Só wil Kaapstad toerisme laat herleef ná Covid-19

Kabelkarretjiestasie op Tafelberg (Foto: Armand Hough/African News Agency/ANA)

Kaapstad, wat algemeen as Suid-Afrika se toerismehoofstad beskou word, koördineer pogings om die verwoestende impak wat die wêreldwye koronavirus-pandemie op die bedryf het, te verlig.

Vyf internasionale lugvervoer en toerismeorganisasies het vroeër vandeesweek vergader om beleggersondersteuning te versoek vir Afrika se reis- en toerismebedryf wat tot ʼn stilstand gedwing is.

Die bedryf dra $169 miljard by tot Afrika se ekonomie, verteenwoordig 7,1% van die bruto binnelandse produk, en het sowat 24,6 miljoen mense in diens. Dié poste word bedreig aangesien lugvervoer opgeskort is en lande hul grense gesluit het om oordrag van die virus te verhoed.

James Vos, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede en batebestuur, het Vrydag in ʼn verklaring gesê hy en Enver Duminy, die uitvoerende hoof van Kaapstad Toerisme, het ʼn webinaar gehou wat planne uitlig om die bedryf in die stad gereed te kry vir herstel en herlewing.

“Die planne sluit in om met kenners in die bedryf saam te werk sodat ons lewe kan blaas in die toerismebedryf en lede te help met beplanning en aanpassing,” het Vos gesê.

Volgens hom het die toerismebedryf in Kaapstad beslis die impak van die Covid-19-krisis beleef, maar dit bly ʼn sleutelbedryf vir die stad. Data van Statistieke Suid-Afrika wys dat toerisme nagenoeg R18 miljard bydra tot die stad se ekonomie en in 2018 net meer as 113 000 poste direk ondersteun het.

“Ek het ʼn toerisme-taakspan aangestel sodat ons die uitdaging kan takel, en die ingrypings kan bestuur en koördineer om die verwoestende impak van Covid-19 te verlig.”

Die drie fases in die stad se aksieplan sluit bekamping, aanpassing (opleiding in internasionale toerisme, virtuelebemarkingsinisiatiewe en aanlyn opleiding), en herstel in.

“Dit is bemoedigend dat maatskappye ondersteuning bied aan die toerismebedryf in dié moeilike tyd. Dit sluit briewe van onderskrywing en daaglikse e-posse aan die bedryf in. ʼn Gereedskapkis vir oorlewing vir klein ondernemings en ʼn taaklys is ontwikkel en bevat die noodsaaklikhede om ondernemings so vinnig as moontlik weer veilig terug te kry aan diens, sodra hulle toegelaat word.

“Herlewing sal gebeur en ek is vol vertroue dat Kaapstad gereed sal staan om haar toeriste terug te verwelkom,” het Vos bygevoeg. Planne sluit belegging in bemarking by lughawens in, sodat plaaslike en internasionale reisigers “dadelik aan Kaapstad sal dink”. “Dit is noodsaaklik dat ons voordeel trek uit die geleentheid nou dat ons kans het om die toekoms van toerisme in Kaapstad te herdink.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Barbara ·

Dis tyd dat jul na die Suid Afrikaanse mense ook kyk as toeriste. Baie van die plekke is net te duur. wat van spesiale pryse aan die Suid Afrikanes. Die pryse binne seisoen is belaglik duur.

Co ·

Ons gaan elke jaar Europa toe vir vakansie – sou vandag vertrek het – maar hierdie jaar gaan ons die Suid Afrikaanse toerisme bedryf ondersteun en in Suid Afrika vakansie hou, sodra binnelandse vlugte – uitsluitend SAL – beskikbaar is.

Jammer die Kaap is so duur, ons gaan graag na Dubrovnik in Croatie, daar het ons al gewoon in ‘n AirBnB, hoog teen die berg met ‘n ongelooflike uitsig op die ou stad en kuslyn vir R660 ‘n nag en dit slaap 4 en ons kry nog gereeld ‘n bottel wyn en vars vrugte gratis. Ook is daar ‘n groot balkon waar ons heerlik sans kan sit en kyk hoe die son sak. ‘n Tweede plek, net buite die stad van Dubrovnik met ook ‘n wonderlike uitsig oor die kuslyn het ons gewoon teen R740 ‘n nag. Kaapstad kan dit nie aanbied teen R2000 ‘n nag nie! So jammer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.