SOE slaan toe op diamantmaatskappy

Lede van die spesiale ondersoekeenheid en die Valke het Donderdagoggend op die kantoor toegeslaan. (Foto: SOE/Twitter)

Ondersoekers van die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE), met die hulp van die Valke, het Donderdagoggend in ʼn klopjag op die kantoor van Alexander Bay Diamond Company in Johannesburg toegeslaan as deel van ʼn voortgesette ondersoek na bedrywighede by Alexkor, die staat se mynmaatskappy.

Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër toestemming gegee dat bewerings van korrupsie en wanbestuur rakende die bemarking, waardasie en verkoop van diamante wat spruit uit ooreenkomste wat Alexkor met sekere diensverskaffers aangegaan het, ondersoek kan word.

ʼn Lasbrief gee die SOE-ondersoekers toestemming om onder andere bankstate en selfoonrekords te bekom, deursoekings en beslagleggings te doen en getuies te ondervra.

Die SOE is by magte om self siviele stappe in die hooggeregshof of ʼn spesiale tribunaal van stapel te stuur om stappe te doen oor enige voorvalle van korrupsie, bedrog of wanbestuur wat die ondersoek moontlik kan blootlê.

Alexkor word nes verskeie ander staatsinstelling betrek by bewerings van grootskaalse staatskaping.

Die Zondo-kommissie van ondersoek het vroeër ʼn lang lys van aanbevelings – om boosdoeners by die maatskappy te vervolg – gedoen. Luidens die kommissie se verslag het Malusi Gigaba, destyds minister van openbare ondernemings, in 2012 ʼn nuwe raad by Alexkor aangewys. Dié het bande met die omstrede Gupta-familie gehad met die voorsitter, Rafique Bagus, wat na aan die familie was en selfs die omstrede Gupta-troue in 2013 bygewoon het.

Tydens die raad se termyn het Alexkor ʼn vennootskap met ʼn maatskappy, waarvan die meerderheid aandele aan Gupta-meeloper Kuben Moodley behoort het, aangegaan om Alexkor se diamante te bemark en te verkoop.

Die maatskappy, Scarlet Sky Investments (SSI), het egter die kontrak gekry sonder dat hy ʼn lisensie gehad het om diamante te verkoop en ook sonder ʼn bewese geskiedenis in die diamantbedryf. Die tenderkomitee het dit geïgnoreer.

Die staatskapingskommissie het later egter bevind die bod moes uit die staanspoor gediskwalifiseer geword het.

SSI het nietemin die kontrak gekry en glo R2 miljard se diamante uit die ooreenkoms bekom, selfs sonder ʼn lisensie. Volgens die Zondo-kommissie is Alexkor boonop heelwat minder betaal vir diamante en is dit verkoop teen pryse wat aansienlik laer as die markprys was.

Die kommissie het onder andere aanbeveel dat die optrede van lede van die tenderkomitee, asook dié van sommige lede van die raad, met die oog op strafregtelike vervolging ondersoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frank ·

So onbevoeg en skelm as kan kom en dan word daar aangedring dat hulle as “gelykes” beskou moet word en selfs diskriminerende wette ingespan word om “gelykheid” af te dwing

Nicholaas ·

Stadig maar seker val die pione, dit fat cats se beurt kom ook.

Stephen ·

As jong diamantgradeerder het ons opgekyk na Alexkor wat n leier in diamant ontginning was. Net nog n voorbeeld van die verwoestings pad van die ANC en hulle meelopers.

lodewyk ·

Dus hoekom die ANC en rooikappie SA myne so graag wil nasionaliseer,hulle will skep en alles vernietig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.