Só word Westdene-busramp 39 jaar later nog onthou

Altesaam 42 hoërskoolleerders is dood in die Westdene-dam toe die munisipale bus waarin hulle vervoer is in die dam beland het. (Foto: Facebook)

Op 27 Maart 1985 het 42 hoërskoolleerders in die Westdene-dam naby Johannesburg verdrink toe die munisipale bus waarin hulle huis toe vervoer is, die pad byster geraak het en in die dam beland het.

Vandag, 39 jaar later, kan diegene wat daar was die dag soos gister onthou. Daar is egter steeds sommiges wat voel die ware helde van die dag, soos Pieter Koen – ʼn matriekleerder wat sy lewe verloor het nadat hy vyf medeskoliere uit die water gered het – word nie volkome vereer vir hulle heldedade op daardie tragiese dag nie.

Noodlottige Woensdagmiddag

Dit was ‘n noodlottige Woensdagmiddag. (Foto: Facebook)

Dit was ʼn Woensdagmiddag, slegs twee dae voor die skoolvakansie. Soos gewoonlik het die geel dubbeldekker- munisipale bus skoliere van die Hoërskool Vorentoe vanaf Rossmore na hul huise in Westdene, Triomf en Newlands vervoer.

Aan die stuur was die 41-jarige Willem Horne, wat glo erg was oor die skoolkinders en gewoonlik vir hulle popmusiek oor die bus se radio gespeel het.

Die atmosfeer in die bus is gemoedelik; die vakansie is om die draai. Aan die voet van die Randse Afrikaanse Universiteit begin die bus soos gewoonlik die Westdene-dam oorsteek. Die bus beweeg dan na links, bars deur die damversperring en ploeg regoor die middel van die brug te midde van ʼn gegil en geskree van die kinders 10 meter verder in die dam.

Die bus begin stadig sink en oral begin kinders in hul maroen skooldrag verskrik en verward by die oop vensters uitpeul.

Onwaarskynlike helde gebore

Pieter Steyn (in sy onderbroek) en sy kollega, Chris Oelofse, is op hierdie foto te sien. (Foto: Facebook)

Verskeie volwasse mans in die nabyheid spring dadelik in om te help, maar in hierdie oomblikke van chaos is ook ʼn paar kinderhelde gebore.

Pieter Steyn, wat self daardie dag in die water gespring het in ʼn poging om kinders uit die water te red, sê dié dag is nog vars in sy geheue.

Sy skof by die burgerlike beskermingsbeheerkamer in die burgersentrum sou amper begin. Hy het ʼn pak gedra omdat hy die oggend in die hof getuig het teen ʼn dronkbestuurder wat hy laat opsluit het.

“Ek en Max Steinbach, ons toesighouer, het gesit en gesels toe ons skielik oor die radio hoor hoe ʼn verkeersbeampte sê ʼn bus wat pas verby hom is, het in die dam beland. Ek, Max en ʼn kollega, Chris Oelofse, het in die kar geklim en gejaag,” onthou Steyn op Nagkantoor se Facebook-groep.

“In my jare by brandweer, ambulans en verkeer het ek nog nooit so vinnig gery nie. By RAU het ek [my klere] begin uittrek ná berigte deurgekom het dat daar baie kinders in die dam is. My kennis as kind langs die dam was toe van groot waarde,” vertel Steyn.

‘n Koerantberig wat melding van Pieter Koen se heldedaad maak. (Foto: Argieffoto)

“Toe ons stop het ek net in my onderbroek in totale chaos gespring. My eerste gewaarwording was kinders by die wal wat te hoog is om uit te kom. Sommige van hulle het verbete vasgeklou aan hul tasse. Ek het besef dat hulle in die pandemonium om uit te kom mekaar gaan verdrink.

“Ek het aan hulle geskree om hulle tasse te los en na die riete wat naby was te swem. Ek het toe na die bus geswem en al die meisies op die dak laat sit. Ek het toe afgeduik en in zero sig gevoel vir vlees. So het ek ʼn paar kinders uitgebring. Elke keer as ek bo gekom het, het ek die kinders in die dam na die kant gejaag.”

Die paniek was onbeskryflik, onthou Steyn.

“Die kinders wat ek uitgebring het, het geen tekens van lewe getoon nie aangesien dit omtrent 15 minute ná die ongeluk was. Dit was nie meer ʼn reddingsoperasie nie, maar ʼn soek-en-herwinningsoperasie.

“Tog het ons – ek weet nie wie nog nie – begin om resussitasie op ʼn seun toe te pas op die dak [van die bus]. Ons het twee oorledenes gebruik om sy kop bo die water te hou. Ná ʼn wyle het ek hom gevat en na die wal geswem waar daar teen dié tyd al ʼn paar ambulanse was. Hy was Anton Bellingan en het oorleef.”

Skielik was alles in die water en op die bus verby.

Anton Bellingan in die hospitaal ná die ongeluk. (Foto: Verskaf deur Pieter Steyn)

“Soos die lyke uitgebring is, het ek met hulle na die wal geswem. Die nuusfoto van die jaar is waar ek by die wal is met ʼn lyk in my arms. Op die brug lê lyke onder komberse in rye. Skok en ongeloof. Lyke is vir my niks vreemds nie. Ek is opgelei as brandweerman en ambulansassistent. Tog het ek nog nooit so ʼn toneel gesien nie. Geen bloed, maar so baie lyke.”

Steyn is met ʼn Wolraad Woltemade-medalje vereer vir sy heldedade daardie dag. “Die sertifikaat lyk mooi in sy raampie, maar dit is ook ʼn herinnering aan ʼn dag wat ek moes deurmaak wat ek eerder sou wou laat verbygaan.

