Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het Vrydag gesê die vrystelling van sy verslag, oor veiligheidsopgraderings aan president Jacob Zuma se private woning in Nkandla in KwaZulu-Natal, gaan vertraag word.
“Die eenheid het tot onlangs aangedui dat die verslag teen die einde van Junie vrygestel sou word,” het Boy Ndala, woordvoerder van die SOE, gesê. “Ongelukkig, weens omstandighede buite die eenheid se beheer, sal die SOE nie die sperdatum haal nie.”
Ndala het bevestig die verslag sal binnekort vrygestel word. “Die eenheid is hoopvol dat die vertraging nie meer as twee weke sal duur nie en werk hard om die verslag te finaliseer.”
Hy het bygevoeg die verslag kan nie afgehandel word voordat sekere prosedures voltooi is nie. “Sodra ons in ʼn posisie is om aan te dui wanneer die prosesse gefinaliseer gaan word, sal ons ʼn verklaring in die verband uitreik.”
Die SOE het op 12 Junie bevestig hy het die voorlopige verslag aan Zuma oorhandig.
Thuli Madonsela, openbare beskermer, het in Maart vanjaar haar Nkandla-verslag bekend gemaak. Sy het bevind dat Zuma onbehoorlik by die opgraderings, ter waarde van R246 miljoen, gebaat het. Madonsela het Zuma 14 dae gegee om te reageer, en aangedui dat hy vir sommige van die verbeteringe moet betaal. Zuma het by die spertyd gehou, maar wou nie breedvoerig daarop kommentaar lewer nie. Hy het op 1 April skriftelik aan die vorige speaker bevestig hy sal wag vir die uitslag van die SOE se ondersoek, aangesien hy dié bevindinge saam met dié van Madonsela wil oorweeg. -SAPA
Daar word nooit n sperdatum gehaal, o ja hul steur hul nooit aan enige sperdatum nie. AFRIKA tyd!!!!