Só wil bestuur Eskom regruk

Eskom-kragstasie in Kriel, Mpumalanga. Foto: thegreentimes.co.za

Die Eskom-raad het ʼn nege-punt-plan goedgekeur om die entiteit se kragopwekkingsvermoë te verbeter en ʼn stabiele kragnetwerk te verseker.

Om dié plan in werking te stel, sal egter beteken dat Suid-Afrika vir die volgende 18 maande steeds beurtkrag sal ervaar.

André de Ruyter, nuwe uitvoerende hoof van Eskom, en Jan Oberholzer, bedryfshoof, het Vrydag in Megawatt Park in Johannesburg ʼn kwartaallikse oorsig oor die kragnetwerk gegee.

“Die onbeplande verlies aan krag was verlede jaar hoër as verwag en tussen September en Desember 2019 het Suid-Afrika 21 dae van beurtkrag ervaar, insluitend fase ses op 9 Desember,” het Oberholzer gesê.

“In dié tyd is beplande opknapping ook geraak, met die gevolg dat die stelsels vir die volgende 18 maande kwesbaar sal wees, met ʼn hoë waarskynlikheid vir beurtkrag in hierdie tyd”.

De Ruyter sê Eskom neem die besluit om beurtkrag te implementeer nie ligtelik op nie. “Ons kan dit ongelukkig nie verhoed nie, gegewe die toestand van die stelsel.” Fase twee-beurtkrag is reeds vir die naweek ingestel.

Redes vir ʼn toename in onbeplande kragverliese verlede jaar sluit in die oorstroming van sekere kragstasies weens uitermatige hoë reënval. Dit het die verskaffing van steenkool beïnvloed.

Medupi-kragstasie Foto: Eskom

Daar was ook ʼn toename in die verlies aan elektrisiteit weens onwettige verbindings en ʼn kultuur van wanbetaling. Volgens Oberholzer het uitstaande munisipale skuld ook verlede jaar met R7 miljard toegeneem en dit staan tans op R28,6 miljard.

“Voortdurende diefstal van en skade aan kragkabels en ander toerusting plaas verdere druk op die stelsel,” sê hy.

Op 29 Januarie het Eskom se raad egter ʼn nege-punt-plan aanvaar om opwekkingskapasiteit te herstel. Dit sluit in die verlengde gebruik van opwekkingseenhede by Hendrina, Camden en Grootvlei, al is daar aanvanklik besluit om dié eenhede af te skakel.

Daar sal ook voorsiening daarvoor gemaak word om kundige werkers ekstern te werf in gevalle waar die nodige vaardighede nie intern beskikbaar is nie. “In dié verband is 1 872 kritieke poste geïdentifiseer en Eskom is besig om hulle te vul. Teen einde Desember was 985 poste reeds gevul,” sê Oberholzer.

Die huidige ooreenkomste met steenkoolvoorsieners sal ook hersien word om die prys en gehalte van steenkool te evalueer. Die gehalte en hantering van steenkool sal ook verbeter word ten einde die prestasie van kragstasies te optimaliseer.

Eskom beplan verder om meer stabiliteit in die stelsel te vestig deur die foute in die ontwerp en bou van die Medupi- en die Kusile-kragsentrale, reg te stel. Vir dié doel sal Medupi tussen Januarie en April vanjaar 75 dae lank afgeskakel word, ten einde die probleme met die ontwerp reg te stel.

Meer diesel is aan die einde van verlede jaar gebruik weens druk op die stelsel. Planne is in plek om bykomende diesel aan te koop.

De Ruyter sê hoewel die ontbondeling van Eskom steeds op die kaarte is, wil hulle nie die proses verhaas nie. “Eskom is daartoe verbind om sy operasionele prestasie te verbeter en te verseker dat Suid-Afrika ʼn stabiele en betroubare kragopwekkingstelsel vir die toekoms het. Eskom het ook onderneem om mense vroegtydig in te lig sou beurtkrag nodig wees,” sê De Ruyter. Hy het Suid-Afrikaners aangemoedig om voort te gaan om krag spaarsamig te gebruik.

Die DA is egter nie oortuig dat dié planne vrug sal dra nie. “Suid-Afrikaners behoort eerder die opsie gebied te word om alternatiewe metodes van kragopwekking te kies,” lui die party se persverklaring Vrydag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gerard ·

Ontbind net die ding en gee aan mense die moontlikheid om self krag te voorsien aan verbruikers! werkskepping!

quartus ·

Ek sal seker nou weer gekruisig word…maaaaaar…kom ons glo en vertrou die kundige mense waarvan die ridder op die wit perd praat is al die blankes wat weens die BEEEE en AA afgele is,,daar het die paw paw die fan geslaan,,darem nie te lank nie,,aangesien die krag op was…maar kom ons glo en vertrou die regte kundiges kom terug en ruk alles reg,,sal ongelukkig nie oornag gebeur nie,,aangesien vir te lank is daar gebrekkige herstel werk gedoen,,stukkie blou draad en spoeg en plak,,en dan word die kfc nader getrek…

Stefan ·

Eskom is die enigste besigheid waarvan ek bewus is wat al vir baie jare al sy kliënte dringend vra om so min as moontlik van sy produk te koop/verbruik.

Pieter ·

Wat Gaan van die enorme skuld word wat aan Eskom verskuldig is. Dit het nou tyd geword dat mooi praatjies nie meer geduld moet word nie, en dat ernstige aksie geneem moet word. Ek hoop nie, De Ruyter gaan val vir die slinksheid nie. Volgens my is hierdie plan al meermale genoem maar niks het gebeur nie. Seeing is believing.

Johanncb ·

As behoorlike instandhouding gedoen was, sou die netwerk nie in ‘n toestand verkeer het nie!

Naas ·

Ons is nou gatvol vir Eskom se storietjie dat dringende onderhoud lei tot beurtkrag. Maak nou die flippen goed reg en kry klaar. Julle het genoeg belastingbetaler geld daarvoor. En as julle dink die geld is te min, ontslaan die 15 000 oortollige personeel wat net salaris trek.

Willem ·

Ek wens my besigheid kon só werk! Met 30,000 werkers te veel in diens wil hulle mou nog 1800 kundiges aanstel terwyl hul tegnies lankal bankrot is. My bankier sou net sy kop skud en sē “my oom jy’s te diep in die skuld” . Dis hoekom hulle plannetjies maak om eiendom (let wel, nie grond nie maar eiendom) sonder vergoeding te vat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.