Só wil Mashaba SA politiek verander

Herman Mashaba se nuwe party genaamd ActionSA. (Foto: ANA)

Action SA, die politieke party onder leiding van die voormalige Johannesburgse burgemeester Herman Mashaba, wil die Suid-Afrikaanse politiek verander met die manier waarop hulle hul kandidate vir vanjaar se munisipale verkiesings aanwys.

Mashaba en die party se nasionale voorsitter, Michael Beaumont, het Dinsdag tydens ʼn virtuele mediakonferensie in besonderhede uiteengesit hoe die stelsel sal werk.

Action SA se kandidateproses sal volgens Mashaba daarop gemik wees dat kiesers vir mense eerder as vir partye stem, in elk geval in Johannesburg, die Tshwane-metro in Pretoria en die Ekurhuleni-metro aan die Oos-Rand. Dit is die enigste drie plekke waar die party aan die verkiesing gaan deelneem.

Volgens Mashaba is ʼn nuwe stelsel nodig omdat politici tans hul setels bekom en behou weens hul lojaliteit aan hul party, eerder as aan die kiesers, en beslis nie danksy hul vermoëns nie.

Hulle plaas dus partybelang bo landsbelang, en Action SA wil só in die drie Gautengse metro’s die mag terugplaas in die hande van die kieser.

Beaumont het verduidelik dat Suid-Afrikaners wat wil registreer om as Action SA-kandidate aan die verkiesing deel te neem voor 30 April moet registreer by actionsa.org.za/vote.

Die party sal dan nagaan of hulle aan al die wetsvereistes vir kandidate voldoen, en of hulle lede van ander partye is wat poog om ActionSA se prosesse te infiltreer en te saboteer.

Die voornemende kandidate sal dan geleentheid kry om hul wyke te deurkruis met ʼn petisie waarop lede van die publiek hulle kan steun. Die drie kandidate met die meeste petisiesteun in ʼn bepaalde wyk sal dan op 30 en 31 Mei in ʼn voorverkiesing teen mekaar te staan kom. Die wenner sal ActionSA se kandidaat wees.

Lede van die publiek in die drie tersaaklike metro’s wat in die voorverkiesing wil stem, moet voor 24 Mei op actionsa.org.za/vote registreer om dit te doen.

Volgens Mashaba sal dieselfde stelsel gebruik word om die kandidaat uit sy/haar posisie te verwyder indien hy/sy wykraadslid word en die kiesers met hom/haar ontevrede raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Fedup ·

Well mashaba, not a bad idea.
It will be a refreshing experience to get rid if incompetent people in higher positions.
Just one wee problem.
Those incompetents have extended families and friends in high places.
How do we get rid of them?

Therese ·

Herman Mashaba se uitval met die DA moet een van die mees betreurenswaardige gebeure in dié party se bestaan wees, want ‘n mens sal ver moet soek om nog ‘n sélfgemaakte sakemagnaat met uitstekende politieke vaardighede te vind.
Wat het fout gegaan, want vir enige buitestaander kom hy voor as ‘n man wat ‘n gróót aanwins vir die DA se strewe na swart stemme kon wees.
Die feit dat Mashaba as burgemeester wyslik meer aandag en geld aan agtergeblewe woonbuurtes van JHB wou skenk, het hopelik nie op kortsigtige wyse teen hom getel nie.
Voorspoed toegewens aan enige opposisie teen die regering.

Jack ·

Hoeveel van die stemmers gaan nou omgekoop of gedwing word om te stem. Die feit dat dit nou n nuwe naam dra beteken nie dat die kandidate moreel verander en eties korrek gaan wees nie. Hier lyk my kan net groter wedywering vir die beursie ontstaan.

Piet parys ·

Hoeveel van die stemgeregtigdes ken die persone se agtergrond en nie wat hulle dink die persoon is nie. Net weer n kwessie van hoe meer sigbaar jy is hoe meer stemme kry jy. Dit het eerder tyd geword dat politieke kandidate TRONK toe gaan wat beloftes maak en wat nie uitgevoer word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.