onderhou is, kon dit vermy gewees het,” sê Geoffrey Moatshe, woordvoerder van die vakbond.

Só werk hysbak

Die hysbakstelsel wat in skag 11 gebruik is om werkers na en van die oppervlak te neem, staan bekend as ’n Koepe-hysmasjien.

Die stelsel behels een of meer toue wat oor ’n drom beweeg van een vervoermiddel na ʼn ander, of van ʼn vervoermiddel na ʼn teenwig. In albei gevalle word afsonderlike toue in die skag gelus en aan die onderkant van elke vervoermiddel of teenwig gekoppel.

“Dit is ’n baie algemene stelsel om mense onder in ’n skag te kry,” verduidelik Dawie Ernst, Solidariteit se netwerk-organiseerder in Rustenburg en iemand wat al 20 jaar lank in die mynwese betrokke is.

Ernst het Dinsdag aan Maroela Media verduidelik dat daar ’n sein “van iemand na iemand” gestuur word om hierdie hysbak te kan laat werk.

“Daar is dus een persoon, die onsetter, wat saam met hierdie hysbak beweeg en ’n sein deur middel van ’n klokkestelsel aan die hysmasjiendrywer stuur sodat dié kan weet waarheen om die hysbak te skuif.”

Ernst verduidelik egter dat die hysbak self nié oor ’n veiligheidsremstelsel beskik nie. “Slegs die drom, by die hysmasjiendrywer, het só ’n remstelsel.”

Hy verduidelik egter daar is veiligheidsmaatreëls in plek wat ’n noodsein aan die hysmasjiendrywer stuur wanneer die hysbak in ʼn sogenaamde gevaarsone inbeweeg.

Skag 11 by Impala Platinum se myn by Rustenburg. (Foto: PHILL MAGAKOE / AFP)

“Indien ’n tou loskom, is daar net een plek vir daardie hysbak om heen te gaan, en dit is af – so daardie stelsel kan nie misluk nie, want dan sit ons met wat gister gebeur het.

“Soos ek verstaan, was daar nie tyd of spasie vir die hysmasjiendrywer om remme aan te slaan toe hy die noodsein kry nie,” sê Ernst.

Dié bewering is egter nie bevestig nie.

Maroela Media het vroeër berig die presiese oorsaak van die ongeluk is nog onbekend. Voorlopige inligting dui daarop dat ’n kabel dalk gebreek het. Die hysbak het toe sowat 200 meter na onder in die mynskag van 1 000 meter geval voordat die veiligheidsmaatreëls ingeskop het.

Die Mineraleraad van Suid-Afrika sê 41 mynwerkers is sedert die begin van die jaar dood.

“Dit is ʼn tragiese ongeluk. Dit dien as ʼn skerp waarskuwing dat daar nooit enige verval in fokus en waaksaamheid rakende veiligheid op myne mag wees nie,” sê Japie Fullard, voorsitter van die raad se veiligheidsinisiatief.

Suid-Afrika het van die wêreld se diepste myne en is ʼn groot uitvoerder van goud, diamante, steenkool en ander grondstowwe.

Baie van die diep myne het hysbakke wat meer as 100 mense op ʼn slag kan vervoer.

Volgens Implats bestaan die hysbak wat neergetuimel het uit drie vlakke – elkeen met die kapasiteit om 35 personeellede te dra.

Bykomende bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nicky ·

As die tou gebreek het sal die remme op die drom nie gehelp het nie

Gerhardus ·

Impala hysmasjien ongeluk.
Ek het 33 jaar mynbou ondervinding waarvan 20 jaar in bestuurs posisies was.
Eerstens wil ek noem dat Koepe hysmasjiene slegs gebruik word om erts mee te hys en nie personeel nie.
Tweedens wil ek noem dat die hyshok “cage” se tou nie gebreek het nie maar dat die hysmasjien, om een of ander rede deur sy remme geloop het of in verkeerde rigting gestuur is.
Die teengewig se tou is wel in die skagtoring vrygelaat om skade aan die skagtoring te voorkom.
Redes vir die wanfunksie van die hysmasjien sal slegs deur Ingeneurs na deeglike ondersoek bepaal kan word.

Truthful ·

Dis juis, niks Sal lank hou sonder die nodig onderhoud nie.. Wat ook kwellend is die hoeveelheid mense wat in was

Nicky ·

Ek was ook 40 jaar in bestuur by survey en weet hoe die mynbou vir jou probeer vertel wat jy op die ongeluks plan moet sit en wat nie

Cassie Carstens ·

Die vraag is: Het Numsa enige bewyse dat die betrokke hysbak se meganika nooit of nie gediens is nie. Hulle maak wilde uitsprake.

George ·

Wanneer die “onsetter” nie oplet nie, hardloop die drom te vinnig en word die kabel slap. Dit vorm dan ‘n lus en wanneer die hysbak (wat intussen vryval) die kabel styftrek, breek dit waar die lus gevorm het. Dit het niks met instandhouding te doen nie, maar met ‘n menslike fout. Die onsetter sal verantwoording moet doen.

piket ·

Nee, George, Dde onsetter het geen beheer oor die hysbak of hysmasjien nie, behalwe die seine wat hy vir die hysmasjien operateur stuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.