“Beskou ek myself as ʼn held? Nee! Ek het net gedoen wat in my vermoë was.”

Steyn hou vol die ware held van die tragedie was Pieter Koen, ʼn matriekseun wat vyf kinders gered het voordat hy self verdrink het.

“Nadat hy dit veilig gemaak het uit die bus, is hy telkemale terug in die bus om sy maats te red. Hy sou só sy lewe opoffer. ʼn Ware Wolraad Woltemade. Dit grief my dat daar ná 39 jaar nog nie ʼn standbeeld vir Pieter Koen opgerig is waar die bus in die water beland het nie,” sê Steyn.

Die nadraai van die gebeure

Die toneel op die leerders se begrafnis was hartverskeurend. (Foto: Argieffoto)

Karen van Sittert, daardie jaar ʼn matriekleerder aan Hoërskool Vorentoe, het in 2021 reeds haar aangrypende verhaal gedeel, wat mense diep geroer het.

Van Sittert onthou hoe sy en ʼn groepie maats, wat saam aan aktiwiteite soos volkspele en koor deelgeneem het, die oggend voor skool onder die bome op die skoolterrein gestaan en lag en gesels het.

ʼn Vriendin, Elsa van Heerden, het haar die oggend nog geterg en die atmosfeer was skertsend en lighartig, maar die volgende oomblik het Pieter (Petrus) Koen, wat uiteindelik een van die helde van die dag sou word, vir sy maters gevra: “Wat dink julle sal gebeur as ons almal vanmiddag moet doodgaan? Wat?”

Etlike ure later het Koen saam met 41 van sy medeskoliere in die Westdene-dam verdrink.

“Die datum 27 Maart is soos ʼn tatoeëermerk permanent op my hart aangebring. Dis ʼn swart merk wat nooit sal weggaan nie. Dit het ʼn geweldige effek op my gehad, maar met die tyd het die impak bietjie vir bietjie minder geword,” het Van Sittert vertel.

Die toneel op die leerders se begrafnis was hartverskeurend. (Foto: Argieffoto)

Een van die goeie nagevolge van die ramp was dat Johannesburg sy rampbestuurplan herskryf het om massaverdrinkings daarby in te sluit, tesame met mynrampe, bomvoorvalle, brande en vliegongelukke.

In 2009 is ʼn gedenkteken op die noordwestelike oewer van die Westdene-dam opgerig om die ramp te gedenk, en die skool hou ook jaarliks ʼn gedenkdiens vir die 42 slagoffers.

“Jy vergeet nooit heeltemal daarvan nie, maar party van die fasette raak sagter. ʼn Mens sal altyd na die sorgvrye tienervriendskappe verlang, maar dan leer jy ook om aan te gaan. Jy leer om die mooi te onthou. Terselfdertyd het ek geleer jy moet dáár wees vir die mense vir wie jy lief is en wat jou liefhet.

“Binne letterlik ʼn oogwink kan iets ingrypend gebeur en dinge kan so verander dat niks daarna ooit weer dieselfde sal wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Adrie ·

Ek onthou die dag soos gister….. Ek was in St 2 en my niggie, Hester was op die bus en is een van die oorledenes gewees. Ons familie was verpletter. Ek onthou die somber atmosfeer; die land het getreur. Die foto’s van die kinders was in die koerant gewees en vir baie lank daarna is daar vir die gesinne gebid tydens huisgodsdiens in die aand. Dit was verdrietig.

Elize ·

Die was n bitter hartseer dag. Op my jonger sussie se verjaardag.

Anel ·

Daar was gwdinne wat al hul kinders verloor het. Baie van die kinders was ook polisiemanne se kinders. Dit was ‘n vreeslike dag.

Casper ·

Ja dit was ‘n tragedies wat my vandag nog bybly net soos die treinramp by Henlie on Klip.Ek kry nou nog trane in my oë as ek net daaraan dink,maar tereg is die werklike helde nie vereer nie.

Danie ·

Daardie dag voel soos gister was n jong polisieman in JHB.Baie tragies maar nie vergete.

Keelvol ·

Ek onthou n storie van n weermag troepje wat by elke kind se graf n wit Roos geplas het. As ek reg onthou was daar n artikel oor dit gewees in die Rapport van deestyds.

Bolandse Nooi ·

Ek wonder steeds: WAS dit werklik ‘n ongeluk? Is/was die bestuurder, Willem Horne, nie dalk die “method to madness” om ‘n paar “whiteys” die ewigheid in te stuur nie? Was daar nie dalk gepeuter met die bus se stuurmeganisme/remme nie? Die feit dat hy “erg” was oor die kinders en vir hulle spesiaal popmusiek gespeel het oor die bus se radio, kan net ‘n rookskerm wees. Dit klink na ‘n samesweringsteorie, maar dink net bietjie daaroor … vreeslike goed het gebeur in daardie tyd, met die toe-nog-verbode ANC wat ondergronds te werk gegaan het, bomme wat geplant is wat onskuldige mense se lewens geëis het, sabotasie van nasionale infrastruktuur – alles ‘ter wille van’ die “struggle”.

Wildemien ·

Elke keer wat ek iets lees oor die Westdene busramp, huil ek. Ek was in Std 5 en my Pa onderhoof by ‘n ander Hoërskool ver weg op die platteland. Ek onthou dat Hoërskool Vorentoe agterna suikerlepels met die skoolwapen op verkoop het vir ‘n fondsinsameling. My ouers het nou nog daardie suikerlepel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.