Só wil Kaapstad sy strande beskerm

Nuwe bepalings moet Kaapstad se strande help beskerm. (Foto: Stad Kaapstad)

Die Stad Kaapstad beoog nuwe munisipale bepalings om sy strande en kusgebied beter te help beskerm en bestuur.

Die stad sê sy strande is een van Kaapstad se belangrikste bates. Die bepalings moet ook veiligheid op strande help verseker.

“Kaapstad is sinoniem met rollende golwe, klipperige strande, dolfyne, walvisse en sonsondergange op ongerepte strande. Ons kus lok jaarliks miljoene besoekers en is die middelpunt van ons identiteit. Ons kan ook nie die belang van die kus vir ons plaaslike ekonomie meer beklemtoon nie,” sê Marian Nieuwoudt, burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewing.

Die konsepbepalings gaan help om die kus beter te bestuur en wetstoepassers in staat stel om aktiwiteite stop te sit wat ʼn skadelike uitwerking op die kusomgewing het, sê Nieuwoudt.

Die voorgestelde bepalings het betrekking op die kussone, ʼn openbare gebied wat aan alle Suid-Afrikaners behoort, het die stad Donderdag in ʼn verklaring gesê.

Dit dek die strand, die kuswater en die hele omgewing daar rondom.

“Een van die belangrike aspekte van die voorgestelde bepalings is dat dit die stad die mag gaan gee om die publiek se reg op toegang tot strande te verseker.

“Sommige inwoners eis die strande of stukke grond voor hulle eiendom op as private gebiede deur óf hulle huise en tuine tot daar uit te brei, swembaddens te sink, óf toegangspaadjies op te rig met ‘geen toegang’-waarskuwingstekens,” het Nieuwoudt gesê.

“Ons kuslyn behoort aan álle Suid-Afrikaners en die voorgestelde bepalings gaan dié reg afdwing.”

Die voorgestelde wetgewing behels maatreëls om onder meer onwettige visvang en smousery stop te sit, verbied rommelstrooiing asook die verwydering van sand, klippe en skulpe van strande.

Lede van die publiek kan tussen 1 Augustus en 2 September 2019 kommentaar op die konsepbepalings lewer. In dieselfde tyd gaan agt openbare sittings in die metrogebied aangebied word waar inwoners vrae kan stel en kommentaar op die voorstelle kan lewer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hennie ·

Hulle moet ook die “offerhande” van diere op die strand belet.

Francois le Cochon ·

Ek bly in ‘n Estate. Het baie ryk bure gehad wat gereeld beeste en bokke in hul agterplaas geslag het om een of ander iets te vier. Ons Huiseienaars Vereniging het by die munisipaliteid gaan kla. Die antwoord was dat dit hulle kultuur is, en dat niks daaraan gedoen kan word nie. Volgends die munisipale verordeninge mag ek nie eers ‘n hoender aanhou nie.

marous ·

Mag nie oopmond swem nie , want jy gaan swaar sluk aan die nuwe suid afrika…

lanie ·

Ek sal nie omgee nie, MAAR dan MOET daar behoorlike ablusiegeriewe beskikbaar wees. En ook mag daar nie vandaliste toe gelaat word nie.

Leon ·

Moenie maak soos met die Hartebeestpoortdam nie. daar is geen toegang meer vir die publiek nie. Al die grond om die dam is in privaatbesit en slegs mense wat om die dam woon het toegang tot die dam. Die strande moet oop wees vir die publiek. Geen eiendom mag tot by die water stek nie.

Besorgde Suid-Afrikaner ·

Ek hoor wat Stad Kaapstad sê. Reëls en regulasies is belangrik in ‘n “geordende samelewing” Hoe gaan ek, jy of ons kinders met sandpatrollies kan redeneer as ons skulpies, klippies ens optel vir kuns- klein besigheid of skoolprojekte? Ons is nie in staat om so argument op DAAI vlak te wen nie.So poog hulle met klein dingetjies (PVR Panele ‘n ander aspek) om ons in ‘n polisie-staat te omskep. Ek sê nie stroop die strande nie, voeg net logika by hulle wetgewing “kommin sens”!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.